Ek het my stokperdjie in ’n besigheid verander

Jy het dalk al lus gehad om met jou eie onderneming te begin? Dis eintlik heelwat makliker as wat jy gedink het!

“ʼn Stuk lap was die begin van my besigheid’”

Jy sal dikwels die aktrise Sandi Schultz (dr. Jennifer Adams van Binneland) agter haar naaldwerkmasjien besig om klere te maak. “Toe ek ’n tiener was, het my ma stukke lap huis toe gebring en ek het goed aanmekaar begin werk. Ek het nog altyd daarvan gehou om met lap te speel.” Sy besit vandag die klerereeks Sass Designs.

Die stokperdjie het eintlik regtig eers begin vlamvat toe sy in Amerika gebly het. “Ek was deel van ’n groep wat hoela-hoep-vertonings gedoen het en ons moes ons eie kostuums maak.” Terug in Suid-Afrika het sy vir haarself klere gemaak en haar vriendinne het bestellings begin plaas. “Later kon ek glad nie meer alles self maak nie en het toe besluit om met hierdie klein modereeksie te begin.”

Sandi sê dit is baie harde werk om ’n stokperdjie in ’n besigheid te omskep. “My klerereeks het nie verder gegroei nie, want ek het nie tyd gehad om daaraan te werk nie. Maar nou gaan ek die nodige tyd inploeg; dit kon al baie groter gewees het.” Sy maak ook kostuums vir die jaarlikse AfrikaBurn-byeenkoms. “Ek besoek tweedehandse winkels en sal R5 betaal vir ’n stukkende tuinsambreel en dit in ’n romp verander.” Sandi waarsku dat dit belangrik is om die liefde vir die stokperdjie te behou.

Uitgawe om te begin: R30 000. “’n Rol materiaal kan tussen R3 000 en R8 000 kos, afhangend van die materiaal.”
Beste besluit: Om ’n webwerf te begin. “Mense begin al meer en meer om produkte aanlyn te koop.”
Swakste besluit: Om nie die werkslading minder te maak deur meer te delegeer nie. “Jy kan dit nie alleen doen nie.”
Besigheidswenk: Laat jou besigheid organies groei. “Moenie probeer om dit te forseer nie. Bou jou besigheid stadig op.”
*Besoek: www.sassdesigns.co.za

[pagebreak]

Hoe kan ek seker wees my besigheid sal slaag?

Professor Jurie van Vuuren, voorsitter van entrepreneurskap aan die Universiteit van Pretoria se departement besigheidsbestuur sê: Dit is ’n sinvolle besluit om te sê jy wil geld uit die produk maak. Vra jou af of jy meer mense se behoeftes kan bevredig as om dit bloot net vir jou vriende te doen. So betree jy die mark.

Die grootste gevaar is om verward te raak tussen ’n idee en ’n geleentheid. ’n Idee is iets wat jou ma, jou skoonma en jou suster as ’n goeie idee beskou, maar ’n geleentheid het drie beskrywings:
1) Die produk moet aantreklik vir die mark wees.
2) Dit moet tydig in die mark wees.
3) Dit moet volhoubaar wees.

As die produk slegs ’n idee is, moet jy bewys dat dit ’n geleentheid is. Jy loop dalk dikwels in winkelsentrums by interessante winkeltjies verby – wat vandag daar is en môre weg. Hoekom maak winkels toe? Hulle is bloot besig met idees en nie met geleenthede nie.

Om jou eie onderneming te begin as jy regtig gemotiveerd is en jy die passie daarvoor het, is eintlik pret. Jy moet net weet dit gaan meer kompleks word. Mense gaan met sekere vereistes na jou toe kom. Sodra jy geld begin vra, het almal mos iets daaroor te sê!

In Sandi se geval, toets sy die mark op ’n veilige manier. Haar vriende kan van hulle kant af sê of dit lyk of daar ’n behoefte is. In hierdie stadium het sy net ’n kleinsakeonderneming. Die enigste manier om entrepreneuries te word, is om vir haarself te sê: Kom ek brei dit uit. En daarvoor gaan sy mense nodig hê.

