Wat steek mans weg?

Jy is nie paranoïes is nie, maar jy wonder soms of jou man iets vir jou wegsteek. Wat is die een ding wat hy nie vir jou vertel nie?

Vir vrouens wat van nature lief is vir praat en daarvan hou om goed met ander mense te deel, is dit amper ondenkbaar om ’n geheim van hulle man te hê. Jy vertel dalk nie vir hom presies wat jou nuwe toppie gekos het nie, maar jy sal nooit groot goed van hom weerhou nie. As jy ’n fout maak ­– al is die gevolge katastrofies – is jou man waarskynlik die eerste persoon wat jy bel. Hoofsaaklik omdat jy vertrou dat hy jou uit jou penarie kan red. Vrouens gee oor die algemeen hulle mag makliker aan hulle man oor en hulle trots keer nie sommer dat hulle oop kaarte speel nie.     

Mans is egter geneig om in hierdie opsig te verskil. Hulle egos, sin vir verantwoordelikheid en hulle trots keer baie keer dat hulle die reine waarheid vertel. Veral wanneer die kans bestaan dat hulle sleg kan lyk, is hulle geneig om eerder te swyg. Dis egter juis hierdie besluit om stil te bly wat hulle later kan ry en tot skuldgevoelens aanleiding gee. Dit enigste manier om ’n opregte lewe te lei is as hy toelaat dat sy optrede deur sy waardes bepaal word. Dan sal hy nooit hoef skaam te wees oor iets wat hy gedoen het of geheime van sy huweliksmaat te hê nie.

Vier mans skud die mandjie patats uit en deel hul grootste geheime.

Steek inkopies weg

“Ek steek my inkopies weg,” sê Herman van der Merwe, ’n IT-direkteur. “My vrou check my gewoonlik op, veral nadat ek by die groothandel-hardewarewinkel was. Ek moet erken ek hou baie daarvan om te koop. Maar ek het nou geleer wat om te doen. Ek los al die sakke met my inkopies in die kattebak van my kar en stap met net een sakkie (die nodige goed wat ek moes gaan koop) die huis in. Later, as sy weg of besig is, dra ek skelm die ander sakke met my inkopies by die motorhuis in.”

Lief vir ’n peuselhappie

“My grootste geheim is die trooshappie waarmee ek myself laat beter voel – dit is met babapap,” lag Moreira Chonguica, ’n Sama-bekroonde saksofoonspeler. “Na lang ure in die ateljee voel ek soms aan die einde van die dag baie gespanne en af. Sodra ek by die huis kom, klim ek met my skootrekenaar in die bed om flieks te kyk, en eet ek ’n hele bakkie babapap op (dié wat hulle vir drie maande oue babas gee). As ek nog steeds sleg voel, bel ek my ma. Dit werk elke keer om my beter te laat voel.”

Dié boerseun hou van ’n manikuur

“Ek is ’n sterk boerseun, maar een of twee keer per maand gaan ek na ’n skoonheidsalon vir ’n gesigsbehandeling, pedikuur en selfs soms ’n manikuur,” bieg Eugene Willemse, ’n elektrisiën. “Daar is vir my niks lekkerder as om my growwe hande en voete te laat behandel en pamperlang nie. Die terapeute sê hulle het baie min manlike kliënte. My vriende sal hulle doodlag as hulle moet uitvind ek besoek ’n skoonheidsalon. Ek is ook bang my vrou dink ek is ’n sissie as sy hoor ek gaan vir hierdie behandelings. En nou weet almal!”

Bang vir vrouens agter die stuur

“Ek is bang vir vrouebestuurders,” erken Jacques Visser, ’n onderwyser. “As ek ’n vrou agter ’n stuurwiel sien, probeer ek so ver moontlik uit haar pad bly. Vandat ’n vrou ʼn paar jaar gelede in my vasgery het, het ek ’n vrees vir ’n vrou agter ’n stuurwiel. Veral op die hoofpaaie. Partykeer kan jy die onsekerheid uit hulle sien straal wanneer jy by hulle verbygaan. Ek het saam met my vrou op ’n gevorderde bestuurskursus gegaan om seker te maak sy weet hoe om te ry, maar sy het nie geweet dít was my rede nie.”

Dís wat mans wegsteek

Mans steek dinge weg wat strydig is met hulle sosiale beeld. ’n Man sal soms ’n geheim hou omdat hy dink dat hy daardeur sy vrou of maat probeer beskerm, sê Liezel Burger, ’n kliniese sielkundige. Hy sal dit ook doen wanneer hy homself probeer beskerm, soos wanneer hy iets doen wat nie by sy sosiale beeld pas nie of iets wat nie aan ander se verwagtings voldoen nie. ’n Man wat gemaklik is met homself, sal makliker openlik en opreg in ’n verhouding wees, of dit met ’n vrou, ’n vriend of ’n kollega is.

’n Man wat in lyn met sy gesonde waardes leef, sal ook beter besluite neem – wat nie tot geheime aanleiding sal gee nie. ’n Geheim is soos ’n maagseer. Dit vreet jou van binne af op sonder dat jy dit weet, en wanneer jy dit uitvind, is dit te laat. Ironies genoeg is dit meermale die geheimhouding en nie die geheim self nie wat probleme veroorsaak. Die geheim raak later so groot in jou kop dat dit al jou vreugde steel. Dis beter om oop kaarte te speel wanneer jy ’n fout maak, ander sal die skuldgevoelens jou nog lank ry.