Ek glo maar ek dweep nie

Ons ken haar as Dowwe Dolla wat gehore met haar kwinkslae en vlymskerp humor laat skater, maar Margit Meyer-Rödenbeck stap ook ’n diep gelowige pad.

'N GEDWEEP OOR DIT WAARIN ’N MENS GLO, SIT MY SOMMER HEELTEMAL AF. Dwepers is mense wat kritiek lewer en ander veroordeel en laat sleg voel oor wie hulle is of hoe hulle optree. Dít natuurlik met ’n Bybel netjies onder die arm!

My ma het altyd gesê enigiets wat “te” is (buiten tevrede!), is nie goed nie. Natuurlik is nie almal wat hulle oortuigings deel noodwendig dwepers nie. Mense praat gereeld oor geloof, maar dit word nie as ’n gedweep ervaar nie. Alles hang af van hoe dit gedoen word – dade praat harder as woorde.

Dis beter om vrolik en opbouend te lééf sodat die mense wat nog nie glo nie, geïnspireer sal voel en daardie vrede ook in hulle lewe sal wil hê. As ander mense om jou nie in jou optrede kan sien dat jy glo nie, beteken jou geloof ook nie veel nie. Jou lewe moet die verskil wys.

Sodra dit vir my voel asof iets in my keel afgedruk word, maak dit my ongemaklik. Dit steel sommer ’n mens se lag en maak jou moeg. Ek wil van nature eerder mense aantrek as afskrik; daarom is dit belangrik dat my geloofslewe ook so sal wees.

Geloof is geïntegreer in alles wat ek doen – dit is deel van wie ek is. Hierdie siening bepaal my optrede en die rigting waarin my projekte ontwikkel, al is dit nie geestelik van aard nie. Ek kan dalk nie vir jou ’n klomp Bybelverse opsê nie, maar my verhouding met God is baie werklik.

OM IN DIE VERMAAKLIKHEIDSBEDRYF UIT TE LEEF WAARIN JY GLO, IS NIE REGTIG SO ’N GROOT uitdaging soos wat almal geneig is om te dink nie. Daar bestaan mos ’n persepsie dat die vermaaklikheidsbedryf uit ’n klomp “wilde” mense met ’n losbandige leefwyse bestaan.

Miskien is daar enkeles wat wel so is, maar die oorgrote meerderheid van mense met wie ek gereeld te doen het, is eintlik baie verdraagsaam teenoor mekaar. Al stem nie almal saam oor dit waarin jy glo nie, sal niemand jou siening sommer net afskiet nie. Elkeen word sy of haar opinie oor sake gegun.

Daar is nogal ’n omgee in die bedryf wat nie altyd op ander plekke gesien word nie. Kom ons dink aan welsynsprojekte. Het jy al gehoor dat ’n ingenieur of tandarts gevra word om dienste gratis te lewer? Nie maklik nie! Tog word sangers en akteurs gereeld genader om gratis by fondsinsamelingsprojekte op te tree. Die meeste kunstenaars het sagte harte en doen dit graag.

Sal ek standpunt inneem as iets teen my geloof indruis? Natuurlik. Op dieselfde manier is ek nie bang om op te staan as iemand rassistiese uitlatings maak, lieg of neerhalend teenoor iemand anders optree nie.

Dis nie nodig om elke keer ’n bohaai op te skop as iets teen jou oortuigings indruis nie. Maar as iets pla, moet jy beslis praat – dit is tog waarom jy ’n stem gekry het. As dit op die regte manier en met respek gedoen word, kan mense eerder na jou kant toe oorgewen as afgesit word.

CHRISTENFILMS IS NOGAL ’N BALANSEERTOERTJIE. DAAR IS TWEE VEREISTES: DIE STORIE MOET sterk wees en dit moet goed aangebied word. As kinders by kinderteater te ooglopend ’n les aan die einde van die stuk moet leer, sit dit hulle af. Dieselfde geld vir Christenflieks.

Die boodskap moet nooit opdringerig wees nie. Dit moet eerder ’n mengsel wees van ’n mooi storie en goeie tegniese werk. ’n Voorbeeld hiervan is Regardt van den Bergh se fliek Uitvlucht. Dit is ’n film met ’n geestelike ondertoon wat baie goed aangebied is.

Christenfilms en gospelmusiek gaan in ’n groot mate oor smaak. Soms hou ek nogal van die musiek en ander kere weer glad nie. Dit steek my dwars in die krop as kunstenaars ’n gospel-CD uitreik omdat hulle weet dat daar ’n mark daarvoor is, maar hulle doen dit met die verkeerde hart.

Die boodskap wat hulle wil oorbring, is dan nie eg nie. Dit klink miskien krities, maar ek het ’n broertjie dood aan mense wat voorgee om iets te wees wat hulle nie is nie.

Met die ekonomie wat druk en die feit dat vermaak ’n luuksheid word, moet ons in die vermaaklikheidsbedryf veral fokus op uitstekende inhoud en goeie beplanning. Waar ons byvoorbeeld altyd geld gehad het om tot vyf weke lank aan ’n verhoogproduksie te repeteer, het ons deesdae net twee weke.

