Helikopterouer? Ontspan ’n bietjie!

Henrietta Gryffenberg

 

lyn_3.png

GRATIS

 Baba, kleuter, tiener - hier is raad! 45 uitsendings van RSG se gewilde oggendprogram, Groeipyne, is nou in ’n boek saamgevat sodat jy dag en nag antwoorde en wenke kan kry.

Kliek HIER om jou GRATIS e-boek af te laai.

lyn_3.png

Die grootste vrees wat Henriëtta Gryffenberg het, is dat haar kinders iets kan oorkom. Sy vertel hoe sy die balans tussen oorbeskermend en versigtig handhaaf.

’n Paar dae gelede sou jy ’n gans ander storie gehoor het, maar hierdie week was daar ’n insident waar my kollega van sy selfoon beroof is. Ek het langs hom gesit en toe die mense my selfoon wou hê, het die verkeer gelukkig begin beweeg en kon ons wegry.

Toe ek by die huis kom, reg om aan my kinders wenke te gee as hulle in so ’n situasie beland, is ek behoorlik die leviete voorgelees. Emile (19) vertel my toe dat hy altyd ’n afstand tussen hom en die kar voor hom hou sodat daar plek is om weg te kom as daar iets gebeur. My kinders is waarskynlik minder naïef as ek.

’n Aksieplan as gevaar aan jou deur kom klop

Dis nie dat my ouers my nie beskerm het nie, maar my kinders leef in ’n heeltemal ander wêreld as die een waarin ek grootgeword het. Ons het op ’n plot gebly en ek was altyd buite sonder dat daar regtig enige gevare was.

Vandag se kinders word aan baie meer en ander soort gevare blootgestel. Ons bly ongelukkig in ’n land met baie geweld. Hulle sien in die nuus wat om hulle aangaan. My jongste, Ben (17), was maar sewe toe hy my waarsku om nie met ’n oop venster te ry nie.

[VIDEO] Kinders moet leer om dit self te doen

Tot verlede week het ek nie geglo dat sulke goed met ons kan gebeur nie. Nou dink ek anders. Miskien moet ek besef dat hierdie gevare wel oor ons pad kan kom en dat ek en my kinders ’n plan van optrede moet hê vir die dag as dit sou gebeur.

Nie ’n helikopterouer nie, maar wel bekommerd en versigtig

’n Helikopterouer is ’n ouer wat so beskermend oor hulle kinders is dat hulle hulle nie die kans wil gee om die gevolge van hulle keuses te ervaar nie. Nog nooit het ek gedink dat ek ’n helikopterouer is nie, maar dit is vir my moeilik om die balans te vind om nie my kinders onnodig bang te maak nie, maar hulle wel bewus te maak van die gevolge wat hulle besluite kan hê.

My man het ’n baie direkte strategie. Hy sal die seuns roep en vir hulle op die internet wys hoe lyk iemand met emfiseem wat te veel gerook het. Nou die dag het hy vir hulle ’n video op YouTube gewys van ’n ongeluk waar een persoon die geel lig geïgnoreer het en die ander persoon begin ry het toe dit nog nie heeltemal groen was nie. Dis vir my moeilik om eers na sulke goed kyk, maar wanneer jou kind oud genoeg is om dit te hanteer, is dit nie ’n slegte idee nie.

Treetjie vir treetjie laat jy jou kinders gaan

Hierdie bewusmaking en blootstelling aan gevare moet bietjie vir bietjie gebeur. Klein treetjies vir jou en jou kind.

Een van die grootste oomblikke van paniek in my lewe was ’n paar jaar gelede in ’n temapark in Hong Kong. Die seuns was agt en tien – daardie ouderdom waarop hulle al goed op hulle eie kan doen, maar ook nie eintlik nie. Ons gaan kyk na ’n dolfynvertoning wat deur sowat 3 000 mense bygewoon is. Halfpad deur begin Ben rooimiere kry. Hy wil gaan rides ry en beduie vir my watter een. Ek sê hulle moet solank in die tou gaan staan.

