Ontdek weer die kind in julle

Andries Vermeulen

 

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Ontdek die hart van jou brein. Verstaan die rol van jou brein in die skep van seksuele geluk en passie in die 21ste eeu.

Kliek HIER en laai die e-boek, Die geheim van liefhê, GRATIS af.

 

lyn_3.png

“Daar is niks soos humor om ’n verhouding weer hoop te gee nie,” meen komediant Andries Vermeulen. Hy en Rieta verklap hoe hulle die speelsheid in hulle huwelik aan die gang hou.

“31 Mei 2012. Sal ek ooit daardie dag vergeet toe hierdie pragtige blondekopvrou in my lewe ingestap het? Ek het in Bloemfontein opgetree en Rieta ontmoet toe sy saam met ’n ou skoolvriendin na ’n optrede gaan koffie drink het. En toe, min wetend dat ek ’n komediant is, vertel sy my hierdie obskure grappie...”

“Ag toe!” keer Rieta. “Dit was ook nou nie só obskuur nie.”

“Maar ons het maande daarna nog daaroor gelag.”

Speel maak ons verhouding ligter

Obskure grappie ofte nie. Nege maande later is Rieta en Andries getroud en in Desember verlede jaar is RW gebore.

“Vroeg in ’n verhouding is ’n mens mos maar spelerig. Dis ’n gekielie en gestoei. Dinge wat ek glo ’n huwelik versterk. Later word die spelery minder, maar met die koms van Boeta het ek en Andries ook weer begin saamspeel,” vertel Rieta.

“Ek kan nie onthou wanneer laas ek op die vloer rondgekruip het nie, maar saam met RW ontdek ons weer speletjies soos wegkruipertjie en peekaboo. Dit doen ons verhouding baie goed, want ’n mens voel net so lig en lus vir die lewe. Ek dink wel Andries is die grootste kind van ons twee.”

Andries lig ’n skouer op: “Wat kan ’n mens sê: Boys will be boys! Dis vir my heerlik om weer karretjies te soek en te koop. O ja, ek het nou die dag albasters gesien waarmee ek nie kan wag om te speel nie.”

Andries se optredes neem hom baie weg van die huis af. Wanneer hy terug in Bloemfontein is, is dit sy ontspan- en gesinstyd.

“Vroeg in die oggend, sodra RW wakker is, speel ons almal eers ’n bietjie op ons bed. Dan is dit letterlik heeltyd speeltyd. Vir ’n ruk vergeet ’n mens van roetine en ’n gejaag. Die dag begin op ’n ligte noot en saam skep dit ’n atmosfeer van liefde,” meen Rieta.

[VIDEO] Andries Vermeulen en vroulief Rieta het onlangs ’n seuntjie ryker geword. Ons het by hom gehoor hoe bly hulle verhouding sterk wanneer twee die dag drie word.

Met humor kan ’n paartjie saam oud word

“Speel en humor en grappies was nog altyd deel van my, nog voor ek Andries ontmoet het. Ek en my vriendinne kan lekker laf wees. Eintlik dink ek, ek is die snaaksste van ons twee,” sê Rieta doodernstig.

Andries wag dat Rieta uit die kamer is om na RW te gaan kyk. Knik dan sy kop. “Ja, sy is baie snaaks. Wanneer haar program te besig raak met te veel hooi op haar vurk, val haar tor soms ’n bietjie af.”

Sy woorde was skaars koud: “Ek wil hoor wat jy nou gesê het. My tor is heeltemal op sy plek,” sê Rieta toe sy weer by ons aansluit.

“Sien! Wat het ek jou gesê?” knipoog Andries.

Dan op ’n ernstiger noot: “Ek verstaan nie mense wat nie die humor in goed kan sien nie. Van die verhoog af kan ek mense se emosies dophou en dit vang my as hulle nie kan lag nie. Ek is die Here te dankbaar dat Hy vir my iemand gestuur het wie se hart eintlik so vol lag is.”

“Met die dag van ons troue het my pa gesê ek en Andries moet nooit ophou kommunikeer nie. My ma se raad was dat ons nooit moet ophou speel nie.

“Lag en speel is myns insiens ononderhandelbaar in ’n verhouding. ’n Goeie humorsin moet op jou lysie wees van wat jy in ’n lewensmaat soek. As ’n mens verlief is, is alles in elk geval baie snaaks, maar hoe langer julle saam is, hoe meer kan dit ’n irritasie word as julle nie saam kan lag nie. Julle hoef ook nie oor presies dieselfde goed te lag nie, maar as julle net humor oor die algemeen saam kan geniet, kan julle nog ’n lang pad saamloop.”

