Laat jou kind word wat hy moet

Baie ouers sukkel om hulle kinders te laat ontwikkel soos die kind wil, in plaas van soos die ouer wil. Die balans tussen dissipline en die kind se vryheid om te ontwikkel is nie aldag maklik nie.

As jou kind soos jy begin lyk, is daar probleme

Elkeen van ons het ’n kompasnaald, en elkeen van ons se ware noord verskil. Ouers hou dikwels nie daarvan as hulle kinders se noord nie húlle noord is nie. Daar is dinge wat jou kind aantrek, maar jou dalk glad nie aanstaan nie.

“Nee, my kind, ’n mens kan nie ’n lewe daarvan maak nie,” is baie ouers se manier om hulle kind te ontmoedig om ’n sekere beroep te volg. Maar miskien het jý as ouer dalk nie daardie spesifieke aanleg wat jou kind het nie. Al kan jý nie ’n lewe as ’n grimeerkunstenaar maak nie, kan sy dalk baie suksesvol wees.

Omdat jy die beste vir jou kind wil hê, sal jy haar probeer forseer in ’n rigting wat jy reken “beter” is. Maar besef jy dat jou kind se wêreld eendag radikaal van joune gaan verskil? Die lewenstoerusting wat jy so graag vir jou kind wil gee, is dalk iets wat jy glad nie het nie – vir ’n wêreld wat jy glad nie ken nie. Elke generasie se omstandighede verskil drasties en deesdae verander die wêreld selfs nog vinniger. Jou kind moet vir haar eie wêreld voorberei word, nie vir joune nie.

Die gevaarligte behoort te flikker wanneer jou kind soos jy begin lyk. Dan is die kanse goed dat jy waarskynlik besig is om droog te maak. As jou kind jou glad nie meer verras nie en jy niks nuuts of verrassend in haar sien of uit haar mond hoor nie, het jy haar klaar in jou boksie gedruk... Jóú boksie.

Moet ook nie ’n deksel op jou kind sit nie. Al doen jou kind nou swak in wiskunde, beteken dit nie sy kan geleer word om dit baas te raak nie. Dieselfde geld vir jou kind se temperament. Net omdat sy ’n sekere temperament het, beteken nie sy gaan altyd nét so wees nie.

Laat jou kind sy passie volg

Jy dink dalk dis wys dat jou kind in ’n finansiële rigting moet studeer. Sy onderwysers en die uitslae van sy aanlegtoetse wys dieselfde, maar al wat hy wil doen is kitaarspeel. Hoe nou?

Dis belangrik om te besef dat kitaarspel jou kind se passie is. Dit is wat sy hart laat klop en hom motiveer. As jy hom toelaat om dit te doen, sal jy hom nooit hoef te druk of te stoot om voort te gaan nie. Sy passie gaan die dryfkrag wees om ’n sukses van sy loopbaan te maak.

Bitter min mense studeer in die rigting waarin hulle aangelê is, en in meeste gevalle is dit as gevolg van hul ouers se invloed. Jy sus dalk jou gewete en laat jou kind iets “sinvols” studeer, maar eintlik gooi jy net ’n klomp geld in ’n gat wat nooit jou kind gelukkig gaan maak nie.

Voor jy jou kind akademies toerus, moet jy hom eers help om soveel as moontlik selfkennis op te doen. Hoe meer jou kind van homself weet, hoe makliker sal hy sy passie ontdek. Daar is baie oulike hulpmiddels, dikwels aanlyn beskikbaar, waarmee jy jou kind kan help om sy sterkpunte en aanlegte te ontdek. Goed soos breinprofiele, persoonlikheidsprofiele en leierskapprofiele – beslis die moeite werd om uit te probeer.

Só motiveer jy ’n kind sonder rigting

Sommige kinders sal vir die res van hulle lewe eksterne motivering nodig hê, tensy hulle “aan”-knoppie gevind word. In temperamenttegnologie word daar na hierdie tipe kind verwys as ’n denneboom. Hulle het gewoonlik net een passie en as daardie passie nie ontdek word nie, gaan hulle nooit vir enigiets lus wees nie.

’n Denneboom word glad nie deur geld of materiële dinge gemotiveer nie. Wen of verloor is nie vir hulle belangrik nie. Jy kan hulle ook nie straf deur byvoorbeeld televisie vir ’n week of twee weg te neem nie – hulle gee nie om nie! Daar is in elk geval nie regtig iets op televisie wat hulle wou kyk nie... Dennebome is baie tevrede kinders, dis hulle óuers wat ontevrede is.

Al manier hoe jy ’n denneboom aan die gang kan kry is om haar te help om haar passie te ontdek. Vat haar kompas naby ’n klomp verskillende dinge en hou fyn dop waarheen die naald draai. Aanvaar dat sy net één passie gaan hê en dat dit heel moontlik nie vir jou baie opwindend gaan wees nie. As sy aan meer dinge blootgestel word, is die kans beter dat sy haar passie gaan ontdek. Sy gaan ’n spesialis in iets wees – nie ’n doener van alles nie. Dis die tipe kind wat na skool iets doen wat die wêreld verander, juis omdat sy ’n “arendsooguitkyk” op die lewe het. Sy sal dinge lank dophou, totdat sy daardie een ding sien waar sy ’n verskil kan maak.

Al is dit vir ouers baie moeilik is dit soms nodig dat ’n denneboom misluk. Ongelukkig is ’n mislukking soos ’n toets wat gedruip word die enigste manier waarop ’n denneboompie kan ontdek dat lui-wees nie die beste opsie is nie. Liefde beteken soms dat jy iemand die pyn van mislukking moet laat beleef – selfs al is dit jou kind. As jy jou kind die heeltyd teen teleurstelling buffer, verlam jy haar en verdoem haar tot ware mislukking in die lewe. Onthou, jy misluk nie noodwendig wanneer jy verloor nie, maar eerder wanneer jy glad nie probeer nie.

Raak betrokke by jou kind se wêreld

Word eerder deel van ’n denneboom se lewe in plaas daarvan om oor sy onbetrokkenheid te baklei. Gaan in sy kamer in en kyk wat hy op sy rekenaar doen – moenie baklei nie, vra uit en stel belang. Op hierdie manier kom jy in sý wêreld in. Hy is soos ’n oester en jy moet deur die dop breek.

Jy moet die pêrel gaan soek en gaan kyk wat gaan in sy kop aan, want hy praat nie met jou nie. Wanneer jy hom by die skool gaan oplaai en vra hoe sy dag was, sal hy sê: “Oukei.” As jy vra wat hy gedoen het, sal hy antwoord: “Nie veel nie.”

Daarom help dit nie jy vra hierdie tipe vrae nie. Jy moet bloot by hom gaan sit en kyk en luister. Sonder ’n wapen. Want as jy hom al op verkeerde manier probeer motiveer het, gaan hy dink jy is nie ’n veilige opsie om mee te gesels nie. Jy’t ’n sweep waarmee jy hom aanjaag... Gaan sonder daardie sweep! Vra eerder iets soos: “Verduidelik vir my hoe doen ’n mens dit?” Of: “Jy weet daardie speletjie waaroor ek altyd met jou baklei het – leer my hoe ’n mens dit speel.”

Jy leer ʼn denneboom ken deur op ’n nie-veroordelende, nie-ondervragende manier net te luister. Dan sal jy hoor wat in sy hart aangaan. En eers wanneer jy weet wat in sy hart aangaan, kan jy hom help om sy passie te ontdek.

Wil jy ’n afdruk van jouself grootmaak, of iemand wat met sy unieke vaardighede ’n wonderlike bydrae tot die wêreld kan lewer?