Martelize Brink: jonk, blond, sexy – en in ’n rolstoel

Die bekroonde RSG-omroeper, Martelize Brink, vrolik derduisende luisteraars se oggende op. As tiener het sy die gebruik van haar bene op ’n raaiselagtige manier verloor, maar nie haar lewenslus, humorsin of sportiwiteit nie. Sy leef voluit!

Ek moet uit! besef ek. Ek moet by die huis uit beweeg en ek moet dit sélf doen. Vandag nog. Nou. So probeer ek myself gereed kry vir die ekspedisie wat vir my voorlê.

Die wrede werklikheid tref my opnuut – my bene is verlam. Dis ’n skrikwekkende gedagte, een wat my asem wegslaan, maar ek kan niks daaraan doen nie. Dit sal van mý afhang hoe ek daarmee gaan saamleef. En ek weier om toe te laat dat dit my platslaan. Ek het die gebruik van my bene verloor, maar ek wil nie méér verloor nie.

En dit begin vandag! “Ma,” sê ek, “ek gaan by die kitsbank geld trek. Ek wil dit sélf doen. Alleen.”

My arme ma se senuwees word daardie dag behoorlik opgekeil, maar ek kan my nie daaroor bekommer nie. Ek het my eie probleme. Dis net ek en my rolstoel en die wye wêreld daar buite. Daardie dag neem ek my eerste “tree” na onafhanklikheid buite die huis.

Elke klein dingetjie wat ek tot in daardie stadium vir myself probeer doen het, was ’n uitdaging; elkeen daarvan wat ek kon regkry, ’n oorwinning. Ek onthou hoe innoverend ek moes wees om alledaagse dinge baas te raak. Hoe ek die eerste keer vir ’n toebroodjie gemaak het. En die dag toe ek toilet toe wou gaan en alleen by die huis was ...

Ek kan nie vir iemand wag om my te help nie, besef ek daardie dag. Ek moet sélf daar kom en ek moet sélf uit die stoel kom. Wat later vir jou doodnatuurlik raak, is nie aanvanklik so eenvoudig nie. Dit kos kopkrap om uit te werk hoe jy jou lyf moet draai en swaai om te doen wat jy voorheen sonder die geringste inspanning kon regkry.

Vir dertien jaar het ek op my eie bene gestaan. En toe, een oggend terwyl ek my tande borsel, slaan die pyn in my knieë toe, ’n ondraaglike en ongekende pyn.

Wat op aarde gaan met my aan? wonder ek. Ek kla by my ma. “Gaan klim in die bed,” gee sy raad. Ek sluk ’n pynpilletjie en raak aan die slaap. Dis toe ek wakker word dat ek van die vreemde gevoel bewus raak.

[pagebreak] Ek wil opstaan om badkamer toe te gaan, maar ek kan nie. Iets is nie reg nie.

“My bene wil nie lekker werk nie,” sê ek verslae. My ma bel die dokter, verduidelik vir hom wat aangaan. Teen die tyd dat die dokter by my kom, reageer my bene nie meer op die reflekstoetse nie.

martelize_brink_rolstoel.jpgEk sal Panorama Hospitaal toe moet gaan. Dít dryf my tot trane. Dis my eerste kwartaal op hoërskool, ek is besig met my lewe, bedrywig en vol planne. Op daardie stadium is hierdie hele besigheid vir my nie veel meer as ’n lastige oponthoud nie.

Maar niemand wil dit waag om ’n uitspraak oor my bene te lewer nie. Daar is baie vrae, min antwoorde. Is dit ’n tydelike probleem?

In stilte bid ek, vra ek, wens ek, hoop ek. My ouers bid, ons geloof staan sterk. Maar die wonderwerk waarop ons hoop, gebeur nie.

Skielik is ek in die kollig. Dit gons om ons. Soveel besoekers, soveel vrae. Almal wil weet wat met dominee Brink se jongste dogter gebeur het.