Waarmee ek nie rekening gehou het nie, is hoe meesleurend ’n massa mense is. Soos beeste in ’n kraal waar jy nie kan uitkom nie. Dis tóé dat ek paniekerig raak: Gestel hulle het verdwaal? Of sê maar ek het verkeerd verstaan waarheen hulle op pad is? Dit was angswekkend. Die kinders het ook bang geword en gaan staan en toe ek so om ’n draai kom, sien hulle my. Weereens het tydsberekening gekeer dat daardie dag in ’n tragedie eindig.

Na die tyd kon ek myself skop dat ek dit toegelaat het. Hier is ons in ’n vreemde land waar ons nie die taal kan praat nie, sonder selfone, maar ek het dit toegelaat, want ek wou gehad het hulle moet die dag geniet.

Soos kinders ouer word, word die vrese groter. Ben het pas ’n bromponie gekry. Ek was nie baie tevrede daarmee nie, maar hy ry in ’n veilige omgewing waar daar nie juis verkeer is nie. Met klein treetjies word hy aan regte verkeer blootgestel en geleidelik raak ek daaraan gewoond dat ek nie altyd daar is om my kinders te beskerm nie.

Wanneer my kinders êrens heen ry, is ek nie altyd daar nie. Al wat ek kan doen, is om my ervarings met hulle te deel – soos die keer toe ek op my selfoon gepraat het en ’n groot bedrag geld moes opdok net omdat ek nie binne die wet gebly het nie. Dit help nie om te preek nie. Verder moet jy maar bid dat jou kinders ook deur God beskerm word.

So gepraat van die wet: Sekere goed is in ons huis ononderhandelbaar. My kinders mag nie sonder ’n lisensie bestuur het nie, al is dit op ’n grondpad, want dit is teen die wet. Emile moes eers bestuurslesse kry voor hy op die snelweg tussen ons huis en sy skool begin ry het.

Daar is niks soos ’n ma se instink nie

Ek is nog steeds bang dat my kinders iets kan oorkom. Tot die dag van my dood sal dit een van my grootste vrese wees, want ek het gesien wat my sussie se dood aan my ma gedoen het. Op Facebook plaas mense foto’s van hulle kinders selfs jare na hulle dood. Dit is maar net nie natuurlik dat ’n kind voor ’n ouer doodgaan nie.

Ek bly baiekeer stil al is iets gevaarlik, want ek wil tog nie my kinders se pret bederf nie. My man en my seun speel nou die dag tennis voor hy aan ’n groot swemgala die volgende dag moet deelneem, sommer om die tyd om te kry voor ete.

My eerste reaksie was om te keer dat hulle verder speel omdat Ben kon seerkry en dan nie die volgende dag sou kon deelneem nie. Omdat ek nie weer die pretbederwer wou wees nie, draai ek om en sê niks. Skaars het ek begin wegstap of ek hoor ’n slag. Dit was toe (gelukkig) my man wat geval en seergekry het met Ben wat baie bekommerd oor sy pa kloek. Ek kon nie eers sê “ek het julle gesê nie”, want ek het teen my beterwete stilgebly.

Dit moet baie erg wees as jou kind iets oorkom as gevolg van ’n ding wat jy kon verhoed het. Dink net aan die skuldgevoelens wat ’n ouer het as hulle kind verdrink het omdat die hekkie na die swembad nie toe was nie. Ek glo ma’s het ’n natuurlike instink om gevaar te sien voor dit nog gebeur. Pa’s is daar om kinders uit te daag en te laat waag en ma’s is daar om te keer en te beskerm. Na hierdie instink sal ek luister tot die dag van my dood, want jou kinders bly jou kinders selfs al dink hulle jy is ’n feeks omdat jy hulle nie wil toelaat om te doen wat hulle wil nie. As hulle weet jy doen dit uit liefde omdat jy bekommerd is oor hulle en lief is vir hulle, sal hulle dit later sonder teëstribbeling aanvaar.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Koop vandag Hettie se “Kweek kinders met karakter” vir slegs R140.

 

lyn_3.png

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.