Vul mekaar aan al verskil julle

Hykie Berg

 

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Elke vrou se klein boekie oor seks

Elke vrou se klein boekie oor seks sal jou antwoorde gee op die vrae wat jy te bang is om te vra. Julle sal leer hoe om die verskille tussen julle te oorkom en jou en jou man se lyf lief te kry. Beleef die intimiteit wat julle huwelik gelukkig sal maak!

Kliek HIER en laai hierdie e-boek GRATIS af.

lyn_3.png

Al is jy hoe lief vir jou wederhelf, is daar maar altyd persoonlikheidsverskille in ’n huwelik. Melissa en Hykie Berg vertel hoe hulle mekaar akkommodeer.

“Toe ons op ’n keer na die opening van ’n fliek genooi is, was ek nie lus om so deftig aan te trek nie. ‘Hoekom dan nie my leggings soos altyd nie?’ Sy antwoord: ‘Baby, wear whatever you’re comfortable in.’ So gesê, so gedaan.

“Hykie het selfs eenkeer saam met my plakkies na ’n funksie toe gedra,” spog Melissa. “Die mense het ons baie vreemd aangekyk, maar niemand het iets gesê nie.”

“Ons is gemaklik om hierdie soort goed saam te doen omdat ons in die eerste plek vriende is,” meen Hykie.

“Hy is my grootste tjomma en pêl,” beaam Melissa.

[VIDEO] Hykie Berg verklap in die video hoe goed hy vroulike Melissa se liefdestaal verstaan.

Ons het wel dieselfde soort battles gehad

“Die idee van my toekomstige vrou was dat haar pa skatryk sou wees. Hy sou ’n wildplaas besit en saam sou ons gholf speel. Saans sou ons om hierdie groot tafel eet met al die kinders, niggies en nefies wat om ons speel,” onthou Hykie.

“Toe stuur die Here vir my ’n vrou wat deur haar eie soort battles geworstel het. ’n Vrou wat jy letterlik nie sonder handskoene moet aanpak nie. Sy is immers ’n Suid-Afrikaanse skopbokskampioen.”

“Hykie is eenkeer regtig geslaan,” vertel Melissa. “Ons het gestort toe hy besluit om die warm kraan toe te draai. Van skok het ek hom per ongeluk op sy mond geslaan. Vir ’n paar dae het hy ’n geswelde lip gehad.”

I love fighting back is die rede waarom Melissa skopboks doen. “Dit was vir my so ’n fantastiese antwoord, want vir my is dit ’n metafoor van wie sy is. As ’n uitdaging kom, pak sy dit aan sonder om te huiwer.

“Dit sou nooit gewerk het as ek met die ryk vrou van my drome getrou het nie. Ons sou net nie mekaar se agtergrond verstaan het nie. Melissa verstaan hoe ’n uitdaging dit vir my as ’n gerehabiliteerde dwelmverslaafde is om skoon te bly. Om met ’n glas wyn te ontspan is nie iets wat ek kan doen nie.

“Melissa het in die drie jaar wat ons saam is, nog nooit voor my gedrink nie en dit is ’n keuse wat sy elke dag vir my maak. Sy weet dat my soberheid die belangrikste ding in my lewe is, want daarsonder kan ek nie ’n verhouding met God of enigiemand anders hê nie. Sy verstaan daardie weerlose kant van my.”

Selfversekerd in die bokskryt of op die verhoog

“Natuurlik het ons verskille en vreemde gewoontes. Melissa bad in Dettol en daarna was sy die bad nog uit daarmee. Sy is ’n germofreak.

“Ek is nou weer glad nie so nie. Toe ek met Survivor klaar was, wou nie eers die ou wat die gholfkarretjie bestuur het, saam met my ry nie. Gelukkig het ons mekaar toe nog nie ontmoet nie, want daar sou nie ’n manier wees dat sy my in die huis sou toelaat nie.

“Persoonlikheidstoetse het gewys dat ons albei grens-intro- en -ekstroverte is. Ons hou nie van groepe nie en het alleentyd nodig, maar ons alleentyd is om by mekaar te wees,” vertel Melissa.

