Net jy kan jou lewe verander

Kobus Neethling

Kobus Neethling sê dit gaan moed verg, maar jy moet glo dat jy sal kan en dit dan doen.

Klou jy aan die verlede vas? Verhinder dit jou om jou drome te verwesenlik en jou potensiaal uit te leef? Dit is tyd om te erken dat jy die passie, energie en kreatiwiteit het om ’n nuwe reis aan te pak. Elke suksesvolle persoon sal vir jou sê dat daar ’n tyd was dat hulle die moed moes hê om die verlede te laat gaan.

Die eerste stap is om die moed te kry wat daar iewers in jou verskuil is. Moenie wag tot môre nie. Onderneem om van nou af proaktief op te tree met betrekking tot jou toekoms. Daar is geen verskoning om te sê dat jy niks aan jou lewe kan doen nie.

Ontdek en volg jou eie, unieke passie

Jy het ’n wonderlike ingeboude stelsel wat jou vertel wanneer jy besig is om te groei en wanneer nie. Jy sal weet: Jy sal vol vreugde en energie wees as jy groei en jy sal voel jou lewe het betekenis. Aan die ander kant, as jy voel jou lewe beteken niks, dan sal jy hartseer en depressief voel.

Dis partykeer makliker om maar net toe te gee aan wat die norm is vir skoonheid of sukses. Dan probeer jy inpas en soos almal om jou wees, maar op die lange duur sal jy nie gelukkig wees nie.

Om jouself te wees verg egter moed. Jy sal baie emosies ervaar terwyl jy die pad stap, maar dis beter as om aanmekaar ongelukkig te wees omdat jy waardeloos voel. Wees dapper en volg jou eie kop. Vind uit wat jou laat tick en sorg dat jy gereeld die dinge doen wat vir jou lekker is en jou laat blom.

As jy maar net elke dag bestaan sonder om kreatief te leef en ’n verskil te maak, dan het jy die ritme verloor waarvolgens jou hart klop. Genoeg moed sal jou verby die pyn vat, totdat jy weer die duidelike musiek van jou hart kan hoor.

’n Bekende opvoedkundige het eenkeer gesê dat ons die dinge wat vir ons lekker is en waarmee ons goed is, moet begin doen. Slegs dan sal ons besef op watter diep vlak ons vervulling kan ervaar – meer as wat ons ooit sou kon dink. Vernuwing begin in die kamers van jou eie hart!

Doen moeite om tyd en maniere te vind hoe jy die dinge kan doen waarvan jy hou en wat jou hart vinniger laat klop. Dit sal nie net help dat jy die lewe meer geniet nie, maar jou lewe sal sommer heeltemal nuwe betekenis kry.

Jy moet baklei vir wat jy wil hê!

Jy gaan nie langer “minder” as die beste aanvaar nie. Dit verg altyd moed om te veg vir iets wat die moeite werd is. Van nou af moet jy dapper genoeg wees om te sê: Goed is nie meer goed genoeg nie! Dit is ’n noodsaaklike deel van die krag wat jou vorentoe sal help om getrou te bly aan jouself.

Onthou, dit is nie die terugslae en teenkanting wat jy ondervind wanneer jy iets waag wat jou sukses al dan nie bepaal nie. Dit is jou reaksie op hierdie uitdagings en teleurstellings wat die groot verskil maak. Ek glo ons beskik almal oor die vermoë om probleme aan te pak sonder om ontmoedig te word en om uit te hou sonder om op te gee. Onderwysers moet onderrig gee, skrywers moet skryf en sangers moet sing. Jy moet doen wat jy moet doen as jy uiteindelik vrede met jouself wil kry. Dit is jóú lewe en jý moet dit leef.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.