Dink soos 'n kampioen

Jannie Putter

Jy het die potensiaal om jou drome te verwesenlik, maar dan moet jy soos ’n kampioen begin dink. Jannie Putter weet wenners dink en doen anders.

’n Groot fout wat mense maak, is om groot drome te hê, maar te glo dat dit maklik en pynloos gaan wees om dit te verwesenlik. Hulle is nie voorbereid op die feit dat hulle ’n prys moet betaal vir hulle droom nie. As jy daarvan droom om gemaklik te wees, kan jy maar nou al jou droom op jou maag skryf. ’n Betekenisvolle droom word deur die vuur van passie in jou aan die brand gesteek. En glo my, dit het niks met gemak te doen nie. So ’n passie sal geblus word deur gemak. Passie kan net groei en beweeg met die brandstof van ongemak – geloof en hoop.

Vermy negatiewe gedagtes, praat positief

Jy kan praat oor die dinge wat jy graag wil hê of jy kan praat oor die dinge wat jy nié wil hê nie. Onthou: Daar is ’n besliste gevolg. Jy word soos ’n magneet vir die een wat jy kies. Die belangrikste van alles is, jy moet praat in die rigting waarheen jy op pad is, nie waarvan jy wil wegkom nie. Leer om te praat oor dinge wat jy hoop sal gebeur – en praat dan of dit reeds so is.

Dit is ’n lewensbeginsel: Wat jou ore herhaaldelik hoor, sal deur jou brein omgesit word in ’n geloof en as ’n opdrag gestuur word aan jou liggaam. Jou liggaam volg uiteindelik presies die prentjie wat jou brein vir hom stuur.

Dit maak nie saak wie jy is of wat jou omstandighede is nie. As jy hierdie beginsels toepas, sal jy die vrugte pluk van elke woord wat jy in wysheid en volwassenheid, en nie uit selfsug, gierigheid, trots of verwaandheid nie, oor jouself spreek. Die sleutel is dat jy jou mond moet oopmaak en praat. Praat oor jou lewe asof dit reeds so is, in die teenwoordige tyd, nie in die toekoms nie.

Beskryf wat jy wíl wees, nie wat jy nié wil wees nie, byvoorbeeld “Ek is geduldig” teenoor “Ek is nie meer ongeduldig nie”. Beskryf jou insette en nie die uitslag nie: “Ek gee my beste en ek waag” teenoor “Ek word gekies vir bevordering”. Skryf waarheen jy op pad is, nie waarvan jy wil wegkom nie. “Ek het oorvloed” teenoor “Ek is nie meer arm nie”. Praat soos die Woord dit aan jou bekend maak, soos “Ek is tot alles in staat deur Christus” teenoor “Ek is sterk/mooi/slim”. Jy móét dit hardop sê, sodat jou ore dit kan hoor en dit by jou brein kan insink.

Hoe jy jouself sien, bepaal jou sukses

Soos jy jouself sien, so sal jy wees. Soos jy jouself sien, so sal jy jou gedra – en so sal jy toelaat dat die wêreld hom teenoor jóú gedra. As jy ’n ekskuus-dat-ek-lewe-houding het, sal almal jou as ’n swakkeling beskou en ook so teenoor jou optree.

’n Sterk selfbeeld word gebou op ’n fondament van nederigheid (dankbaarheid), harde werk (toewyding en dissipline) en respek (om te verstaan dat groei ’n proses is). Selfvertroue het min te doen met jou laaste oorwinning of met wat ander mense van jou dink. Al wat werklik saak maak, is wat jy in jou hart weet.

Ware kampioene is nooit in ’n vaste vorm gegiet nie, maar hulle het kragtige waardes en norme wat nie onderhandelbaar is nie: dinge soos geloof, selfbeheersing, liefde, dissipline, respek en hardwerkendheid.

Die sleutel tot ’n suksesvolle lewe is om by ander suksesvolle mense te leer. Stel hulle karaktereienskappe wat jy bewonder as jou doelwit. Werk dan hard daaraan om dit deel van jouself te maak terwyl jy steeds uniek jy bly!

lyn_3.png

Jannie Putter is mentor vir die Leeusrugbyspan, motiveringspreker en skrywer van Die geheime van ’n Kampioen. Vir meer inligting oor Jannie Putter, besoek sy webwerf www.jannieputter.co.za.

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.