Koos van der Merwe: "Ek doen graag dinge anders"

Hy is nie ’n tradisionele dominee nie, hy sing en skryf ook nie gewoon nie. Alles omtrent hom is verfrissend anders. Maar soms betaal hy die prys.

Hoe lyk die wêreld vir jou, ’n skeppende persoon?

KOOS Die wêreld behoort vir almal anders te lyk. Maar my werk wys ook nie noodwendig altyd hoe die wêreld vir my lyk of hoe ek dinge ervaar nie. Al is dit dikwels outobiografies, is dit dikwels ook nie. Die kere wanneer dit nie my eie gedagtes is nie, probeer ek my indink hoe dit sou voel as iets met my gebeur. Soms is dit net ’n woord of frase wat my gedagtes aan die gang sit. Dan begin ek dit neerskryf en kyk wat gebeur.

Die doel is nie om te skok nie, al is van my gedigte dalk baie sensueel. Dit is net alles dinge wat in ’n oomblik tot my spreek.

Probeer jy hard om anders te wees?

KOOS Dit gaan nie eintlik oor eenders of anders wees nie, maar oor uniekheid en egtheid. Dit is hartseer as ons almal probeer om dieselfde te wees. Jy beroof die wêreld eintlik as jy net oor en oor dieselfde opdis. Ek wil doen wat outentiek eie aan myself is – kyk hoe die wêreld vir my lyk. En wat iemand anders daarvan dink, behoort nie my eie idees of gevoelens te versmoor nie.

As my idees of smaak van joune verskil, is dit nie ter wille van uitstaan nie. Ek probeer eerlik wees, soos die Here my gemaak het. Dit is wanneer jy op jou gelukkigste is, en op jou mees skeppende.

Maar daar was ’n tyd toe jy ingepas het?

KOOS Om tot elke prys te probeer inpas, het dalk iets met ons donker kant te doen. Ons wil beïndruk en aanvaar word; daarom doen ons wat ons dink ander mense wil hê. Jy word dan eintlik iemand wat jy nie is nie. Die omgewing waarin jy beweeg, het natuurlik ook ’n invloed op jou. Dit was alles deel van my pad na volwassenheid.

In my laat 20’s het die vrae begin. Moet ’n predikant op ’n sekere manier lyk? Moet Christelike musiek net klink soos dit wat ons Sondae in die kerk hoor? Wat maak ek met my romantiese en seksuele gevoelens? Kan ek dit as kunstenaar uitdruk?

Moet ’n kunstenaar dan ’n rebel wees?

KOOS Rebellie ter wille van rebellie is iets anders. Wanneer jy só rebelleer, probeer jy aspris dwarstrek, sonder om jouself te wees. En dikwels maak jy in die proses iemand seer. My rebellie was teen blinde konformisme, en dit was bevrydend.

Jy flous ook jouself as jy dink jy “maak” iets. Alles is lankal reeds gemaak – ons herskep net. My liedjies en gedigte is kommentaar op goed wat reeds bestaan. Goed soos liefde, pyn, geloof. Maar my kommentaar sal heel moontlik anders as joune klink, omdat dit die lewe uit my eie unieke oogpunt weerspieël. Ek is nie spyt oor dit wat ek geskep het toe ek jonger was nie. Dit was gepas vir daardie tyd van my lewe.

Was mense kwaad oor jou andersheid?

KOOS Oooo... ja! Baie. Toe ek en Theo Geyser ons musiekgroep, Prophet, begin het, is daar tot bidure gereël om die saak te bespreek... ’n Paar duisend jongmense het ons eerste konsert bygewoon, en daar is gesê dat ons ’n rebellie onder die jeug gaan begin. Volgens dit wat aanvaarbaar was, behoort predikante nie soos ons te lyk nie en ook nie so te klink nie.

Ons het ons destyds nie veel daaraan gesteur nie. Dalk was ons onnosel, of onvolwasse, dalk selfs arrogant. Maar ons was op ’n missie. Ons het net geweet dat daardie “voorgeskryfde” resep en omgewing ons gaan doodmaak. Dis nie wie ons was nie, ons moes doen wat vir ons reg was.

Hoe onderskei jy tussen reg en verkeerd?

KOOS As jy byvoorbeeld na die situasie van destyds kyk, met al die kritiek oor Prophet, het baie van die reëls met eksterne dinge te make gehad. Hoe jy lyk en hoe jou musiek klink, kan tog nie “reg” of “verkeerd” wees nie.

Ek stry nie met die groot universele etiese wette nie, ’n mens weet mos wesenlik wat reg en verkeerd is. Maar uiterlike goed het niks met menseverhoudings en etiek te doen nie. Hoe verder weg die voorskrifte van ware etiese norme af beweeg, en eerder ’n tipe tradisie of gewoonte is, hoe minder bindend moet dit wees. Mense het nogal ’n manier om aan gewoontes te klou sonder dat dit regtig sin maak.

