Doen minder en wees meer mens

Om te weet wie jy is, is een van die eerste treë tot selfvertroue en kalmte van gees. As jy weet wie jy is, het jy geleer om jouself fisiek, emosioneel en geestelik te aanvaar.

Dan kan jy lag as jy in jou nagklere deur kuiermense gevang word en sommer net jouself wees in enige situasie. Dan hoef jy nie te skuil agter ’n donkerbril sodat ander die ontstelde en beangste uitdrukking in jou oë nie moet sien nie.

Die samelewing meet alles aan prestasie en produkte. Sodra iets of iemand nie meer op peil presteer nie, word die item aan die mark onttrek of die persoon ferm versoek om of beter te presteer of die maatskappy te verlaat.

Tog vind al hoe meer mense dat hulle iets aan die verloor is, want daar bly iets skort. In ’n poging om hierdie onrustigheid te onderdruk, word al hoe meer dinge aangepak, net om al hoe minder tyd vir hulself te hê, al hoe onrustiger te word en al hoe meer uitgeput te voel.

Daar is nie fout met prestasie en produktiwiteit as sodanig nie. Daar is wel fout wanneer jy jou gevoel van eiewaarde en identiteit afhanklik maak net van jou prestasievermoë en produktiwiteit. Gebeur dit dat jy ’n dag beleef waarin jy nie so goed voel nie, dink jy dadelik jy beteken niks en dat niemand jou liefhet nie. Omdat jou identiteit gekoppel raak aan jou doen-funksies ervaar jy ’n verlies aan identiteit en eiewaarde as jy nie méér kan doen nie. Sodra dit gebeur, is jy jou selfvertroue, innerlike krag en kalmte kwyt.

Wie jy is, is belangriker as wat jy doen

Om werklik te weet wie jy is, sal jy ’n posisieskuif moet maak. Jy sal moet skuif van die idee dat jy altyd moet dóén om goed te voel oor jouself en die lewe, na ’n posisie om eers net te “wees”. Ons word tog menslike wesens, nie menslike doeners nie. ’n Robot kan nooit ’n mens wees nie. Jy alleen kan ’n mens wéés.

Gevolglik sê die tipe mens wat jy is meer van jou as wat jou prestasievermoë en produktiwiteit ooit volledig kan beskryf. Om enige situasie gebalanseerd te hanteer, moet jy dus eers leer wéés, voordat jy leer doen. Dit is ’n proses wat lewenslank aanhou, maar dit gee jou ’n voorsmaak van hoe dit voel om in vrede en harmonie met jouself te leef.

Eerlikheid is hier die wagwoord, want as jy jouself bedrieg, gaan jy nie werklik verstaan waarom jy dinge doen of na groter produktiwiteit en prestasie soek nie. Dit vra natuurlik moed om jouself in die oë te kyk en te erken dat jy sekere dinge aanpak vanuit motiewe wat nie altyd so edel is as wat jy wil voorgee nie.

’n Ryk jongman het vir Jesus kom vra wat hy moet dóén om die ewige lewe te verkry. Hy wou sy prestasievermoë en produktiwiteit gebruik. Hy het nie daarmee rekening gehou dat Jesus sou kyk na wie hy is en so sy diepste innerlike sou blootlê nie.