“Jou geluk hang af van hoe jy die lewe sien”

Is jou glas halfvol of halfleeg? Ek was nog altyd ’n positiewe mens; daarom sê ek sonder om te aarsel: half vol!

My optimisme is waarskynlik te danke aan die vaardighede wat my ma ons kleintyd geleer het. Die werklikheid lyk anders as die prentjie

Ek onthou die dag toe ek en Jamie van ons wittebrood af teruggekom het. Die een oomblik was alles nog maanskyn en rose.

Ons het in vyfstergastehuise geslaap, in die deftigste restaurante geëet en op die beste safari-uitstappies gegaan wat jy jou kan indink. Toe tref die harde werklikheid ons. Ons was terug in ons eenslaapkamerwoonstel. Die woonstelletjie was so klein, as jy jou mind wou change, moes jy eers uitgaan, dit buite doen en dan weer terugkom!

Twee of drie treë, dan was jy in die kombuis, en as jy nie mooi gekyk het nie, het jy gedurig in die ander een vasgeloop. Dit was seker vir my een van die grootste antiklimakse ooit. Ek onthou hoe ons na mekaar gekyk en gesê het: “Reality check!” Dit was nou nie presies soos ek my die getroude lewe voorgestel het nie. Ja-nee, die wittebrood was oor!

Kyk uit ’n ander hoek na jou situasie

Die tweede skok was toe ek besef het dat ek vir ons aandete moes kook. En al wat in die kombuiskas was, was bruinrys, ’n blikkie makriel, ’n ui en gebakte boontjies.

Net toe ek wou moedeloos raak, onthou ek dat my ma altyd gesê het: “Rouchelle, dis nie wat jy voorsit nie, maar hoe jy dit voorsit.” En daar kry ek ’n kreatiewe plan en besluit om ’n ete aanmekaar te slaan met net hierdie paar bestanddele. Tot vandag toe sê Jamie dit was een van die lekkerste maaltye wat hy nog ooit gehad het. Dit was dalk maar soos die gesegde lui: Honger is die beste kok.

Ek kan jou een ding sê: Toe ek op daardie oomblik in ons piepklein kombuisie gestaan het, was dit nie maklik om die beste in die slegte saak te sien nie. Ek sou maklik my toys uit die cot kon gooi en myself iewers opkrul en bejammer. Maar ek het die bul by die horings gepak en ’n bak plan gemaak.

Soms moet jy doelbewus ’n besluit neem om die beste van ’n slegte saak te maak. Ek weet dis nie altyd maklik nie, maar begin net. As die lewe vir jou suurlemoene gee, maak limonade!

Verander jou hart en dink pienk gedagtes

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Dis die wyse raad wat ons in Spreuke kry. Met ander woorde, jou gedagtes bepaal jou dade en jou dade of gewoontes bepaal jou lewe. As jy dieselfde ding 21 dae lank oor en oor doen, word dit ’n gewoonte. Dit kan natuurlik ’n goeie of ’n slegte een wees!

Studies wat deur dr. Herbert Benson gedoen is, het bewys dat die vorm van jou DNS verander volgens die gedagtes wat jy het. Jy is miskien gestres oor die week wat voorlê. Of jy tob oor iemand wat jou verkeerd opgevryf het. Pasop! Hierdie giftige gedagtes vorm neurologiese patrone in jou brein en jou liggaam ondervind outomaties stres.

Wat hierdie studie basies sê, is dat ons wel die vermoë het om ons denkpatrone te verander. Al wat dit van jou sal verg, is ’n klein bietjie wilskrag.

Jy sal gou agterkom hoe maklik jy in ’n patroon van negatiewe gedagtes kom. Sommer gou sal jy net die slegte goed raaksien. As jou glas nog altyd halfleeg was, wil ek jou vra om iewers te begin. Die beste plek is natuurlik in jou kop!

Kom ons maak daardie klein verandering vandag en soek vir die goeie in ander, in ons omstandighede en in ons verhoudings. En terwyl jy op die uitkyk is vir die mooi dinge, vind jy dalk meer as wat jy verwag!

Rouchelle Liedemann is ’n gospel-sangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.

 

Website Security Test