Wat skok mans die meeste van die huwelik?

Jy het dalk gedink die eerste paar maande van die huwelik was vir jou ’n aanpassing. Wag maar net totdat jy hoor hoe jou man daardie tyd ervaar het...

“Behou jou swart boekie. Maar weet, daar is nou net een naam in: jou vrou s’n!”

Dít is die eenvoudige raad wat Robert Ackerman in sy boek, A husband’s little black book, aan mans gee om hulle aanpassing van die huwelikslewe makliker te maak.

James Douglas Barron kyk op ’n humoristiese manier na die hele “traumatiese” oorgangsfase van enkellopende tot getroude man. Hy skryf in sy boek, She wants a ring – and I don’t wanna change a thing, dat mans vooraf moet weet dat die aanvanklike “trauma” om uit te vind of sy “die een” is, nie eindig met die ring aan jou verloofde se vinger nie. “Ná die troue wag nog skokke… jou tyd, finansies en vriende is nie meer net jou eie nie. Jy moet skielik vir twee dink.”

En hoe begin jy om die skok te hanteer? “Praat daaroor!” sê rubriekskrywer, Neil Chethik. In sy boek, Voice Male, gee hy terugvoering oor sy reeks onderhoude met mans oor verhoudings. “Die meeste mans het nie ’n vrees vir commitment  nie en hulle is bereid om vrylik oor hulle verhoudings te gesels.” Tog erken Chethik dat mans ook ingewikkeld is. “Nes vir vroue, is die huwelik vir mans ook ’n groot aanpassing. Mans hanteer dit net op hulle unieke, manlike manier.”

“En dis juis omdat mans en vroue hierdie aanpassings verskillend hanteer, dat hulle mekaar soms misverstaan,” sê Mark Bredenburg. “Mans en vroue moet besef dat die enigste manier dat dinge in die huis meer vlot sal verloop, is as jyself eers verander.”

Sukkel ’n man of ’n vrou die meeste om aan te pas?

Die sielkundige Neil Jacobson vertel dat studies bevind het “die huwelik beskerm mans teen depressie, terwyl dit vroue meer vatbaar daarvoor maak”. Volgens hom is getroude vroue twee maal meer geneig om depressie te kry as getroude mans.

Gary Lee, ’n sosioloog, sê die probleem is dat baie vroue glo dat getroude lewe die belangrikste transformasie in hulle lewens is. “Vir mans is dit nie dieselfde nie. Wanneer die huwelik dan nie perfek is nie, is dit ’n groter teleurstelling vir vroue as vir mans.”

Wendy Wood, ’n sielkundige van Texas A&M, verskil van die ander navorsers deur te sê dat die huwelik mans en vroue ewe goed doen. “Daar is iets spesiaal daarin. Dit maak hulle gelukkiger – mits hulle bereid is om deur die aanvanklike aanpassings te werk, mekaar te vind en saam aan ’n toekoms te bou.”

Wat was daardie eerste groot skokke met die aanpassing van die huwelikslewe? Hier is ’n paar mans se antwoorde.

Ons het gedink ons ken mekaar

Na ’n vyf jaar lange verhouding en ’n drie jaar lange verlowing is hy en Antonet getroud, vertel Dupré Knoetze (30). “Ons het gedink dat ons mekaar teen dié tyd goed ken. Wel, naas die groot aanpassing om nie meer wydsbeen en met uitgestrekte arms oor jou eie bed te kan slaap nie, was daar ook die ding van finansies, vryheid en vriende. Met finansies moes ek gou uitvind dat my geld nie meer net aan my behoort nie. Ek kan nie meer net koop wat ek wil, wanneer ek wil nie. Ook my vrye tyd en vriende.  Mens dink nou vir twee mense. Maar, as jy eers begin aanpas, is dit lekker. En as jy regtig lief is vir jou vrou, is dit soveel makliker!”

Vakansies was ’n aanpassings

Michiel Herholdt (29) vertel hy’t nog altyd vir sy ma gesê hy wil nie met ’n Transvaler trou nie. “Toe ontmoet ek vir Estie (’n Transvaler) in Londen en ons is drie jaar later gelukkig getroud. As dit by aanpassings kom, sal my vrou sê: die toiletsitplek wat moet afgeslaan word. Vir my: daardie melk wat terug in die yskas moet kom! Weens my werksopset moes my vrou ook al twee keer agter my aantrek. Ek het elke keer groot waardering vir haar positiewe gesindheid. Vakansies was ook vir my ’n aanpassing. My familie is nie kampeerders nie en my vrou se familie is groot kampeerders. Ek moet erken, ná die eerste kampvakansie het ek besef wat ek gemis het.”