’n Tydskrif skryf ’n artikel oor my. Ek is ongemaklik oor die bohaai. Die laaste ding wat ek wil hê, is dat daar op my rolstoel gefokus moet word.

Dis ook vir my broers en susters ’n skok om my in ’n rolstoel te sien. Aan die begin weet nie een van ons hoe om dit te hanteer nie. My broer, nege jaar ouer as ek, moet my help om in die bad te kom. Nee! besluit ek, dit sal nie deug nie. Ek moet sélf op ’n manier in die bad kom. Toe doen ek dit. Ek wriemel uit die stoel en laat sak my lyf versigtig in die water.

Die dae stap aan, word weke, maande. Ons verloor nie moed nie. Ons behou die geloof, die hoop en die liefde wat van my kinderdae af altyd deel van ons gesin was.

Ek bly noodgedwonge ’n kwartaal lank by die huis. Hoekom moes dit nou juis met mý gebeur? wonder ek tog in stilte. Dit frustreer my. Maar ek is nie werklik opstandig nie en ek vra nie werklik groot vrae Boontoe nie. Vandag glo ek regtig daar is ’n rede waarom my lewe hierdie wending moes neem. Maar as kind dink ek nie te diep of te ver nie.

Maar veel langer kan ons nie ons oë sluit nie, daar moet besluite oor my toekoms geneem word. Daar word oorweeg om my na ’n spesiale skool vir rolstoelgebruikers te stuur waar ek en my rolstoel makliker sal inskakel. Johannesburg toe? Tussen vreemdes begin skoolgaan? Waar rolstoele ’n voldonge feit van die lewe is?

[pagebreak]

Nee! Ek skop teen hierdie planne. Ek wil juis so normaal as moontlik met my lewe aangaan, tussen my maats bly.

Vandag is ek baie bly dat ek my sin gekry het. Ek glo sterk daaraan dat ’n sogenaamd gestremde so ver moontlik by die hoofstroom moet inskakel. Dis goed vir die gestremde, sowel as vir die res van die leerlinge.

Maar toe ek die beskerming van my ouerhuis verlaat en terug skool toe gaan, besef ek ook dat dit nooit maklik sal wees nie. Natuurlik is almal nuuskierig oor my en word ek aangestaar. Maar gou genoeg gebeur daar weer ander dinge in die skool, ander stories, nuwe liefdes, huiswerk wat gedoen moet word, onderwysers wat jou kwaad maak. En geleidelik raak almal gewoond aan my in my rolstoel. Wonderbaarlik raak my nuwe lewe vir my amper normaal.

Dis dalk my redding, die alledaagse, die besef dat ek nie my lewe soos ek dit geken en geniet het, heeltemal verloor het nie. Dat ek nog steeds die mens is wat ek was, nog steeds die tiener met tienerdinge. Die rolstoel is maar net “een van daardie dinge”.

Ek kan miskien nie loop nie, maar ek kan baie ander dinge doen. Ek is soos ’n vis in die water en daar is planne vir my om van Kampsbaai tot by Seepunt te swem, iets waarna ek baie uitsien. Ook is dit wonderlik om te weet ek het ’n sukses van my loopbaan gemaak – nie omdat ek in ’n rolstoel is nie, maar omdat ek my alles gee. Miskien werk ek tog onbewustelik ’n bietjie harder, want dis vir my belangrik om professioneel te wees, selfs wanneer dit baie van my vra.

Eintlik is ek maar net ’n mens. Ek lag en ek huil, ek bemin en baklei, ek het voor- en afkeure soos enigiemand anders. Ek kry ook bad hair days, is ook befoeterd op my af dae.

My lewe is vol en ek laat my nie kniehalter nie en wil asseblief nie bejammer word nie. My vlerkies mag dalk geknip wees, maar dit weerhou my nie daarvan om ver en hoog te vlieg nie.

kommentaar (6)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test