‘Ek wou net graag iets lekkerder doen’

Nicolien du Plessis bedryf al 17 jaar lank Niki’s Country Collection op die plattelandse dorpie Villiers in die Vrystaat. Vroeër het sy Niki se Padstal langs die N3 besit het.
“Ek het nie meer lus gehad vir al die konfyt kook nie. En toe eendag ’n lasermasjien gesien – en die geleentheid in die mark,” vertel Nicolien. Dié onderneming ontwerp interessante geskenkies wat uit hout gesny word. Die voormalige personeel van Niki se Padstal is by Niki’s Country Collection ’n werksgeleentheid aangebied. “Dit gaan eintlik maar oor werkskepping omdat ons op die platteland is,” sê Nicolien.

[pagebreak]

Vennoot Lucretia Schabort vertel dat die Niki’s Country Collection-idee eintlik iets was om die vroue op die dorp mee besig te hou. “Dit het net gebeur omdat dit iets lekkers was om te doen,” vertel Lucretia. “Villiers is so klein en werksgeleenthede is min. Elkeen se kreatiwiteit word op ’n manier gestimuleer.” Niki’s Country Collection bestaan uit 16 mense, wat dit moontlik maak om by 36 markte ’n jaar uit te stal en die produkte in 150 winkels regoor die land te verkoop.

eie_besigheid.jpgDie uitdaging om ’n stokperdjie in ’n besigheid op die platteland te omskep is veel groter, vertel Lucretia. “Die platteland het nie al die produkte nie en ons krag en water is nog meer sporadies as in die stad!” Tog is daar talle voordele, sê sy. “Dit is rustiger en jy kan ’n hand op jou besigheid hou omdat dit nie so groot is nie.”

Uitgawe om te begin: R300 000 vir die eerste lasermasjien. “Na drie maande het dit so goed gegaan dat ek die volgende masjien kon koop.”
Beste besluit: Om ag te slaan op die mark se behoefte. “Die 17 jaar ervaring het my baie gehelp om te weet wat mense wil hê.”
Swakste besluit: “Ek moes van die begin af die regte perseel gehad het. Nou het my besigheid so groot geword dat ek ’n fabriek moet bou.”
Besigheidswenk: “Jy moet klein begin en luister na wat ander mense wil hê.”
*Skakel Lucretia: 082 352 4155

“Kan ʼn besigheid in die platteland werk?”

Professor Jurie van Vuuren: Die eerste stap is om ’n vraelys op te stel en in daardie dorpie te gaan rondloop. Vra vir die mense of hulle in so iets sal belangstel. Sal hulle dit koop?
Hoeveel sal hulle bereid wees om daarvoor te betaal?

Dan moet jy besluit of jy kans sien om die risiko te aanvaar. Wanneer jy ’n geleentheid sien, is daar net een manier om die moontlike sukses daarvan te bepaal – jy moet ’n uitvoerbaarheidstudie doen.

Elke keer wanneer Niki’s Country Collection ’n nuwe produk op die mark wil plaas, moet hulle gaan kyk of daar ’n behoefte in die mark is vir daardie spesifieke produk. Mense sal dikwels sê: Kom ons doen dit en kyk of die mark dit wil hê. Dit is totaal en al die verkeerde benadering. Gaan kyk wat die mark wil hê en dan maak jy dit.

[pagebreak]

Dit is belangrik om ’n balans te vind. ’n Tuisonderneming gaan sekere aspekte van jou lewe raak. Omdat dit ’n bron van inkomste vir die gesin is, sal almal moet weet dat hulle sekere aanpassings sal moet maak. Ander uitdagings is dat jy baie meer stres het as jy vir jouself werk. Jy werk nou teen jou eie tyd. Entrepeneurskap beteken om op klein skaal te begin en dan te groei.”

Jou stokperdjie kan ’n reusesukses word indien dit in die regte rigting gestuur word. Die enkele gevare soos deur professor Van Vuuren uitgewys is, is praktiese raad wat gevolg moet word om die risiko vir mislukking te verminder. Met die nodige tyd, wilskrag en passie mag jy dalk die volgende een wees wat in die geld rol met behulp van iets so eenvoudig soos jou stokperdjie. Baie mense is ongelukkig in hulle werk, maar as werk en pret se paadjies kruis, gaan jy vir seker geluk daar vind.

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test