Slaap en word mooier!

Navorsing wat by Stockholm Universiteit gedoen is, het nou bewys dat wanneer ʼn vrou minder slaap, sy minder aantreklik is.

In hierdie studie is vroue in twee groepe verdeel. Die een groep vroue het twee nagte na mekaar 7½ ure per nag geslaap. Die ander groep het twee nagte 4¼ uur per nag geslaap. Na die tweede nag is foto’s van beide groepe vroue geneem. Verskeie persone is gevra om na die foto’s te kyk en die vroue se aantreklikheid te evalueer. Die vroue wat minder geslaap het, het as minder aantreklik oorgekom. So dit lyk of ʼn mens hieruit moet aflei dat as jy mooi en aantreklik wil wees, jy net langer moet slaap! Ek neem aan dat dit net so geld vir die manne ook. Ek is sommer na net één nag se min slaap befoeterd!

Maar dit gaan ook nie veel help om jou slaap onbeperk te vermeerder nie. Eerstens neem ek aan dat elkeen van ons se aantreklikheid ook maar sy beperkings het. :-) Tweedens, dit gaan jou ook nie help om jou lewe om te slaap om mooier te lyk nie, want die armoede gaan jou oorval!

Spreuke 20:13 sê:
“As jy nie wil arm word nie,
  moenie lief wees vir slaap nie;
staan vroeg op, en jy sal
  oorgenoeg hê om te eet.”

lyn_3.png

Hennie Stander is ’n prof in Grieks, maar wanneer hy preek en skryf, gebruik hy maklike Afrikaans. As predikant ken hy die vrae wat gelowiges kwel. As teoloog weet hy waar om na die antwoorde te gaan soek. Na die Here is sy vrou, kinders en kleinkinders sy grootste liefdes. En oor dit alles skryf hy al jare in boeke en sy baie bekende blog (www.henniestander.co.za).

Dit lyk deesdae of niemand meer glo nie. En diegene wat wel leef vanuit ’n verhouding met hulle Skepper, raak skaam om dit te sê. Nie Hennie nie! In Hoekom ek nog glo vertel hy uit sy eie lewe van die werklikheid wat die Here vir hom is. Hy getuig van groot en klein wonderwerke, maar veral van sy Verlosser. Bestel hierdie boek in sekondes by voelgoedwinkel.co.za en lees dit in een dag deur … Dit sal jou geloof  lewenslank versterk.