Vir altyd te kort

by Blogger - Annalize van den Heever / Oct 11, 2017 / 1 Kommentaar

Sy was jonk…net so ietsie oor die veertig en haar lewe het voorgelê.  Sy het gedroom en gelag en geglo in môre.

Sy is weggeneem deur ‘n siekte wat haar vlam gedoof het, maar nie haar lig kon steel nie. Sy wou bly, maar sy het gesterf en ons rou.  Haar lewe het saakgemaak en sy was kosbaar.  Sy het mense agtergelaat wat haar altyd sal onthou.  Sy het ‘n stukkie van haarself by hierdie mense gelos en ‘n stukkie van hierdie mense het saam met haar gesterf.  Die Here het gegee en die Here het geneem.

Hy was jonk, maar hy was moeg.  Hy het liefgehad en was geliefd, maar hy kon nie meer nie.  Die donker het hom bang gemaak en hy wou nie meer nie.  Hy het liefgehad en gelag, maar hy kon nie môre sien nie.  Sy vlam is geblus deur ‘n onsigbare siekte.  ‘n Siekte wat sy siel verteer het en hom opgevreet het. Hy wou bly en hy wou sterf. Hy wou sterf en hy wou bly.  Hy het gesterf en ons rou.  Sy lewe was kosbaar en het saakgemaak.  Hy het mense agtergelaat wat hom nooit sal vergeet nie.  Hierdie mense wonder of hulle meer kon doen om hom te laat bly?   Die Here het gegee en die Here het geneem.

Sy was jonk..hy was jonk. Hulle vir ewig was net ‘n oogknip lank.

Selfmoord en kanker.  Net twee stories van die ses wat ek kan vertel van mense wie se tyd op aarde te kort was.  Onsigbare en sigbare siektes. Mense wat saakgemaak het.  Mense wat spore getrap het en gevoel het.  Mense wat liggaamshitte afgegee het.  Mense wie se dood diep gate in harte los. Mense wat ander geïnspireer en bemoedig het terwyl hulle self besig was om te sterf.  Sommige van hulle sigbaar  en ander in geheim.

Hulle stoele is leeg vir altyd, maar hulle sal vir altyd bestaan vir die mense wat hulle liefhet. 

Ons weet nie wie is volgende nie. Ek kyk na die mense vir wie ek lief is en ek weet net dit….ek wil hê hulle moet weet dat ek hulle liefhet.  Wanneer iemand dood is maak gister se baklei en seerkry nie meer saak nie.  Wrokke en seer word verterende berou.

Sien die mense om jou raak en wees lief vir hulle vandag.  Nie môre as hulle dood is nie.  Dis te laat.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test