Jana du Plessis - Nalatenskap?

by Blogger - Lynette Beer / Oct 06, 2017 / 1 Kommentaar

Die afskeid het saam met die eerste somerreëns gekom.

Dit het my opgeval, die blydskap oor die langverwagte reën en die groot hartseer omdat een van my hartsmense nie meer daar is nie. So is die lewe, voortdurend aan die verander, nie altyd verstaanbaar en verklaarbaar nie.

“Aardetyd is genadetyd” het sy altyd gesê en voluit geleef, ten spyte van omstandighede en swak gesondheid. Ek kan vandag met vele clichès vorendag kom, nie een daarvan gaan ‘n verskil maak aan ń man sonder die liefde van sy lewe, sy rots en drie kinders wat nou sonder ‘n mamma die wêreld moet aandurf nie.

Wat ek wel weet, is dat ek in alle tye my vertroosting in die Vader vind. En as ek maar die helfte van ‘n verskil kan maak wat Jana du Plessis in haar lewe gemaak het, sal ek myself besonders bevoorreg ag.

Dit val my al hoe meer op dat wat jy het en wat jy in jou loopbaan bereik het, niks beteken in vergelyking met die invloed wat jy op ander het nie.  Jou ware nalatenskap is nie jou suksesse by die werk of geld in die bank nie, maar die impak wat jy op mense se lewens en harte het.

Maandag gaan ons finaal van Janatjie afskeid neem. Ek weet daar gaan baie trane vloei, van hartseer, maar ook van dankbare vreugde omdat ons haar kon ken. Saam met haar die pad kon stap. Haar borrelende positiwiteit en geloof asook ongekende lewensenergie sal ons altyd bybly.

Oë blink nog van die trane, maar die glimlagte is ook daar, want almal onthou hoe sy hul aangeraak het, watse groot verskil sy in soveel mense se lewens gemaak het. ‘n Stukkie van haar menswees sal voortleef in elkeen wat met haar deur die jare heen te doen gehad het. En dit, my liewe lesers, is presies waarna ek en jy ook moet streef.

Liewe Janatjie, vandag sug ek ‘n bietjie voor God. Ek verlang reeds na jou lekker lag. ‘n Geel stukkie legkaart net weg... My hart huil, maar God troos!

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test