Kan dié huwelik gered word?

Julle werk albei voltyds en kom saans stokflou by die huis. Die geheim is om julle huistake regverdig te verdeel sodat jy ook tyd vir jouself het.

As ons nie destyds “moes” trou nie, sou ek seker nooit voor die kansel gestaan het nie. Ek dink ek sou in my werk opgegaan en baie dinge misgeloop het: ’n getroue lewensmaat, twee wonderlike kinders, ’n gesellige huis en baie troeteldiere. Kortom: ’n propvol lewe.

’n Propvol lewe, ja, met al sy geluk en bevrediging, maar ook sy stres en uitdagings. Met ’n veeleisende beroep het dit van die begin af baie opofferings van my geverg om my loopbaan en my pligte as vrou en ma te behartig.

Ek en my man is albei harde werkers wat ons heel beste vir ons beroepe gee. Ons is ook intense mense. Ek dink baiekeer aan my huwelik as ’n vennootskap: Ons is soos twee perde wat die kar moet trek. Soms trek die een perd net harder as die ander een, wat nogal wrywing kan veroorsaak!

Ek het lankal vrede gemaak daarmee dat die grense tussen die wêreld van die man en die vrou nie meer bestaan nie. Party mans verkies dit om tuis te bly en huis te hou. Sommige vroue, soos ek, kan nie sonder die stimulering van ’n voltydse beroep klaarkom nie.

Dit het natuurlik ’n kopskuif aan my man se kant gekos om te besef dat ek nie in die gewone boksie pas nie. Hy aanvaar darem nou dat ek nooit klere sal kan maak, ’n uitstekende kok sal kan wees of ’n uithaler in die tuin nie. Dis net nie hoe ek aanmekaargesit is nie.

Ek waardeer dit dat hy my beroep respekteer, maar ek respekteer ook syne. Ons gun mekaar vryheid en vertrou mekaar onvoorwaardelik. Wat ons huwelik laat werk, is respek, vertroue en liefde. Wat ons huwelik wel soms knou, is die “(on)regverdige” verdeling van take en gesprekke wat dikwels nie vlot nie. En natuurlik (werk-)stres!

Soms dink ek ons is eenders, maar tog ook baie anders: Ons het albei ’n sterk ontwikkelde sin vir geregtigheid. Ek veg openlik en hy meer subtiel of hy onttrek hom. Ons deel ’n liefde vir ons kinders en ons troeteldiere, maar het dikwels ernstige verskille oor dissipline.

Dít weet ek nou...

My geluk is nie van my lewensmaat afhanklik nie. Ek het lankal besef ek moet my eie mens wees en my eie identiteit behou. Daar is nie so iets soos ’n ideale huwelik nie. ’n Mens moet kan gesels oor enigiets onder die son, maar veral oor jou huwelik en jou eie gevoelens, die dinge wat jou kwaad maak en frustreer.

Ek weet dat ’n mens soms net moet toegee. Laat die honde maar op die bank en op jou maat se skoot sit. Hulle is sy beste vriende. Aanvaar die feit dat hy nie lus het om te praat wanneer hy moeg van die werk af kom nie, al is jy net so moeg en al wil jy ’n paar dinge vir hom vertel.

Dít wil ek vir vroue sê

Moenie stagneer nie – jy moet kan saampraat oor die dinge wat hom interesseer. Leef jou uit in jou eie stokperdjies of beroep en bly jouself. Wees ferm en dring daarop aan dat hy jou met julle huishouding en die kinders help. Maak jou huis mooi en gesellig vir jou mense.

*Skuilnaam