Ek sal dit oorweeg om in ’n Christenfilm te speel as die boodskap iets is waarmee ek my kan vereenselwig en dit goed en smaakvol aangebied word.

GELOOF IS NIE BEPERK TOT SONDAE NIE. Die Skepper moet elke dag van die week deel wees van jou lewe. Ek sal soms net ’n lekker vrolike gesprek met Hom hê terwyl ek motor bestuur. Ander kere is ek gefrustreerd en geïrriteerd met die verkeer en dan hoor Hy sommer daarvan ook!

Een element is egter altyd daar en dit is egtheid. Ons verhouding is sonder pretensies. Hy ken my deur en deur en bly lief vir my, ten spyte van al my foute. Ons leer byvoorbeeld vir Luca, ons dogtertjie, dat as sy bid, sy nie skielik groot woorde hoef te gebruik nie. Sy kan met haar hemelse Pa praat net soos sy met haar aardse ouers praat – natuurlik altyd met respek.

Ons tafelgebedtyd is vir ons gesin baie kosbaar. Luca is agt jaar oud en sy neem gewoonlik sommer die gebed oor en ryg dan die hele dag se stories uit.

Sy begin dankie sê vir die kos en koeldrank, die warm huis en ons gesondheid. Kort voor lank praat sy oor alles wat daardie dag by die skool gebeur het. Sy sal sê met wie sy baklei het, wat vir haar lekker was en wat haar hartseer gemaak het. Buiten dat dit sjarmant is, is dit vir my so opreg – dit laat my hart smelt.

Die kruks is, ons verhouding met Hom moet heeltemal natuurlik en sonder voorgee wees. Dit bly natuurlik elke gelowige se saak hoe hy of sy die verhouding hanteer.

MENSE WAT DWEEP, SKRIK MY HEELTEMAL AF. OMDAT EK ’N ANDER TIPE persoonlikheid het, kan ek my glad nie vereenselwig met mense wat fanaties is en hulle “heilig” hou nie. In die tyd waarin ons leef, loop baie mense met ’n onderliggende geïrriteerdheid in hulle rond. Dink maar hoe maklik motoriste op die paaie onverwagse woedeuitbarstings kry.

Dit is asof die tegnologiese era daartoe bydra dat mense nooit meer afskakel nie. Omdat ons nie genoeg slaap en rus kry nie, is ons permanent geïrriteerd. Dis hoekom ons ons vir die geringste dingetjie sal vererg.

Die hartseer ding is, soms haal ’n mens jou frustrasie uit op die mense vir wie jy die liefste is.

Ons is mos die strengste met die mense die naaste aan ons. As elke mens net by haarself kan begin en stappie vir stappie kan verander, gaan ons ’n ver ent kom. Sodra ons ander begin behandel soos onsself behandel wil word, sal ons ’n verandering in die land begin sien.

Wat kan gelowiges doen om anders te wees en uit te staan? Jy hoef nie te gaan sendingwerk doen om ’n verskil te maak nie. Begin klein. Begin by jouself en tree meer verdraagsaam op teenoor almal wat elke dag jou pad kruis – die petroljoggie of die ongeskikte bestuurder wat voor jou inswenk.

As ons begin om meer empatie aan ander te bewys en met meer liefde teenoor mekaar op te tree, sal dit selfs ongelowiges kan inspireer om ons voorbeeld te volg.

DAAR IS MIN GELOWIGES WAT NOG NOOIT OOR GELOOF GETWYFEL HET NIE – PARTY NET ’n bietjie, ander baie meer. Ek het ook al daarmee geworstel.

Wanneer slegte dinge in ’n mens se lewe gebeur wat die mat onder jou uitruk, wonder jy maklik hoekom God dit toegelaat het. Waarom het Hy nie die siek familielid genees nie? Waarom moes die hele gesin in ’n ongeluk sterf? Hoekom sukkel party vroue om swanger te raak? Daar is oneindig baie vrae wat ’n mens kan vra.

In ’n krisis sukkel ons soms om uitdagings te verstaan en te verwerk. Dit neem tyd om deur trauma te werk. Tog moet ons nie altyd probeer om alles uit te figure nie.

Mag ons vrae vra? Natuurlik. Dit is tog hoekom ons ’n verstand het. Ons is nie skape nie, maar het ’n redeneringsvermoë gekry wat ons moet gebruik. Ons mag vrae vra. Ons mag redeneer. Ons hoef nie alles vir soetkoek op te eet nie.

Daar is wel sekere situasies waar jy kan dink en redeneer soveel soos jy wil en dit gaan nie help nie. Dit gaan jou net op die punt bring waar jy besef dat jy nie al die antwoorde het nie. Dis juis hier waar ’n mens moet leer om soms net oor te gee en te vertrou dat al is jy nie in beheer nie, daar Iemand groter is wat wel is. Hy ken die toekoms en weet waarheen ons lewe op pad is. Hierdie wete maak my altyd rustig wanneer ek bekommerd raak oor môre.

