Nader aan mekaar in onseker tye

Franco Smith

 

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Mamma het 'n breuk nodig

In Mamma het ’n breek nodig maak Susan Coetzer vensters oop op ’n ma se wêreld. Op pittige wyse praat sy oor tye soos wanneer haar enigste kuiken saam met sy pêlle oorsee gaan vakansie hou en die lewenslesse wat sy by ’n vyfjarige dogtertjie kon leer.

Kliek HIER en laai hierdie e-boek GRATIS af.

lyn_3.png

Die spanning van onsekerheid kan paartjies uitmekaar laat dryf. Cheetah-afrigter Franco Smith en sy vrou, Tania, vertel hoe hulle mekaar ondersteun wanneer die toekoms nie voorspel kan word nie.

Ek sou sê ons het meer onseker tye in ons 21 jaar se getroude lewe as die deursnee-egpaar beleef,” vertel Tania solank Franco na sy beursie soek toe ons met die onderhoud begin. “As kind het ek altyd gedink ek gaan vir altyd in een huis op een plek bly. Maar toe ontmoet ek Franco...”

“Het dit,” sê Franco, beursie triomfantelik in die hand toe hy hom by ons aansluit. “Dit was wat ek nou ’n onseker oomblik sou noem,” voeg hy by. “Daar is nogal belangrike goed daarin.”

Gesels eerlik en openhartig oor die opsies

“En ’n lewe soveel anders as my skoolmaats s’n breek toe vir my aan toe ek met hom trou,” hervat Tania haar vertelling.

“Die werk van ’n rugbyafrigter is onseker in die sin dat daar nie lang kontrakte gesluit word nie,” verduidelik Franco. “Dit is soms net ’n seisoen of drie. Dis ’n onseker lewe aangesien ek nie so ver vooruit kan beplan as wat ek graag ter wille van my vrou en kinders sou wou doen nie.”

“Ons eerste skuif was van Bloemfontein na Pretoria toe Franco vir die Bulle gaan speel het,” onthou Tania. “Ek moes besluit of ek my werk gaan prysgee om agter hom aan te trek.” In daardie stadium was Tania ook op die kruin van haar Suid-Afrikaanse netballoopbaan,” vertel Franco. “Maar ek het dit gedoen, want ek het geweet dit is wat Franco gelukkig maak,” voeg Tania by.

“As man voel ek dikwels baie skuldig, maar dit kan soms nie anders nie. Dis vir my belangrik dat Tania presies weet wat die skuif alles gaan behels. Ek probeer so duidelik en eerlik moontlik oor die positiewe en negatiewe punte kommunikeer sodat sy weet waarvoor sy haar inlaat.”

“Soms oorverduidelik Franco ’n bietjie te veel,” sê Tania met ’n glimlag. “Miskien omdat hy in Italië goed in drie tale moes verduidelik voor die span hom gesnap het, voel dit vir my of ek weet wat hy wil sê lank voor hy nog sy sin klaargemaak het. Teen dié tyd het ek soms net ʼn halwe woord nodig.

“Maar,” voeg sy by, “eerder dit as dat ons nie ’n ingeligte en weldeurdagte besluit neem nie. Veral vandat ons kinders het, moet ons hulle ook in ag neem.”

[VIDEO] Gretha Wiid: Hoe vertrou ek weer na 'n affair?

Besluit saam en moenie van plan verander

“Ek dink daar kan probleme tussen ’n egpaar kom as dit net een party is wat die verandering wou maak. As dinge moeilik gaan, is dit maklik om te verwyt,” sê Franco. “Dan is jy nie sterk genoeg om die onsekerheid saam aan te pak nie.”

“Die ander ding waarop ek en Franco lank terug besluit het, is dat wanneer ons ’n besluit geneem het, ons daarby gaan hou. Selfs al was dit die verkeerde besluit, máák ons dit werk. As is verbrande hout.”

“Ons verskil wel in die manier waarop ons besluite neem,” verduidelik Franco. “Ek is geneig om my hart te volg, daar waar die geleenthede is, terwyl Tania my ’n bietjie anders daaroor laat dink.”

“Tog is jy die een wat langer neem om ’n keuse te maak. Dit hang natuurlik ook af van hoe vinnig die besluit geneem moet word. Snaaks genoeg was die grootste onsekerheid wat ek beleef het toe ons na sewe jaar in Italië besluit het om terug te kom Suid-Afrika toe,” vertel Tania.

