Kan dié huwelik gered word?

Alle huwelike beleef van tyd tot tyd ’n krisis – finansies, ’n affair, verslawing – maar deur geloof en harde werk kan ’n krisistyd in ’n groeityd omskep word.

Nerina* se storie

Dit was ’n gewone Augustusmaand toe my pragtige huwelikshuisie inmekaar getuimel het. Op daardie stadium was ek nog onder die indruk dat ek en my man eintlik ’n baie goeie en gelukkige huwelik gehad het. Ek kon dit nie verstaan as vroue sê hulle het nooit vermoed dat hulle huwelik in gevaar was nie. Ek het dit eers begin begryp toe ek tot die skokkende besef gekom het dat dit presies was wat met my gebeur het!

Dit was die begin van ’n lang en opdraande stryd om die gevoel van teleurstelling, ontnugtering en verwerping te hanteer. En die woede – vir hom en vir myself. Hoe kon ons albei toegelaat het dat so iets gebeur? Het ek verkies om al die waarskuwingstekens te ignoreer of was daar regtig nie ’n manier dat ek kon geweet het nie?

Vir ons was egskeiding nooit ’n opsie nie. Ons het eerder na maniere gesoek om die krisis konstruktief te hanteer. Ons was gelukkig: Daar is mense na ons toe gestuur wat ons met professionele raad gehelp het om dit wat gebeur het, in perspektief te plaas. Ons kon deur berading al die onverwerkte emosies hanteer.

Ons het albei besef dat wat gebeur het, eintlik net ’n simptoom was van ’n huwelik wat nie kerngesond was nie. Eers nadat ons geleer het hoe om effektief te kommunikeer en konflik konstruktief te hanteer, kon ons emosioneel meer intiem wees. Ons was baie nader aan mekaar as voorheen!

Met genade en tyd wat wonde heel, terapie en stilword voor God het ek baie dinge geleer. Ek het besef dat die verbintenis tot jou huwelik en jou huweliksmaat ’n wilsbesluit is. Voor jy trou, kan jy kies vir wie jy lief is, maar ná die troue moet jy die een liefhê wat jy gekies het!

Liefde en vergifnis is nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit. Jy kies om iemand onvoorwaardelik lief te hê en te vergewe. Namate jou dade en gedrag hierdie besluit uitleef, sal jy dit ook begin voel. Om jou huwelik te maak werk, moet jy baie tyd en energie daarin belê.

Dít weet ek nou

’n Mens is geneig om verskonings te soek en omstandighede die skuld te gee: Hy is oorwerk en oormoeg, ons pas aan by ’n nuwe baba of ons is albei gespanne. Maar die realiteit is dat daar altyd die een of ander moeilike omstandigheid sal wees. ’n Mens moet binne hierdie realiteit sorg dat daar genoeg emosionele intimiteit is om mekaar juis in hierdie tye te ondersteun.

Ek weet ook dat ’n huwelik wat nie op die fondament van ’n lewende verhouding met God gebou is nie, moeilik kan oorleef. Hierdie fondament gee ’n mens ’n heeltemal ander perspektief en lewensbeskouing. Julle is twee mense wat met ’n spesifieke doel by mekaar uitgebring is. Daarom het julle ’n verbintenis teenoor God en teenoor mekaar.

Dít wil ek vir vroue sê

Geniet jou man en sorg dat daar genoeg humor en lekker tye is. Bestuur julle tyd so dat julle daagliks gehaltetyd by mekaar kan deurbring. Laat hom weet dat jy hom liefhet en dat jy hom as man en pa waardeer. Maak dit vir hom lekker om by die huis te wees!

*Skuilnaam