“Ons foute kan omskep word in iets moois”

Jare gelede staan ek voor ’n groep teologiestudente. Ons was besig met ’n ernstige gesprek oor die kerk se roeping met betrekking tot die effek van misdaad in ons land.

Ek moes die spreker, ’n vrou met ’n hoë rang in die polisie, aan die woord stel. “Dis die dapper vrou van wie julle verlede week in die koerant gelees het,” sê ek, “die een wat die twee skelms eiehandig gemolesteer het.” Toe ek besef dat ek eintlik wou sê “arresteer”, was dit reeds te laat.
Jy kan jou indink wat die studente se reaksie op my foutjie was. En dít voor ’n geharde polisievrou wat nie eintlik iemand was vir grappies nie!

Ag, ek het al baie flaters in my lewe begaan, dikwels met die beste bedoelings. Maar ek troos my daaraan ons is almal mense en ons maak almal foute.

Tydens ’n toer in Israel het ons die hoëpriester se woning, die plek waar Petrus vir Jesus verloën het, besoek. In die kerkgebou, wat vandag daar staan, het die toergroep na ’n lesing deur die gids geluister. Ek het uitgestap, onder ’n boom gaan sit en Markus 16:66-72 gelees. Daar staan dat Petrus in trane uitgebars het toe hy besef het wat hy gedoen het.

Ek het my probeer indink hoe Petrus op daardie oomblik moes gevoel het. Sekerlik soos die grootste mislukking op aarde. Min het hy egter geweet wat die effek van sy donkerste oomblik op my en op ander mense sou wees.

Daar, by die einste plek waar die haan gekraai het, het ek gewens ek kon vir Petrus ’n boodskap stuur en sê: “Moenie so mismoedig wees nie, jou swakste oomblik gaan nog vir miljoene mense hoop gee!”

Dwarsdeur die eeue sou Christene Petrus se verhaal lees en voel: As daar hoop was vir Petrus, is daar hoop vir my. Wie weet hoeveel gewone, stukkende mense is deur die jare daardeur geïnspireer om God te vertrou om hulle ook te gebruik.

Ek was eenkeer by ’n skryfkursus waar Deon Meyer opgemerk het dat sy lesers dikwels die meeste identifiseer met die swakhede in sy karakters. Dis eintlik eers dan dat die betrokke karakter geloofwaardig word.

Dalk is dit waarom die Bybelskrywers nie doekies omdraai met die foute in God se mense nie. Die heilige Boek spaar ons geen detail nie. Dis vol moord, owerspel, lafhartigheid, dronkenskap, ongeloof, twyfel, bedrog... elke moontlike sonde, swakheid en teleurstelling wat jy jou kan indink. En dikwels deur die hoofkarakters, die “geloofshelde”!

Ons wil so graag suksesvol wees, ook in ons geloofslewe. Die geestelike pad word maklik net nog een van die wedlope van die lewe wat gewen moet word. Nog ’n kompetisie waarin ons moet presteer.

Ons Echo-gemeenskap bestaan uit mense van verskillende sosiale, ekonomiese en kultuurgroepe wat kies om saam te woon. Elke Sondag het ons ’n erediens in Engels (broken English!), sodat almal kan verstaan.

Nou die dag vertel ek hulle die storie van Stefanus en sê: “Steven was stoned.” Ek kon sien hoe ons jongmense skielik met nuwe aandag luister. Hulle wou dié goeie nuus hoor! “And Steven was killed with stones,” stel ek dit ’n bietjie duideliker.

Toe vertel ek hulle hoe onsuksesvol Stefanus waarskynlik moesgevoel het. Om gestenig te word is sekerlik die laaste reaksie waarop ’n mens hoop as jy die dag jou hart uitstort in ’n preek.

Daar staan darem dat hy Jesus aan die regterkant van God sien staan het en dat hy Sy woorde herhaal het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Maar hy het sekerlik nie gevoel sy preek was suksesvol nie. Dalk het hy eerder gedink: Ek het probeer, maar dit het nie gewerk nie.

Min het Stefanus geweet dat mense meer as tweeduisend jaar later, selfs so ver as die suidpunt van Afrika, nog oor sy getuienis sou praat.

Dit wys net weer dat God wonderlike dinge kan doen met ons “onsuksesvolle” pogings. Hy slaan ’n reguit hou met ’n krom stok. Hy maak lig uit duisternis en mooi dinge uit chaos. Hy doen dit vandag steeds in gewone, onvolmaakte mense se lewens.

Jaco Strydom is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

 

Website Security Test