“Hykie is definitief meer uitgaande met meer selfvertroue tussen mense. Ek is nie skaam nie, maar my selfvertroue lê op ’n ander vlak. Wanneer dit oor my sport gaan, is ek baie gemaklik, maar om voor ’n klomp mense te praat maak my vreesbevange.

“Ek het eenkeer aan ’n bikini-kompetisie deelgeneem. My sussie moes my letterlik op die verhoog stoot. Dit het ’n goeie vyf minute geneem voor ek die moed gehad het om op te gaan.

“Hykie bring die mooie in my uit. Ja, dit is soms vir my moeilik om al die funksies wat deel is van sy werk, by te woon. Die mense is onbekend aan my en hulle weet gewoonlik ook nie wie is ek nie, maar Hykie maak seker dat die hele Suid-Afrika op die ou end weet wie Melissa is. Hy stel my aan almal voor al is hy nou nie juis goed met name nie. Dis iets wat ek graag vir hom doen. Soms moet ’n vrou maar net haar ken oplig en die wêreld laat weet jy is hier al het die wêreld nie ’n idee wie jy is nie.”

Die realis en dromer is daar vir mekaar

“Aan die begin was dit vir my erg as ons so in die publiek deur mense oorval word, maar Hykie hanteer dit met soveel liefde. Hy het nog nooit iemand afgejak nie en deel maar net geduldig handtekeninge uit. Teen dié tyd kan ek al ’n professionele fotograaf wees van al die foto’s wat ek van Hykie saam met bewonderaars moet neem. Meestal word die kamera of selfoon net in my hande gedruk en daar is nie ’n keuse as om maar net te neem nie.”

“Hykie weet dat ek vertroueprobleme in vorige verhoudings gehad het, maar nog nooit het ek aan sy liefde vir my getwyfel nie. Hy maak dit ook maklik deur gesonde grense tussen hom en ander, of dit nou ’n man of vrou is, te stel.”

“Melissa is baie goed daarmee om mense te lees,” vertel Hykie. “Ek vertrou maklik en wil iemand altyd die voordeel van die twyfel gee. Melissa is weer ekstra versigtig. Sy vertrou nie maklik nie en as jy haar een keer teleurgestel het, vertrou sy jou nooit weer nie. Sy het my al keer op keer gewaarsku oor mense met bybedoelings. Dis asof sy ’n spesiale antenne het. Nou luister ek maar. Ook met besigheidstransaksies is sy die realis, die rooi lig in ons huwelik.”

Sonder Melissa is daar geen struktuur nie

“Ek is baie georganiseerd. Miskien soms té georganiseerd, terwyl Hykie baie verstrooid is. Dit kan nogal frustrerend wees, want dit is ’n voortdurende stryd met sleutels en beursies.

“Ons was nét getroud toe hy ’n funksie in Kimberley gehad het,” onthou Melissa. “Toe hy besig was om te stort, het hy sy ring afgehaal en dit aan die bokant van die stort gesit. Soos te verwagte het dit afgeval en in die raam van die stort beland. Op die ou end moes die eienaar die muur uitbreek om dit te kry, want Hykie was bang ek gaan ontsteld wees omdat hy sy ring verloor het.”

“Melissa is die struktuur in my lewe,” verduidelik Hykie. “Sonder haar is daar geen roetine nie. Hoe ek sonder haar oorleef het, is ’n raaisel. Sy is gefokus en weet presies wat in die huis en ons lewe aangaan.

“Ek het voorheen nie hoop vir myself gehad nie. Daar is blykbaar ’n deksel vir elke pot, maar wat as jy ’n massiewe wok of ’n soplepel is? Die kans dat daar ’n deksel sou wees vir hierdie wankelrige eierpannetjie wat ek is, was nie groot nie. Toe stuur die Here vir my die vrou wat presies reg is vir my. Een wat ook van boks en motorfietse hou, maar op sekere vlakke totaal van my verskil en daardie verskille gebruik om my aan te vul en te akkommodeer.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Soetgoed vir die Siel, geskryf deur Susan Coetzer.

Soetgoed vir die siel is 'n samestelling van drie van Susan Coetzer se verhale oor die soeke na soetgoed vir jou siel. Die 3 boeke in 1 sluit in: Oros vir die Siel, Custard vir die Siel en Tjoklits vir die Siel. Kliek hier om die boek te bestel.

lyn_3.png

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.