Twyfel jy nie soms aan jou eie idees nie?

KOOS Beslis. Dit is belangrik om te twyfel. As ek heeltyd dink dat al my idees goed en reg is, is ek arrogant en gaan ek stagneer, of maar net weer probeer beïndruk of konformeer. My lewensdoel is om uit te vind wie ek moet wees – en dit is so vir elkeen van ons.

Al manier hoe jy jouself kan leer ken en kan groei, is om jou eie idees uit te daag. Daarom moet jy altyd twyfel, wonder, dink. Wanneer jy kies om uniek te wees, om jouself te wees, moet jy aanhou om dit te doen. My idees is vandag baie anders as in my jonger dae.

Wie of wat het jou die meeste beïnvloed?

KOOS Die bekende letterkundige CS Lewis. Voor die ontdekking van sy werk het my gedagtes oor die lewe in ’n baie klein blokkie gepas. In my laat 20’s het iemand vir my een van sy boeke present gegee.

Met die eerste lees het daar wêrelde van verstaan vir my oopgegaan waarvan ek nog niks weet nie. Geen ander boek het my nog so betower nie. Ek wou net meer en meer weet, en het later my meestersgraad oor hom gedoen. Hy het my laat besef dat daar nog soveel is om te leer, en ek wou met alle mag dieper en wyer lees. ’n Wêreld van kuns en akademie het vir my oopgegaan.

Pastor, Poet, Author, Singer... sê jou LinkedIn-profiel.

KOOS Daardie dinge is alles vervleg om mý te maak. Tydens ’n vertoning vol liefdesliedjies is ek nie minder van ’n prediker nie. En tydens ’n preek bly ek steeds ’n digter ook. Dit is nooit van mekaar geskei nie.

As kind het ek al Chris Barnard se boeke gelees en woorde bewonder. My latere teologiese studies het nie my waardering en uitleef van kuns weggevat nie. Al die verskillende wêrelde – geestelik, akademies, kuns – inspireer my op verskillende maniere. Ek kan my eintlik nie ’n leefstyl sonder een daarvan indink nie.

Hoe kry jy die beste uit jouself?

KOOS As ’n mens oortuig is van dit wat jy met jou lewe moet doen, moet jy met oorgawe daarmee omgaan. As jy wil dig, moet jy ernstig met woorde omgaan. Jy sal besluite moet neem oor deadlines en dissipline. Jy sal ernstig moet wees oor idees.

Dit gebeur maklik dat ’n gedagte by my opkom en dan dink ek: “Sjoe, dit is mooi, ek moet onthou om dit later neer te skryf.” Later het ek dit lankal vergeet. Baie wonderlike idees gaan so verlore. Dit kos moeite en dissipline, ook vir iemand wat met musiek en poësie besig is. Geen droom word sonder moeite bewaarheid nie.

En op jou “af dae”? Hoe druk jy deur?

KOOS As jy gedigte wil skryf, moet jy gedigte lees. As jy musiek wil maak, moet jy musiek luister. Jy moet jou volmaak met daardie dinge wat jy wil weergee. Vir my nuutste digbundel het ek al Sheila Cussons se gedigte gelees. Twee keer. Sy was briljant, en het ’n klomp toekennings vir haar digkuns gewen. Tog was sy ook ’n skilder en het haarself eintlik só beskryf. Wys jou net – jy hoef nie net één ding te wees nie!

In die vroeë 70’s het Sheila ernstig gebrand toe ’n stoof in haar kombuis ontplof het. Sy was twee jaar lank in die hospitaal en het baie daaroor geskryf, veral in Die Swart Kombuis.

Het jy al ’n slegte ervaring verwerk in kuns?

KOOS Ek was een oggend by Aardklop op pad na ’n vertoning toe, na die vorige aand se optrede. Die hele dorp was vol groot plakkate oor hoe vrot my show was... Omdat die gehoor my staande toegejuig het, was dit vir my vreemd. Die dame wat die kritiek gelewer het, het haar duidelik nie aan die gehoor gesteur nie.

Met een van die plakkate onder my blad is ek na my volgende optrede toe. Ek het dit vir die gehoor gewys, en gevra hulle moet net saggies hande klap as hulle met haar saamstem. Daardie dag het ek die beste applous van my lewe gekry! Haar slegte woorde het my ’n guns bewys.

Woorde kan ’n oorlog begin. Waarvoor sou jy baklei?

