Raak ontslae van maagvet

Linda Kriel

LINDA KRIEL meen dat nie net oorgewig mense met maagvet sukkel nie. As jy nie oorgewig is nie, maar vet om die middellyf het, móét jy iets daaraan doen.

Die vet onder ’n mens se vel – wanneer jy oorgewig is – is nie so ’n groot gesondheidsrisiko soos die vet rondom jou organe in jou buik nie. Hierdie diepgesete vet vergroot jou kanse op insulienweerstandigheid, tipe 2-diabetes en hartsiektes. Neem ’n maatband en meet die omtrek van die grootste deel van jou maag. Enigiets groter as 88 cm by vroue en 102 cm by mans word as ’n maagvetprobleem beskou.

Hoe raak jy van maagvet ontslae?

  • • Beperk die suiker en koolhidrate in jou dieet.
  • • Doen kardiovaskulêre oefeninge.
  • • Doen oefeninge wat jou middellyf versterk soos hier gedemonstreer.

WENKE vir ’n fikser jy

Kry mooi arms

Jy benodig nie duur toerusting om jou spiere op te knap nie. Hou ’n handdoek agter jou rug vas, met jou regterhand net bokant jou kop en jou linkerhand min of meer waar jou sitvlak begin. Albei arms is gebuig. Trek nou met jou regterarm boontoe totdat jou arm reguit is. Gebruik die handdoek en jou linkerarm as weerstand deur effens aan die handdoek te rem. Doen dan die teenoorgestelde. Doen 3 x 15 en ruil dan jou arms om.

Raak jy vergeetagtig?

’n Tekort aan suurstof in die brein sal sy normale werking beïnvloed. Oor ʼn tydperk sal hierdie verminderde suurstof sy tol eis en lei tot vergeetagtigheid en geheueverlies, wat toeneem tussen die ouderdom van 50 en 60 jaar. Oefening verhoog die suurstofopname in jou bloed, wat help met normale breinfunksie. Geheueprobleme in die later jare kom meer algemeen voor by persone wat ’n passiewe leefstyl gehad het. Die oplossing? Begin beweeg!

Soggens of saans?

Daar is geen betroubare navorsing wat kan bewys dat jou liggaam meer kilojoules op sekere tye van die dag verbrand nie. Hou egter die volgende in gedagte wanneer jy besluit wanneer om te oefen:

  • • Luister na jou interne klok, met ander woorde is jy ’n oggend- of ’n aandmens?
  • • Kies ’n tyd waarby jy kan hou.
  • • Kyk na jou leefstyl: hoe laat begin jy werk, wanneer verg jou kinders meer tyd van jou.
  • • Probeer dan elke dag op dieselfde tyd oefen.

 

Moenie kilojoules drink nie

Tot 22% van jou daaglikse kilojoule-inname kan van drankies kom. Die probleem daarmee is dat vloeistof so vinnig deur jou liggaam beweeg dat jou brein nie die energiewaarde registreer nie. Vermy koeldranke met suiker. Dit geld ook vir energiesportdrankies. Eet liewer ’n vrug voordat jy vrugtesap drink. Gaskoeldranke en suiker kan jou ook ’n opgeblase maag gee. Skakel suiker heeltemal uit en eet gereeld ’n halwe teelepel vinkelsaad (fennel), wat sal help om ’n opgeblase maag te verlig.

Laterale maagopsitte

Lê op jou linkersy met jou liggaam in ’n reguit lyn. Plaas jou linkerarm op die vloer voor jou uitgestrek en jou regterhand agter jou kop. Lig nou jou bene albei op en laat sak weer. Hou jou voete bymekaar. Gevorderde vlak: Lig terselfdertyd ook jou bolyf sywaarts op. Doen 3 stelle van 10 tot 20 herhalings aan elke kant.

 

kommentaar (2)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.