Emosies- Hoe jy voel oor dinge, mense en gebeure

Selfs op ’n sonskyndag is emosies maar ’n duistere ding. En hoewel ons dieselfde woorde gebruik om dit te beskryf, soos gelukkig, hartseer, kwaad, verlate en verlief, beteken dit vir elkeen iets heeltemal anders. Al verwysingsraamwerk wat jy het, is dit wat in jou eie hart aangaan.

Emosies IS ...

  • Emosies is die manier waarop jy met gevoelens reageer op die dinge wat jy waarneem.
  • Dis meer as net trane of lag of haat. Dis ’n uitdrukking van hoe jy as mens dinge verstaan en interpreteer.
  • Emosies is liggaamsgevoelens wat jy assosieer met jou temperament, persoonlikheid, motivering en buie.
     

Emosies IS NIE ...

  • Emosies is nie as sodanig positief of negatief nie – dit hang af hoe jy dit gaan gebruik.
  • Emosies is nie die werklikheid nie, maar slegs jou reaksie op wat jy as die werklikheid beleef.
     

Dis NORMAAL

Die realiteit is dat ons almal soms kwaad word of hartseer voel. Soms is die emosie geregverdig, soms nie. Ons moet onthou dat geen emosie onaanvaarbaar is nie. Ons is in totaliteit, met al ons emosies, deur God gemaak. Die geheim is om te leer om jou emosies te bestuur sodat dit jou lewe en verhoudings bou en nie afbreek nie.

BOU DIT of breek dit af?

In elke verhouding is daar ’n lyn wat nie oorgesteek moet word nie. Alhoewel ons nie moet stilbly as ons iets nodig het of as mense ons te na kom nie, word daar in ’n verhouding mure gebou of afgebreek. Woede is dikwels slegs die uiting van frustrasies weens jou onvermoë om jou eie emosies en behoeftes effektief te identifiseer en oor te dra.

Woedeuitbarstings kan ’n patroon word en ons kan selfs glo dis ons persoonlikheid. Dit bly egter ’n keuse. Jy kan kies om ’n nuwe patroon te ontwikkel.

Wat DOEN jy daarmee?

Alle emosies is aanvaarbaar omdat ons almal mense is. Dit is egter wat jy as gevolg van jou emosie doen (jou gedrag), wat dikwels die probleem is. ’n Emosie soos bekommernis maak jou net daarvan bewus dat daar iets is waaraan jy aandag moet gee. Iets wat jou kwesbaar en buite beheer laat voel. Staan dus ’n paar minute aan die emosie af, maar moenie dat dit jou lewe oorneem nie.

LUISTER na jou emosies

Jy is al een wat jou emosies kan beheer. Niemand kan jou dwing om iets te voel nie. Jou behoeftes en hoe jy daaroor dink, is die oorsaak van die emosie. “Jou emosies vertel jou presies wat in jou lewe aangaan,” sê lewensoriënteerder Sonia Berisford Murray.

“As jy na jou emosies luister, verstaan jy wat jy voel, hoekom jy so voel en begryp jy jouself ook beter.”

VERSTAAN jou emosies

Gaan sit vir ’n oomblik stil sodat jy jou emosies kan voel. Is daar gevoelens wat jou keer om voluit te leef? Is jy bang, bekommerd of teleurgesteld? Lag, huil, skree – doen wat jy moet om dit uit jou gestel uit te kry. Probeer agterkom wat jou ongelukkig maak. Jy gaan dit nie noodwendig in een dag verander nie, maar wees bewus daarvan. As jy ongelukkig is by jou werk, kan jy nie summier bedank nie. Maar jy kan anders daarna kyk.

“Maak jou oë wawyd oop,” verduidelik Sonia. “Kyk na jou kollegas, jou werk, jou vriende ... dis alles joune! Iemand anders wens dalk hulle het dit gehad.” Bekyk dinge met ’n glimlag en vertroetel jouself aan die einde van die dag. Ontspan in stilte of dans op die maat van jou gunsteling CD.