’N LOOPBAAN IN DIE VERMAAKLIKHEIDSBEDRYF IS VIR MY ’N ROEPING. DIT VERG NATUURLIK harde werk. As dit net oor geld en roem gegaan het, sou ek seker jare gelede al opgehou het, want dit is regtig moeilik om ’n pad in die bedryf oop te kap.

Min mense het soos Charlize Theron ’n big break gehad omdat hulle op die regte tyd op die regte plek was. Die oorgrote meerderheid van ons moes ontsettend hard werk om sukses te behaal en te kom waar ons vandag is.

Jy kom vinnig agter dat sommige mense baie talente gekry het, maar dit beteken nie dat hulle noodwendig suksesvol is nie. Nie almal is altyd fluks genoeg om hulle talente te ontgin nie. Ander mense, soos ek, het dalk minder gekry, maar woeker daarmee.

Natuurlik wens ’n mens soms jy het ook voor in die ry gestaan toe talente uitgedeel is, maar om dit wat jy wel ontvang het, ten volle te gebruik, is tog wat dit beteken om werklik suksesvol te wees. Baie mense sit en wag dat iets na hulle kant toe moet kom.

Dit is belangrik om jou passie te ontdek en self werk te skep om suksesvol te wees. Ons skryf self my produksies en doen ook die regie daarvan. Jare gelede wou ek medies gaan studeer.

Op die laaste oomblik het my lewe egter ’n ander wending geneem en ek het drama gekies. Miskien is komedie tog die manier waarop ek mense help genees. Lag is immers ’n unieke vorm van medisyne!

EEN VAN DIE GROOTSTE WONDERWERKE IN MY LEWE IS MY DOGTER, LUCA. SY IS NA ons tweede in vitro-bevrugting gebore. Dit het egter nie sonder komplikasies gebeur nie. Tien weke voor my verwagte datum het ek in kraam gegaan. Die dokters het heelnag gespook om die bevalling te keer. Al was ek hóé bang, het ek die hele tyd geglo alles sal reg uitwerk. Dit het, en daarvoor is ek baie dankbaar!

Na Luca was daar nog mislukte in vitro-pogings. Nadat ons besluit het om op te hou met die behandeling, het ek natuurlik swanger geword. Drie maande later het ek egter ’n miskraam gehad.

Dit het my platgeslaan en ek was lank kwaad vir God omdat Hy dit toegelaat het. As ek nou terugkyk, besef ek dat hierdie pad my dankbaarder gemaak het vir wat ek wel het – ’n lieflike meisiekind wat ek vir niks in die wêreld sal verruil nie!

Hoe leer ek vir Luca glo? Sy het ’n groot klomp Christelike boeke en Bybels. Sy is mal oor lees. My assistent, Carna Visser, is ook diep gelowig en sy en Luca gesels gereeld oor geloof. Ons maak Luca met ’n oop gemoed groot. Ons sal haar byvoorbeeld nie ontmoedig om vrae te vra oor God se bestaan nie.

Dit is tog logiese vrae wat sy vir haarself moet kan uitredeneer. Vir my is dit belangrik dat sy sal besef dat ’n verhouding met Hom eg moet wees. Hy is wel jou Vriend, maar respek bly uiters belangrik.

ONS MOENIE TOELAAT DAT DIE UITDAGINGS IN ONS LAND ONS NEGATIEF MAAK NIE. NEGATIEWE gebeure is natuurlik die perfekte materiaal vir enige komediant om tydens optredes te gebruik. As ons deur al die donker dinge kan sif om tog iets te kry waaroor ons saam kan lag, word die moeilike uitdagings makliker om te trotseer.

Miskien is dit juis hierom dat satire vir gehore soveel vreugde verskaf. Met satire is ’n mens vir seker nie almal se vriend nie en nie almal sal van jou hou of met jou saamstem oor wat jy sê nie, maar ten minste laat dit die gemeenskap dink. En soms kan iemand hopelik saamlag, al stem ons nie oor alles saam nie.

Lag bind mense saam. Lag is nie beperk tot taal, ouderdom of kultuur nie. As ons dit kan regkry om te lag, is ons besig om oor grense nader aan mekaar te beweeg. As jy iemand van ’n ander kultuur of ras vir jou sien glimlag, voel dit of jou hart sommer gevul word met hoop. Met daardie ingesteldheid kan ons in dieselfde rigting beweeg.

Kan gebed vir die land werk? Dit moet net! Dit is ons enigste antwoord. Gebed moet egter oorgaan tot aksie. Ons as gelowiges moet uitgaan en die wonderwerke word deur hoe ons teenoor mekaar en die wêreld optree.

Met ’n groter verdraagsaamheid teenoor mekaar sal ons land op emosionele en geestelike vlak gered kan word. As dít eers reg is, kan dit hopelik oorspoel na die ekonomiese en politieke vlak ook – en dán begin ons almal wen!

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test