Vroue maak soms foute

Daar is sekere dinge wat vroue net anders as mans doen. Vroue maak spesifieke foute as dit by luister kom. Lees deur die lys foute en doen ’n bietjie introspeksie.

Jy kerm oor enigiets net om emosioneel te ontlaai

Jou man nooi dalk (onverwags) vriende vir aandete – en jy het vis en mash in gedagte gehad. “Ag, dis Gert-hulle. Hulle sal nie omgee nie,” verdedig hy. Terwyl jy kerm oor die feit dat hulle mash sal moet eet, gaan dit eintlik daaroor dat jy voel hy respekteer jou nie. Hy neem jou nie eers in ag met sy besluit nie. As jy feite en gevoelens verwar, gaan hy nie weet waaroor die probleem nou eintlik gaan nie.

As jy lank geïrriteerd of seergemaak voel, kan jy sommer maklik ’n rusie begin soek om van jou eintlike emosie ontslae te raak. Omdat jy met iets ongeldigs (volgens jou man) by hom aankom, gaan hy jou heel waarskynlik hanteer asof hy nie weet waar jy uitval met jou verskriklike reaksie nie. Met ’n man gaan jy nie baie ver kom hiermee nie.

Party vroue se manipulasie gaan selfs een stappie verder. Word jy aspris hartseer of maak jy of jy seergemaak is net om jou sin te kry? Is jy nukkerig net om hom sover te kry om te luister of dalk vir jou jammer te sê? Onthou dat emosie van God kom, maar nie manipulasie nie! Praat eerder vroeër as later. As jy voel daar is ’n krummel in jou bra wat krap, skud die ding uit. As jy opkrop, gaan jy ooremosioneel wees teen die tyd dat jy afblaas.

Jou tydsberekening vir hartsake praat is sleg

Met manne is die “regte tyd” allerbelangrik. Moenie oor emosionele dinge wil gesels as hy besig is of reeds geïrriteerd is oor iets anders nie.

Moet dit ook nie te ernstig opneem dat ons nie kwaad moet gaan slaap nie. As jy laataand aan jou man wil karring en hoop dat hy so vars soos ’n lentebriesie gaan reageer, slaan jy die bal heeltemal mis. Vra vooraf wanneer die beste tyd is om ’n bietjie te gesels.

As hy nie geïrriteerd, moeg of besig is nie, sal hy jou hart net soveel makliker kan hoor. As hy eers later kan gesels as wat jy gehoop het, moet jy probeer om nie intussen soos ’n oorlogskip in vredestyd na hom te gluur nie.

En onthou ook dat dít wat manne aan die buitekant wys, nie noodwendig is wat hulle aan die binnekant voel nie. ’n Man is gemaak om feite in te neem en rasioneel te dink oor wat hy voel. Hou op soek vir ’n traan wat by sy wang afloop of ’n ogie wat jammerlik na jou kyk. As jy lank genoeg gaan aandring om te weet hoe hy voel, gaan hy na ’n ruk wel sê – keelvol, moedeloos, geïrriteerd.

Pasop om nie verkeerde aannames te maak nie

Ons beplan soms ’n hele oorlog (en wen hom reeds in ons koppe) gebaseer op aannames. Jy neem dalk verkeerdelik aan dat hy die uiteetplanne kanselleer omdat hy seker eerder by die huis wil bly en TV kyk.

Eintlik is sy planne dalk om pizza te kry en jou te verras met ’n goeie chick-flick by die huis... (Ons mag mos maar droom, of hoe?) Teen die tyd dat hy by die huis kom, is jy ooremosioneel en moontlik nie heeltemal jouself nie. As hy jou aanname verkeerd kan bewys, gaan hy jou “feitelike” aanname én jou emosie van die tafel afvee. Maak doodseker dat jy nie verkeerde aannames maak nie.

 

 

Website Security Test