Geld en roem maak my nie gelukkig nie

Hanna Grobler

Sy het die voorkoms en lyf van ’n filmster, maar om bekend te wees en genoeg geld te hê skeel haar min. Dis nie wat aktrise HANNA GROBLER (35) laat tick nie. Haar gelukkigste oomblikke blom êrens tussen die eenvoud en chaos van die lewe.

Dit was die stinkste, aakligste plek waar ek nog ooit was,” onthou sy en trek haar gesig op ’n plooi. ’n Vervalle huisie in ’n verwaarloosde straat van ’n behoeftige woonbuurt. Die slegte reuk was oorweldigend. Dit het haar skoon naar laat voel. Binne was alles vuil en deurmekaar.

Hanna doen al lank opheffingswerk in arm gemeenskappe, maar sy het nie geweet mense kan só leef, of oorleef, nie. Die ironie, het sy agtergekom, is dat dit juis op plekke soos hierdie is waar geluk verrassend sy verskyning maak. Hanna leef vir sulke oomblikke.

“Ek sê altyd dat ons wat so bevoorreg is en graag oor ander oordeel, dit juis nie moet doen nie, want ons ken nie iemand se hele storie nie.”

Maar daardie dag, toe sy voor daardie verwaarloosde huis staan, het sy skoon van haar eie woorde vergeet. “Ek kon nie help om te dink dat daar seker verskriklike mense hier moet bly nie. Kyk dan net hoe lyk die plek.”

Die huismense het inderdaad nes hulle huis gelyk. ’n Ouma, ma en dogter. Drie generasies saam onder een dak. Platgedruk deur die lewe. Stokkieshare wat vuil in alle rigtings staan. Vel gevlek van maande laas se was. Klere oud en smerig. Maar wanneer jy jouself so ver kan kry om benede die oppervlak te kyk, in mense se oë, kom jy nader aan die waarheid. Dit weet Hanna uit ondervinding. “Almal het ’n storie wat werd is om na geluister te word.”

In húlle oë, daardie dag, was daar nie ’n sweempie traak-my-nieagtigheid nie. Net skaamte. Wanhoop. Moedeloosheid. Hanna kon dit nie miskyk nie. Die reuk was skielik vergete...

“Ons het begin gesels, en toe kom ek eers agter die kap van die byl. Hierdie vroue het nie so gelyk omdat hulle wou nie. Hulle het so gelyk omdat hulle water afgesny was, maande lank al, weens ’n fout van die munisipaliteit.” Hulle het nie geweet hoe om dit reg te stel nie. En niemand wou help nie. Almal het weggebly oor die reuk en die vuilheid.

“Kan jy jou indink hoe dit moet voel om so lank só te leef?” vra sy. “Weet jy wat dit aan mense doen as hulle plek vir die eerste keer in maande skoon is, en hulle die kans kry om dit skoon te hou? “Dis soos terapie. Dit gee hulle ’n doel in die lewe. Hulle kry hulle menswaardigheid terug.” Sy het dit daar gesien. Hanna het ’n span gestuur om te gaan skrop en skoonmaak. Die drie was so oorweldig dat hulle nie ’n woord kon uitkry nie. Net trane het geloop.

Vandag word ’n Hanna Charity and Empowerment Foundation sopkombuis op dié einste erf bedryf, en vroue van oor die hele buurt kom hier bymekaar om vaardighede aan te leer. Dis een van vele soortgelyke punte waar haar organisasie mense in nood help. Sewe duisend, om presies te wees.

Hanna en haar man, die sanger en akteur Bok van Blerk – wat deesdae ook die trotse ouers van ’n klein Van Blerkie is – is bekend daarvoor dat hulle heilig waak oor hulle privaat lewe. “Waar trek jy die streep as jy eers oor jou persoonlike goed praat?” verduidelik sy. “As jy een ding vertel, kan jy netsowel alles uitblaker.”

Wat Hanna wel kan sê, is dat kinders haar baie na aan die hart lê. En dat liefde en geduld ’n kind se lewe kan verander. “Hulle het baie potensiaal wat ontgin kan word; daarom is dit vir my so lekker om deel van kinders se lewens te wees. Maar dis ook ’n groot verantwoordelikheid, want ’n grootmens kan ’n kind maak of breek.” Letterlik. Sy sien dit té gereeld.

