Ophou is moeiliker....!

by Blogger - Annali Swiegers / Oct 03, 2017 / 2 Kommentaar

Laasweek het ek mos gestorie oor die feit dat ek toe uitvind ek is my eie dief.  Die week sit ek nou met dié stuk weet in my, ek moet nou nuwe voetpad maak, die ou uitgetrapte ene afleer.

Mens kan nie met ‘n goeie weetgeit mors nie.  Maar dis ‘n neukery, mens glip so maklik terug in die ou pad in, ek loop darem meer as 50 jaar op hom, hys diep uitgekalwer.

Ek ‘fix’ mos alles en almal, my hele lewe lank, weet hoe om ‘n hart op ‘n gat te werk dat dit lyk of dit so moes wees.  Weet hoe om iemand beter te laat voel as hy aangestoot was.  Maar nee, dis nie meer ‘n braggery nie, dis nou ‘n ‘confession’.  Hierdie is my default setting...my straf en konstante stryd.  Dis mos my uitgetrapte voetpad wat ek probeer afleer. 

Ons word so mooi groot gebring, ek het ‘n sagte streng mammatjie gehad.  Sy het my inge-ent met goeie gewoontes, verantwoordelikheid en dalk ‘n dop skuldgevoelens.  En toe ek my oe oopmaak hier vanuit my holgetrapte voetpad, toe is ek ‘n ‘Nice to have’!  Iemand wat dit vir almal sag en gerieflik maak, terwyl ek met ‘n vriendelike gesig loop en nice wees! Dit, terwyl ek natuurlik met ‘n te-na-ge-komde vrot hart sit. ‘n Hart wat wens ek was een van die wat aan die ontvangkant van my oordoenery is....!  Ek is die een wat annerman se klam flippen tissue optel en in die drom gooi, die klip uit die pad rol, vir moeilikheid sien aankom, voor enigiemand hom sien aankom, en hom dan probeer inhol en ontmoedig om sy make te maak. 

Maar nou weet ek!  En dis nie meer vir my lekker nie en nou wil ek graag ophou!  Ek het al vantevore probeer...maar dan pla die tissue en die klip en die ding wat loer my so dat ek weer opstaan en van vooraf doen. 

Maar dieslag is anders, dieslag is ek dikbek genoeg dat dit op my gesig begin wys. Die ding is so....ek begin vermoed dat nie alle moeilikheid gehanteer moet word nie, ek dink daar is sekere soorte wat mens moet onhanteer, terugstaan, wegstaan, ignoreer of net flippen los.  Van hierdies het ek al baie moeite mee gehad, en as ek weer opkyk dan is hy weer soos hy was, net erger of anders, maar hy bly moeilikheid, hy wil moeilikheid wees.  Dan is ek diep befoeterd daaroor want ek wil ook nie oor en oor dieselfde moeilikheid rondrol nie...! Soms kry ek selfs aanstoot omdat ek so behulpsaam is, dan is ek ingestoot in ‘n mislikke gevoel in my binneste in .

Maar ek sukkel met die ophou...ek dink ek is ‘n ‘addict’, ‘n gewoonte strooi-sorteerder!  Wonder of dit ‘n siekte is?  Voel so...maar ek gaan nou hard oefen om op te hou!  Om oor die ding te trap of te kyk, sommer onder die kooi inskop en vergeet hys daar. 

Daar kriewel ook ‘n onder of bo als gevoel, wat se, dat dit seker nie als myne is om te sorteer nie...! 

Soos ek se, ek gaan my bes doen om op te hou, of nee, kom ons se ek gaan minder van dit doen! Die tekenKind se mos hoeka, jinne mamma moet darem party keer ander kans gee om ook ‘n beurt te vat. 

So daar! Dalk kry ek dit reg om minder klippe uit te rol, op te tel of te hol, dan gaan ek baie meer tyd he om lekker dinge te doen en ‘n beurt vat om aan die ontvangkant te wees van my eie ‘nice to have.’  As ek dit regkry gaan ek my tydskrif vat en langbeen sit, stadig blaai en blaai, tot ek genoeg gesit het!

kommentaar (2)

  • Madele Burger T... (kommentaar)

    Ek wil jou iets vertel: Ek is ook 'n fixer. En ek het op 'n stadium hard probeer om anders te wees. Nou weet ek: Dis my roeping! Ek IS 'n fixer omdat God dit so wil hê. Nou fix ek en basta die res. Ek weet my bedoelings is mooi en reg en as die ander die bedoelings wil skeef trek, is dit hulle probleem. Sterkte vir jou!

  • Hannes Maree (kommentaar)

    Jou blog is baie mooi geskryf. Ek wens soms ek het die guts gehad om ook 'n fixer te wees, wan sien, my motto was mos maar al te dikwels: Los dit. Dit sal self regkom". Of bloot: Daar is ander mense wat dit sal fix. As jy dinge op 'n mooi manier kan fix moet jy dit fix. Daar is ongelukkig te veel mense wat net nie worry nie. Doen wat jy kan sonder om jouself te na te kom. Mooi dag. en

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test