“Ek het baie vriende agtergelaat en ek was bekommerd oor of die kinders in die nuwe skoolstelsel gaan aanpas. Sal hulle in Afrikaans kan skoolgaan? Verder was ek bekommerd oor ons gesinstyd. In Italië was ons dikwels net op mekaar aangewese. Ons het wonderlike familietye saam gehad.”

“Die druk is hier soveel groter,” vertel Franco. “Die Italiaanse publiek is nie so erg oor rugby soos Suid-Afrikaners nie. Hier is meer kritiek en nie baie geduld met swak prestasie nie. En as dit maar net ek was, maar die druk op my kinders is hier ook groter omdat daar baie van hulle verwag word bloot omdat ek hulle pa is.”

Dink aan al die lekker dinge wat wag

“Ek dink dit is hier waar die truuk inkom. Jy kan kies om bang te wees vir die onsekerheid of jy kan dit sien as ’n avontuur met uitdagings. ’n Uitdaging met nuwe mense en geleenthede wat oor jou pad gaan kom,” sê Tania.

“Reeds daardie eerste keer toe ek my werk in Bloemfontein prysgegee het, het ek besef dat ek anders na die situasie moes kyk. Ek het nie ’n onderwyspos in Pretoria gehad nie, maar het saam met Franco besluit om my eie besigheid te begin. ʼn Raambesigheid, iets wat ek al lankal wou doen. Op die ou end het die onsekerheid my uit my gemaksone gedwing om iets aan te pak waarvoor ek nog altyd te bang was.

“In plaas van om aan te hou dink oor alles wat ons in Italië gaan agterlaat, het ek gekonsentreer op al die lekker dinge wat vir ons gewag het. Een daarvan was beslis om nader aan familie en vriende te wees, want dit was swaar om familie by die lughawe te groet en nie te weet of jy hulle ooit weer gaan sien nie. My pa is byvoorbeeld so skielik oorlede dat daar nie tyd was om hom te gaan groet voor sy dood nie. Hierdie soort goed was vir my erger as die onsekerheid oor wat gaan gebeur as Franco se kontrak by ’n plek verstreke is.”

“En al klink dit soos ’n cliché, neem ons nooit enige besluit sonder God nie. Dan sien ’n mens kans vir enigiets, want jy weet Hy is aan jou kant,” verklaar Franco.

Herinneringe waarop julle kan terugkyk

“Ons sien kans vir baie uitdagings, maar die een onsekerheid wat ek nooit sal oorweeg nie, is om ver weg van my gesin te wees,” sê Franco. “Eerder dan alles saam aandurf.”

“Vir my is dit belangrik om in tye wat die toekoms duister is, te fokus op ons liefde vir mekaar en om gewoontes te skep wat vastigheid gee,” glo Tania.

“Ons het sekere tradisies gehad in die tyd toe ons in Italië was. Een daarvan was om op my afdae, wanneer ons die kinders by die skool afgelaai het, met ’n Vespa na buurdorpe toe te ry en te gaan cappuccino drink,” onthou Franco. “Ons het ook lang ente net saam gaan fietsry.”

“Omdat ons nie regtig ’n ondersteuningsbasis in Italië gehad het nie, het ons, wanneer ons ouers daar was, die gewoonte gehad om vir ’n dag Venesië toe te gaan. Die aand sal ons in ’n hotel oorslaap en net saam wees. Ek onthou hoe Franco eenkeer vir ons ’n gondola-rit wou reël by een van hierdie deftige hotelle. Ek het hom dopgehou en gesien hoe sy gesig spierwit word: ‘120 euro! R1 600 vir ’n rit.’ Ek sal sy gesig nooit vergeet nie. Nodeloos om te sê, dat ons toe eerder Venisië te voet beter gaan verken het.”

“Dis sulke tradisies wat herinneringe maak. Mooi oomblikke waarna ons eendag kan terugkyk en onthou... ons was daar vir mekaar, in tye dat ons nie geweet het wat ons toekoms inhou nie, maar wel seker was van ons liefde vir mekaar.”

lyn_3.png

KOOP

Vroue Wat Glo Tydskrifboek

Finesse se Vroue Wat Glo Tydskrifboek bied jou al die inhoud om jou gees te detoks en weer op die regte dinge te leer fokus, met ’n luukse volkleurontwerp!
Eksklusief beskikbaar by uitgesoekte Pick n Pay-winkels, tot 30 Junie.
Ook beskikbaar aanlyn op Voelgoedwinkel.co.za. Kliek hier.

lyn_3.png

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.