Een van haar en haar span se trotsste gemeenskapsprojekte is die tehuis waar ’n groep kinders in permanente pleegsorg bly. “Ek is só lief vir hierdie kinders. Hulle is almal pragtig, maar hoogs getraumatiseerd.” Slagoffers van fisiese en emosionele mishandeling. Geweld, verwaarlosing, verkragting. In hulle kort lewetjies het hulle al amper alles wat sleg is, gesien en beleef.

“Ons het al die kinders vir psigometriese toetse gestuur,” vertel Hanna, “en daar is gesê dat almal in ’n spesiale skool hoort, want trauma verlaag jou IK met tien persent.” Sy het anders oor die saak gevoel.

“Ek glo vas wanneer ’n kind liefde en sorg in ’n veilige omgewing kry, dit moontlik is om ’n normale lewe te lei, en selfs in ’n normale skool oor die weg te kom.” Gelukkige, geborge kinders kan in enige plek aanpas.

Die oudste outjie in die groep het haar vermoedens bevestig. Hy bly die langste in die tehuis en het ’n paar skoolgrade gespring om nou uiteindelik in sy regte graad te wees. “Hy doen goed en ek is so ongelooflik trots op hom,” sê sy stralend, soos net ’n ma kan.

Van die ander kinders het nog ’n lang pad om te stap, en sy en haar span stap tree vir tree saam. Soos die twee sussies wat by die tehuis ingeneem is. Albei is verkrag. “Die kleintjie (3) moes in ’n stootwaentjie ingestoot word, want sy kon as gevolg van die skade nie loop nie.”

Hanna skud haar kop. “Soms wonder ek hoe dit moontlik is dat mense mekaar so kan seermaak. Ek glo elke mens word inherent goed gebore, maar vir party loop dinge iewers erg verkeerd.” Dis dan dat sy haarself daaraan moet herinner om Jesus se voorbeeld van onvoorwaardelike liefde te volg. Om nie te oordeel nie, maar te luister en te probeer verstaan.

“Dis seker ons grootste uitdaging. Om ook die ouers met deernis te hanteer. Om uit te vind hoekom hulle slegte ouers is, en wat ons kan doen om hulle te help. By Hanna Charity glo ons dat om ’n blywende verskil te maak, ons moet werk om die hele gesin gesond te kry.”

Party ouers is dankbaar vir die hulp. Ander is skaam-kwaad. “Hulle skel op jou, maar eintlik is hulle skaam oor wie en wat hulle is.”

Hanna vat die goeie so saam met die slegte. “Ek moes ferm raak. As jy die voorreg wil hê om ’n ouer te wees, moet jy jou kant bring. Hierdie ouers weet dit.” Sy trek ook ’n duidelike streep met die kinders. “Ek laat nie toe dat hulle my ‘mamma’ noem nie. Hulle het ma’s, en hulle verstaan dit. Hulle voel eintlik baie bevoorreg om meer as een versorger te hê. In plaas van om vir hulle te vertel hoe jammer ons hulle kry, vertel ons hulle hoe gelukkig hulle is om deur soveel mense liefgehê te word.” Dit werk.

“Oe Tannie, kyk net hoe gelukkig is ons!” het een van die meisies nou die dag vir Hanna kom sê en haar arms om haar geslaan. Sulke oomblikke laat haar hart smelt. “Om die dankbaarheid en waardering in iemand se oë te sien, ongeag hulle omstandighede, maak vir my alles die moeite werd.”

Vind jou roeping en leef dit. Hanna het geleer dat dit een van die geheime van geluk is. Sy is bekend as aktrise, maar dis nie waar haar hart lê nie. “Om myself in die vermaaklikheidsbedryf te bevorder, my beeld te poets of gedurig skouers te skuur met ander bekendes, was nog nooit my ding nie,” erken sy.

“Ek was baie bevoorreg om na my studies dadelik werk te kon kry, en daar was baie opwindende rolle waarvoor ek innig dankbaar is. Maar my roeping op aarde is nie om ’n aktrise te wees nie. My doel is om diensbaar te wees. “Wanneer ek mense help, is ek op my gelukkigste.”

