Gewoontes van gelukkige gesinne

gelukkige gesin

Verskillende persoonlikhede onder een dak kan ’n resep vir ’n ramp wees. Tog is daar gesinne wat gelukkig deur die lewe draf. Lees hier wat maak hulle anders.

Die rolverdeling is in plek

’n Rolverdeling in die huis met die ouers as hoofbesluitnemers mag dalk oudmodies voorkom, maar as almal presies wat elkeen moet doen, is almal dadelik rustiger.

Deesdae verkies die meeste ouers dat die kinders in die huis ’n sê oor gesinsake het. Daar is niks fout daarmee om jou kinders se belange in gedagte te hou wanneer julle as gesin besluite neem nie. Ouers moet net bereid wees om welwillend, maar ook ferm met hulle leiding te wees.

Hulle jak mekaar nie af nie

Dis nie realisties om kinders groot te maak met die verwagting dat almal altyd goedgesind teenoor hulle gaan wees nie. Hulle sal geterg en geboelie word in die gesin, by die huis en later by die werk. Natuurlik wil ons nie ons kinders so weerloos laat word dat hulle by die eerste belediging verkrummel nie.

Dit is waarom ’n billike hoeveelheid onvriendelike gedrag toegelaat word in gesinne, meestal tussen broers en susters, maar ook tussen ouers en kinders. Tog het ’n nuwe studie in Nieu-Seeland daarop gedui dat afknouery wat afkomstig is van die mense naaste aan ons die seerste maak.

Hoe julle met mekaar praat, is een van die belangrikste faktore wat bepaal hoe gelukkig en liefdevol ’n gesin gaan wees. Dit is die moeite werd om jou huis ’n gebied te maak waarin niemand verkleineer word nie.

Lag en avontuur is hulle leuse

Wanneer almal so besig of gefokus is om net deur die dag te kom, is hulle humorsin gewoonlik die eerste ding wat in die slag bly. Dit is so ’n groot jammerte dat ons geneig is om pret, lag en avontuur as luukshede te beskou waarby ons slegs uitkom as ons tyd het daarvoor.

Die waarheid is dat al hierdie dinge liggaam, siel en gees gesond hou en gesinslede nader aan mekaar bring. As julle die afgelope tyd nie lekker saam gelag het nie, vra jou af waarom en wat jy daaraan kan doen om dit te verbeter. Daar is dalk ’n speletjie of film wat almal aan die giggel kry.

Hulle stel belang in mekaar se doen en late

Alle gesinne sukkel met tye om by mekaar uit te kom en regtig tyd saam deur te bring as gevolg van die druk wat tyd, werk en ’n oorvol program kan veroorsaak. Boonop word kinders ouer en hulle persoonlikhede neem hulle in verskillende rigtings. Dié een hou van drama terwyl die ander ’n sportfanatikus is; dié een is gaande oor komedies terwyl die ander een eerder spanningsverhale lees.

Gelukkige gesinne bou ’n atmosfeer van wedersydse ondersteuning deur ’n doelbewuste keuse te maak om in mekaar belang te stel. Maak seker dat jy elke dag ten minste een keer stop en saam dans, ’n speletjie speel of selfs net ’n eenvoudige gesprek met jou kinders en jou man voer. Dit is die oomblikke wat jou gesin se geluk skep.

Hulle aanvaar dat almal foute maak

In ’n gelukkige gesin word mense toegelaat om foute te maak. Die kragtigste manier om ’n gesonde boodskap oor te dra is hoe ons onsself en ons eggenoot behandel wanneer ons ’n fout gemaak het. Vra jouself die vraag: Vergewe en vergeet ek volkome wanneer een van my gesinslede ’n fout maak?

Kinders sukkel dikwels om aan te beweeg en hulle gedrag te verander wanneer die gevoel van teleurstelling swaar op hulle druk. Dit is egter nie net kinders wat moet weet hulle is oukei voordat hulle kan begin om anders op te tree nie. Ons almal voel veiliger en gelukkiger wanneer ons weet ons word aanvaar net soos ons is.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.