Jonger lippe

Wanneer dit oor teenveroudering vir lippe gaan, is daar ’n verskeidenheid opsies hoe om te verbeter en te beskerm wat Moeder Natuur jou gegee het.

Vertroetel vir sagter, voller lippe

Jy het dalk nie tyd, geld of lus vir ’n professionele lipbehandeling nie, maar jy kan steeds jou lippe vertroetel en die beste in hulle na vore bring.

Die belangrikste is om jou lippe te bevogtig. Doen dit deur nagroom of bababoudsalf aan jou lippe te smeer. Begin met ’n produk wat jou lippe volume gee. Dit werk om die fyn plooitjies te verminder en jou lippe se volume te vergroot.

Deur jou lippe liggies af te skilfer, sal jy die voorkoms aansienlik verbeter. Gebruik ’n oorstokkie wat in olierige grimeringverwyderaar geweek is en verwyder dan die skubberige kolle.

Gebruik daagliks lipsalf met ingeboude sonbeskerming (SBF 30+) om jou lippe sag te hou.

Beperk die gebruik van lipsalwe wat jou vel laat tintel tot elke tweede dag. Dit bevat bestanddele soos mentol en kamfer, wat jou lippe kan irriteer.

Dieselfde geld vir lipstiffies wat gemaak is om lank aan te bly omdat dit ook jou lippe uitdroog.

Moenie bang wees vir lipstiffie nie

Lipstiffie is ’n noodsaaklike bestanddeel van vroulikheid. Jou hele houding verander as jy lipstiffie aanhet. En as jy dit reg dra, kan dit jou jonger laat voel en lyk.

Of jy lipglans of lipstiffie verkies, moet dit nie oordryf deur te veel kleur aan te wend nie. Lipglans wat korrek gedra word, kan jou ’n mooi glans gee en jou lippe effens voller en jonger laat lyk.

Aangesien lipstiffie en lipglans in die fyn plooitjies om jou mond in bloei, is dit belangrik om eers jou lippe met ’n jel-lippotlood in te kleur. Kies ’n kleur wat die naaste aan die lipstif of lipglans is. Wend daarna die lipstiffie of lipglans bo-oor aan. Maak seker jou aanwending is nie tot op die rand van jou lippe nie.

Ouer vroue moet ’n sagter of helder kleur met ’n glanstekstuur kies in plaas van ’n donker kleur met ’n mat tekstuur, omdat mat lipstiffies en lipsalwe ’n oneweredige tekstuur beklemtoon.

Sorg dat jou lippe nie verouder nie

Jou lippe verouder in fases. Namate jy ouer word, sak jou mondhoeke al hoe meer en ná 45 sien jy ’n totale verlies van volume en vorm van jou mond. Probeer die volgende maniere.

Vullers

Die veiligste en natuurlikste manier om vullers te laat doen, is met hialuroonsuur. Maak doodseker jou dokter gebruik slegs hialuroonsuur tydens hierdie prosedure. Vullers is ook die bekostigbaarste opsie.

Velskraping

Jy sal ’n bietjie meer moet opdok en die prosedure laat jou vir minstens een week na die tyd soos ’n monster lyk. Die voordeel is dat jy dit slegs een maal elke vier jaar hoef te laat doen.

Mesoterapie

Dis die perfekte behandeling wanneer jy nie tyd kan afstaan nie. Dit duur ’n bietjie langer om die gewenste effek te verkry omdat jy ’n kursus van vyf sessies, een maal per maand, moet laat doen. Daarna hoef jy slegs twee maal ’n jaar vir ’n sessie te gaan.