Vas weekliks vir ’n gesonde lyf

Simoné Nortmann

Die aktrise Simoné Nortmann (27) leef in die vinnige baan en eet daarom dikwels mikrogolfetes. ’n Weeklikse vas en baie water hou haar egter viets en gesond.

Vas breek die koskruk

Wanneer ’n mens emosioneel is of deur ’n moeilike tyd gaan, kan kos maklik ’n kruk word. Om te vas is ’n manier om dan jou fokus en hoop in geloof te vind. Dit is nie iets wat jou tydelik sal vervul of beter laat voel soos gemorskos of soetgoed nie.

Ek probeer om een maal ’n week vir 24 uur net water te drink. Ná so ’n vas voel ek lig en gefokus. My gees word gevoed. Dit het ook ’n positiewe uitwerking op my gesondheid. Ek kry amper geen hoofpyn nie, my sinusitis klaar op en my vel lyk fantasties. Dit gee ook my kolon ’n ruskans, wat my prikkelbaredermsindroom verlig.

Dié siekte gee my chroniese sooibrand, en daarom moet ek verder ekstra versigtig wees met stysel. Dit help om altyd rooipeperpilletjies in my handsak te hê, want dit verbeter my metabolisme.

Eet ’n klein happie nagereg

Ek volg nie ’n spesifieke dieet om gesond of skraal te bly nie, maar probeer genoeg groente en vrugte eet en skakel suiker en stysel so ver moontlik uit.

Suiker is my ondergang – ek eet gráág soet lekkernye. Daar is geen soetgoed in my huis nie, want ek sal alles op een slag opeet. Moet liefs nie dit wat jou laat struikel, koop nie, dan is dit makliker om die versoeking te weerstaan.

Gepraat van versoekings – ek sukkel altyd om nee te sê vir nagereg. Ons word mos so grootgemaak: Jy word beloon met ietsie soets as jy al jou kos opeet.

Die oplossing? Maak nagereg kleiner. Dit hoef nie ’n sny kaaskoek of ’n bakkie roomys te wees nie. As jy klaar geëet het, drink ’n koppie koffie en eet iets kleins daarmee saam, soos ’n koekie, om daardie laaste gaatjie te vul.

Moenie ná sesuur saans eet nie

Ná ’n tydperk van te veel en te lekker eet, drink ek doelgerig genoeg water. Hou eerder altyd ’n bottel water byderhand en maak dit vol soos dit leeg raak. Water laat jou ook voller vol en minder lus raak vir peusel. Dit voorkom ook hardlywigheid en is sodoende goed vir jou vel.

Warm water met suurlemoensap of een teelepel appelasyn is wonderlik om my metabolisme in die oggend aan die gang te kry.

Moet ook nie ná sesuur saans eet nie. Jou liggaam het nie dan energie nodig nie, en deur groot etes laat in die aand te eet laai jy jou lyf vol onnodige kilojoule om te verbrand. Dis moeilik om dit te beheer, want dit hang nie altyd van jou af hoe laat jy eet nie. Aandetes behoort oor die algemeen egter klein porsies te wees, veral as ’n mens dan ná sesuur móét eet.

 

kommentaar (1)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test