Vitamiene vs eet

Kan die inneem van ekstra vitamiene gesondheid waarborg? Maak seker jy gebruik nie vitamiene as ’n verskoning vir ongesonde leefstylkeuses nie.

Is gesond eet goed genoeg?

’n Gesonde, gebalanseerde dieet behóórt al die individuele voedingstowwe te verskaf wat jy nodig het, maar dit is ongelukkig nie vandag meer moontlik nie, meen Lise Bryer, geregistreerde dieetkundige.

Volgens die Amerikaanse Departement van Landbou het kos eenvoudig nie meer dieselfde voedingswaarde as wat dit 50 jaar gelede gehad het nie. Dit is omdat groente en vrugte vandag selektief verbou word vir vinnige groei en hoë produksie. Dít veroorsaak dat groente en vrugte minder tyd het om voedingstowwe te bekom terwyl dit groei.

Verder volg nie almal ’n goeie, gebalanseerde dieet nie. Dis ook nie moontlik om sekere noodsaaklike voedingstowwe daagliks in die aanbevole hoeveelhede in te neem nie. Wat jy eet en drink, kan ook die opname van sekere voedingstowwe verhinder.

Daarom is dit belangrik om ekstra aanvullings te neem om al die regte voedingstowwe in te kry. Dit is belangrik om onder andere mineraalaanvullings te neem om jou skelet gesond te hou. Vitamien K2 is belangrik vir been- en hartgesondheid. Vitamien D3 kan moontlik kanker voorkom.

’n Gesonde dieet gee alles

Amanda Kuit, geregistreerde dieetkundige, se siening is dat voedingstowwe wat uit kos verkry word, beter geabsorbeer word.

In die 1990’s het die vitamienmark vinnig groei. Dit het ’n gier geword om vitamien- en kruie-aanvullings te gebruik. Studies begin egter bewys dat hierdie gier baie gevaarlik kan wees omdat mense wêreldwyd nie gesonder leef nie.

Vitamien D is een van die vitamiene wat baie vroue oor 40 saam met kalsium begin drink om osteoporose te voorkom. Studies toon egter dat hierdie kombinasie baie gevaarlik kan wees. Dit kan jou cholesterolvlak verder verhoog as jy reeds aan hoë cholesterol ly. Verder kan dit jou kalsiumvlak negatief beïnvloed en die vitamien D-vlak verlaag.

’n Goedgebalanseerde eetplan verskaf genoeg vitamiene wat beter geabsorbeer word. Die meeste studies dui aan dat indien ons vyf porsies groente en vrugte per dag eet, ons chroniese siektes kan uitstel en selfs voorkom. Gebruik ’n kleurkaart om seker te maak jy kry al die vitamiene en antioksidante in.

Wat sê navorsing?

In 2011 is navorsingsresultate in ’n tydskrif van die Association for Psychological Science bekend gemaak. Hierdie navorsing het bevind dat hoewel die gebruik van aanvullings toeneem, dit nie noodwendig verseker dat mense gesonder is nie.

Die studie het bevind persone wat daagliks ’n aanvulling neem, geneig is om swak eetgewoontes te hê en min te oefen. Hierdie mense beskou ’n vitamienpil as ’n “lisensie” vir swak leefstylgewoontes. Dit kan as ’n verskoning gebruik word. Vitamiene kan soms help om spesiale leemtes te vul, maar dit kan nie vergoed vir ’n ongebalanseerde dieet nie.

Dink voordat jy enige aanvullings sluk. Is jy net besig om jou gewete te sus? Of drink jy ’n spesifieke aanvulling omdat jy ’n bloedtoets laat doen het en regtig die korrekte aanvulling vir jou unieke behoeftes neem? Deur ’n ingeligte besluit te neem, kan jy die beste opsie vir jou leefstyl, jou gesondheid en jou beursie kies.