Van lekker lag kom lekker huil ook

Selfs al verdien Andries sy brood en botter deur komedie is hy nie altyd noodwendig vir Rieta snaaks nie.

“Andries het twee soorte snaakse: Die snaaks wanneer hy tussen vriende en familie is en net spontaan stories vertel, en dan is daar sy ‘werk’-snaaks waar hy vir my stories vertel wat hy tydens vertonings wil gebruik.

“Ek moes gewoond raak aan daardie Weskus-Namakwalandse soort humor. Dis soms ’n bietjie rou.”

“Dis baie waar,” beaam Andries. “Ek toets baiekeer my stories eers met Rieta om haar reaksie te sien. Soms kan sy nie verstaan hoekom ek skree van die lag terwyl sy niks snaaks daarin kan sien nie.”

Dan was daar die keer toe Andries vir Rieta gelag het en dit eintlik andersom moes gewees het: “Ek kom mos daar van die Sandveld waar Engels nou nie eintlik ’n taal is wat ons praat nie. So gaan kuier ons by Rieta se broer op die plaas. Hy is met ’n Engelse vrou getroud wat daarvan hou om te stap. Rieta sê toe vir haar dat sy solank vooruit moet loop. ‘I’ll walk and meet you at the fork.’ Daar is dit vir my so snaaks dat ek sommer gaan sit van die lag net om uit te vind dit is hoe ’n mens dit in Engels sê.”

“Natuurlik help humor ’n mens deur moeilike situasies, maar die oumense het nie verniet gesê van lekker lag kom lekker huil nie,” sê Rieta.

“As ons byvoorbeeld nou ’n plan moet maak oor iets ernstigs en Andries maak ’n grap daarvan, sal ek nie dink dis snaaks nie. Sit eers koppe bymekaar, dink aan ’n oplossing en oor ’n uur of wat kan ons weer lag.”

“Ek glo ’n mens lag nie vir jou maat se gebreke nie. Trouens, vir niemand s’n nie en in my vertonings is dit ook ononderhandelbaar. Jy lag nie oor dit wat jou maat kortkom nie, want jy is gestuur om dit aan te vul.”

Humor bring reën in ’n droë seisoen

Dit beteken egter nie dat jy nie sáám met jou maat kan lag nie.

“My gesin se veiligheid is vir my baie belangrik. Nou die aand lê ek en Rieta in die bed en gesels, die deure gesluit en die alarm aan. Die volgende oomblik is dit net sirenes wat afgaan. ’n Sekonde en ’n half later is my vuurwapen uit. Daar staan ek toe soos ’n wafferse James Bond, agter die kosyn, gereed vir die bose ding wat op my wag. Twee treë in die gang af sien ek dis ons dierbare ou swart kat wat doodluiters aangedrentel kom. Een van die benoudste oomblikke in my lewe was vir my vrou doodsnaaks.”

“Andries neem sy humor nogal ernstig op, maar ek het by hom geleer dat ’n mens soms net ’n bietjie time-out moet vat en ’n bietjie lag. Humor is iets wat jy kan skep.”

“Ja,” sluit Andries by haar aan. “Gaan kyk ’n komedie saam of van watter soort humor julle ook al hou. Maak herinneringe saam, skryf snaakse oomblikke selfs neer. So het julle ’n ‘humorbank’ waarin julle kan delf vir die tye as dit sleg gaan.

“Humor en speel bring hoop in ’n verhouding. Dit maak nie saak waar jy in jou huwelik is en hoeveel jaar jy al getroud is nie. As ek mense wat al sestig jaar lank getroud is, vra wat hulle resep is, is die antwoord keer op keer dat hulle steeds saam lag. As jy die komiese om jou kan sien, maak dit dinge makliker in ’n droë seisoen sodat julle julle nie teen die donkerte vasstaar nie.”

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Aan die begin was sy andersheid vir jou oulik, nou irriteer sy gewoontetjies jou. Maar dis dalk die bril waardeur jy kyk wat maak dat jy sukkel om hom te aanvaar. As jy ook jou man beter wil verstaan, móét jy hierdie boek lees! Mal oor jou man is beskikbaar op www.voelgoedwinkel.co.za teen R80.

 

lyn_3.png

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA