Sewe redes waarom jy moet saamkom!

Jy is ’n vrou vir jou man en ’n ma vir jou kinders. Jy dien in die skool se beheerraad, is al weer op die kerk se kermiskomitee en reël dié jaar die familiereünie.

Jou skoonma word 80 en jou oudste mondig. Die yskas is leeg, die hondekos op, en Sussie het van haar sywurmtaak vergeet! Wanneer jy na werk noodgedwonge die strate invaar op soek na ’n moerbeiboom, draai jy die musiek ’n bietjie harder en dink vir ’n oomblik hoe dit sou voel om alles vir ’n dag of drie agter te laat en net te verdwyn...

Jy verdien hierdie wegbreek!

Almal kort soms ’n wegbreek, maar dis asof die vrou van die huis nooit daardie geleentheid kry nie. Selfs ’n gesinsvakansie word werk as die kinders maats saamneem of die familie kom kuier, want dis nie asof die skottelgoed en wasgoed hulleself gaan was nie! Die Net vir die Girls-bootreis is ’n voete-in-die-lug-vakansie vir jóú wat begeer om ’n blaaskans te kry. Maak reg vir ’n opwindende reis vanaf Durban na die Portugese Eiland, gelaai met aksie, inspirasie, musiek, komedie en geestelike pitkos.

Sewe redes waarom jy moet saamkom!

1. KYK WIE KOM SAAM
Kom luister na Sorina Erasmus en Jak de Priester se treffers. Gretha Wiid se inspirerende praatjie en Susan Coetzer se eenvrouvertoning, Koek en Tert, sal jou laat lag dat die trane loop. Tracey Lange (aanbieder van BRAVO!), Nadia Beukes (van Groot Ontbyt) en Venessa Schoeman (redakteur van Finesse) sal seker maak dat die pret tot laatnag aanhou.

2. BASTA MET “EK MOET”!
Vergeet van “ek moet nou, ek moet gou”. Op die boot “moet” jy net ontspan en doen wat jy wil. Jy gaan waarskynlik nie selfoonopvangs hê nie en jy hoef beslis nie te kook nie. Jou tas word voor jou kajuit se deur af- en opgelaai en selfs jou bed word vir jou opgemaak.

3. GEHALTETYD
Geen mans, geen kinders – net jy en jou vriendinne wat ure lank klets en kuier. Gaan kyk die vertonings, lê op die dek langs die swembad, vang die laaste tien jaar se gesprekke op en neem selfies saam met die bekendes. Skep herinneringe!

4. STOP DIE STRES
Hierdie een is jou sorgvrye af naweek. Jou baas kan jou nie in die hande kry nie en jou man is beter met die kinders as wat jy dink. Niks is nou so belangrik dat dit nie kan wag tot ná die naweek nie. Dis jou beurt om te herlaai. Pak jou tas uit (net een maal) en geniet die uitsig en vars seelug!

5. EK OP MY EILAND
As jy nog altyd van ’n eksotiese eiland met skitterwit strande gedroom het, kan jy by die Portugese Eiland afklim. Daar is allerhande vrugte en drankies beskikbaar en jy kan vir ’n hele dag in die see swem, terwyl die Sinfonia voor anker lê en wag.

6. BON APPÉTIT
Jy het in jou lewe nog nie geëet soos op die MSC Sinfonia nie. Trek jou hoëhakskoene aan vir die driegangaandetes en kom proe aan kosse uit verskillende lande, om nie eers te praat van die daaglikse buffetontbyt en 24/7 pizza- en middernagfeeste nie.

7. NET GIRLS!
Vir die eerste keer wil Finesse die hele skip met ons girls volmaak. Bring jou beste vriendinne en koop so gou moontlik julle kaartjies vir hierdie eenmaal-in-’n-leeftyd-wegbreek van 3 tot 6 Maart 2017.

Skakel MSC direk by 011 807 5111, en onthou om te noem dat jy ’n Finesse-girl is. Sien jou daar!

 

lyn_3.png

Jy kan ook aanlyn bespreek deur hier te kliek.

Maak seker jy kliek op die Finesse Cruise, anders gaan jy uitmis op belangrike kommunikasie.

Vir meer inligting stuur ’n epos na bootreis@finessemag.co.za.

lyn_3.png

 

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test