KOOS Ek veg teen my eie boosheid. Dit is die grootste geveg wat ons elkeen baklei, moontlik meer as wat ons besef. Die Skrif sê ons moet die stryd van die geloof stry. Veg teen ons eie drange, teen ons eie donkerte. Veg teen opgee as jy sukkel.

Ek dink ons grootste geveg sal altyd binne onsself wees. Ons almal baklei maar teen dieselfde donker vyand – selfsug. ’n Selfsugtige lewe wat net oor jou eie eer gaan. Oor wat jy wil hê en kan kry. Jy moet stoei om jou ego op sy plek te hou. Op ’n meer fisiese vlak sal ek vir my gesin baklei. Sonder twyfel.

Jou dogter is ook ’n kunstenaar?

KOOS Claudi het pas klaar grafiese ontwerp gestudeer, en natuurlik bewonder ek haar talent. Sy het my nuutste digbundel geïllustreer – en dit was heerlik om saam met haar te werk. Die bundel is in vier dele gegroepeer: skoonheid, liefde, pyn en geloof.

Nadat ons oor die verskillende dele gesels het, het sy die gedigte gelees en illustrasies geskep van die prentjies wat die woorde by haar laat opkom het. Dit was ’n eerste vir my, maar ek is baie opgewonde oor hoe alles op die ou einde saamgewerk het. Dit is lekker om dele van my gedagtes deur iemand anders se oë te sien.

Lees mense deesdae nog gedigte?

KOOS Dit het my nogal verstom. Toe ek begin publiseer het, het uitgewers my vertel dat ’n digbundel uiters suksesvol is as daar so 200 eksemplare verkoop. Daar is toe 4 000 van my eerste bundel verkoop.

Jy kan nie net ’n bundel op ’n rak los en hoop vir die beste nie. Ek neem bundels saam na my konserte toe en bied dit effens anders vir mense aan. Van die verse word getoonset, en skielik raak dit lewendig. Met die gedigte, illustrasies en toonsetting kombineer jy drie kunsvorme. Dis nie net swart-op-wit woorde nie.

My gedigte is ook heelwat anders as akademiese werke wat net vir ’n uitgelese groep verstaanbaar is. Daar is selde versteekte betekenis.

Wie is jou teikenmark wanneer jy skryf?

KOOS Nee, nee, daar is eerlikwaar nooit ’n “mark” in gedagte nie. Dit is net ’n reis. Dis gewoonlik eers agterna duidelik of ander mense aanklank daarby gevind het of nie.

Partykeer wil ek iets spesifieks sê, dalk oor my liefde vir my vrou. En ander kere is dit sommer ’n geval van kyk wat gebeur met ’n woord of frase wanneer ek daarmee begin werk – dan is dit ’n speletjie met woorde.

Amper soos ’n wetenskaplike wat in ’n laboratorium werk. Jy gooi goed bymekaar en soms is daar ’n ontploffing; ander kere gebeur daar niks. Dit is deel van die opwinding van woorde.

Is jou musiek anders? Sing jy vir iemand spesifieks?

KOOS Nee, ook nie. Daar is ook hoegenaamd nie ’n mark in gedagte nie. Ek werk saam met Matthys Maree – sy toonsettings en musikale verwerkings is meesterlik. Ons sal saam besluit hoe ons die lirieke wil interpreteer, hoe ons in ons diepste wese dink dit moet klink.

Op Droom Martha Droom, het ek heelwat liedjies reeds getoonset, maar nadat Matthys daarmee gewerk het, het net één van my toonsettings oorgebly. Matthys is geniaal en sy weergawes was net soveel beter. Daar is geen “resep” nie. Ons besluit nie vooraf waarvan die mark sal hou nie. Ons doen dit soos ons wil, en kyk. Daar is niks verkeerd met gewone popmusiek nie, maar dis onnodig dat dit ál is waaruit mense kan kies.

Is die bundel Nagverse jou beste werk nog?

KOOS Dit is die beste werk waartoe ek nou in staat is. Dis moeilik om te sê of dit beter as voorheen is of nie, maar dis wat ek nou wou sê. Dit het my ongeveer vier jaar geneem om te skryf, en baie verse is uitgegooi.

’n Wêreldbekende fotograaf het gesê dat ’n goeie fotograaf se beste eienskap is om te weet watter foto’s hy nié moet wys nie! Almal neem beter en slegter foto’s, die beste fotograaf weet net wat om uit te laat. So, dalk was die “uitgooiproses” hierdie keer beter. Wat ek wel kan sê, is dat ek aan Nagverse en Droom Martha Droom gewerk het asof dit dalk die laaste ding gaan wees wat ek ooit doen.

Nagverse, ’n volkleurdigbundel deur Koos van der Merwe is nou beskikbaar op voelgoedboeke.co.za teen R195.

 

Website Security Test