Word EMOSIE-SLIM

Ons kan nie besluit hoe mense teenoor ons sal optree nie, maar ons kan besluit hoe ons gaan reageer. Emosionele intelligensie is baie belangrik, want as jy dit onder die knie het, sal jy jou nie sommer vererg vir elke opmerking wat gemaak word nie.

Die meeste mense besef dalk nie eers dat hul op jou tone getrap het nie. Deur daaroor te loop en broei gaan niks help nie en net tot selfbejammering lei. Jou negatiewe gedagtes gaan almal rondom jou ook ongelukkig maak. Deur net ’n oomblik lank oor jou situasie te dink voordat jy reageer, sal jou help om jou emosies doeltreffend te beheer. Dan het jy nie nodig om jammer te sê oor dinge wat liefs moes gebly het nie.

HOU jou emosies IN TOOM

Hanteer jou emosies só:

  • Ken jouself – Dink waarom jy so emosioneel voel – byvoorbeeld, hoekom is ek kwaad?
  • Selbeheersing – Tel tot 10. Doen dit letterlik, want dit werk regtig! Dit gee jou tyd om weer beheer oor jou emosies te kry en te besluit hoe jy anders kan reageer teenoor iets of iemand wat jou ontstel.
  • Beskerm jouself – Hoe gaan jy dit wat jou ontstel, hanteer? As dit die daaglikse nuus is, kan jy probeer om minder nuus te lees of nie na die nuus op TV te kyk nie.
  • Praat met iemand – As jy jou gevoelens net eers verwoord sien jy dit in perspektief en raak dit al hoe meer hanteerbaar.
  • Kry afstand – Besluit of dit wat jou nou ontstel, oor ’n maand of twee nog gaan saak maak. Indien nie, haal asem en ontspan.

  • Kontroleer jou binne-praat – Hoe jy in jou binneste dink oor iets het groot invloed op hoe jy voel. Konsentreer daarop om oor positiewe dinge te dink, en verander jou denke as jy agterkom jy dink negatief.

As jy al hierdie dinge gedoen het, moet jy dit in die Here se hande los, jy het nou gedoen wat jy kan. Moenie verder energie mors deur aan te hou dink oor dit wat jy nie kan verander nie.

WYS jou ware gevoelens

Ons kwesbaarheid maak ons regte mense. Tog kies ons om ʼn leuen te leef, want ons dink “as ander moet weet wie en hoe ek is, sal hulle my verwerp”. Indien jou lewe ʼn vertoon na buite is, moet jy aanvaar niemand sal jou verstaan of weet hoe jy regtig voel nie. Jy moet ook weet dat jy ook nie werklik getroos sal voel wanneer ander jou probeer bystaan nie.

Moenie wegskram van INTIMITEIT

Jy hoef nie bang te wees vir intimiteit nie. Egte intimiteit het ʼn mekaar-karakter: as ons mekaar nie vertrou, ondersteun, help en bymekaar leer nie, kan daar geen ware intimiteit wees nie. Ons moet van ons intiemste gedagtes en gevoelens met mekaar deel en die risiko loop om nie altyd reg verstaan te word nie.

Egte intimiteit LYK SÓ

  • Ons beoefen intimiteit wanneer ons ons ware behoeftes (en daarmee saam ons kwesbaarheid) blootlê.
  • Dit maak ons bereid om ons vrese en onsekerhede teenoor mekaar te erken en raad te vra.
  • Eerlike intimiteit beteken dat ons ons verleenthede met ander deel sodat ons mekaar kan versterk.
  • Dis om as vlees-en-bloed-mense opreg voor mekaar te leef.

 

kommentaar (1)

  • Christine (kommentaar)

    EK wil nie so voel nie, ek wil our dit kom ek wil uit dit kom. EK bevraagteken wife God werklik is. Dinge gaan so verkeerd en ons moet dit net aanvaar want dis in in God se plan nie en wanneer weet ons God se plan.

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test