Daar is al baie geskryf oor hoe haar omgee-geaardheid haar al van kleins af laat uitreik het na ander. Sy was ook altyd die een wat die behoeftige kinders op skool raakgesien en gehelp het. Wat as tiener goedjies verkoop het en met die geld ’n sak vol onderklere gaan koop het om vir kinders in ’n plek van veiligheid uit te deel.

“Ons wêreld is daarop ingestel om geluk in geld, goed en status te gaan soek. Maar jy sal dit nooit daar kry nie,” sê Hanna. “Dis eers wanneer jy binne God se wil vir jou lewe beweeg dat jy besef wat dit beteken om van binne af gelukkig te wees.” Sy glo dis in almal se bereik, en dit begin met stil word. “In die hartseerste tye van my lewe het ek die waarde ontdek om te gaan stilsit voor Sy voete. Dis waar ek troos kon vind.”

Hanna glo die Here praat gedurig met ons – “deur Sy Woord, die natuur, mense, dinge”. Selfs syfers en name, in haar geval. “Ons moet net leer om te luister”. Sy vertel van ’n vriendin wat gesukkel het om swanger te raak. “Toe kom die naam ‘Saul’ by my op. Ek kon dit ignoreer en afmaak as toeval, of ek kon gaan uitvind wat dit beteken.” Sy het op die internet gaan lees dat die naam “asked for” beteken. Hy vir wie daar gevra is.

“Dis toe dat ek besef die Here wil hê ek moet vir die vriendin, wat nie ’n gelowige is nie, gaan sê: “Vra Hom vir ’n kind. Want in jou vra gee jy die erkenning dat kinders van Hom af kom.” Hanna het ook geleer dat stil word en rustig raak ons help om weer te fokus op wat regtig belangrik is. “Ek het dit opnuut besef toe ek besluit het om nie meer so aktief in die bedryf te werk nie. Die ure is so lank en dit raak so besig, jy verloor later voeling met die werklikheid.”

Skielik was daar weer tyd om te dink. Om uit die dolle gejaag te ontsnap en weer te “hoor” wat haar hart vir haar sê. En wat sê haar hart? “Dit wat die Here in jou hand gee – jou talent, passie, aanleg, vaardigheid, nét dit – vat dit en gebruik dit tot Sy eer. Dis een van die maniere om jou doel te ontdek en regtig te begin blom daar waar jy geplant is.”

Jy sal altyd geluk vind, glo Hanna, wanneer jy jou passie en talente gebruik om iets vir ander te beteken. Dis nog ’n goue Hanna-reël op die pad na gelukkig wees. “Vir my het alles seker begin toe my ouma siek in ’n staatshospitaal gelê het,” onthou sy. Die pediatriese eenheid was reg langs haar ouma se kamer. “Ek het die babas langsaan hoor huil en gedink dis mos ’n plek waar ek ook besoek kan gaan aflê, terwyl ek nou hier is.” Sy het ballonne gaan koop en vir die kindertjies gaan kuier.

“Vir my is my gut-gevoel dikwels ’n God-gevoel.” En sy is nie bang om dit te volg nie. “Toe hoor ek hoe die mense praat van Danville en hoe sleg dit daar gaan.” Sy kon haarself nie keer nie. Daar waar die sogenaamde slegte mense bly, dáár wil sy help. Dis waarheen haar instink haar keer op keer lei.

In Danville het die mense weer vir haar gesê: “Jong, jy moet net nie Elandspoort toe gaan nie, want daardie mense is erg.” Toe klim sy in haar kar, gelaai met kos en klere, en ry juis soontoe. Al agter haar gut-gevoel aan.

“Om te dink as ek bang was om my instink te volg, sou ek nooit my roeping kon uitleef soos ek dit vandag doen nie.” Hanna het aanhou ry tot sy gevoel het die Here sê sy moet hier stop. Voor die huis van ’n wildvreemde vrou. ’n Gewese alkoholis en koerantverkoper. Maar onder die oppervlak was daar baie meer versteek. Die vrou was iemand wat net ’n tweede kans nodig gehad het om te word wie sy bedoel was om te wees. Hanna wou haar daardie kans gee.

“Ons het ons eerste gemeenskapsprojek saam met Antoinette begin, en vandag, meer as ’n dekade later, is sy die huismoeder van ons pleegsorgkinders en een van ons getrouste werkers.” ’n Ongeslypte diamant, maar iemand wat diep spore in ander se lewens trap.

“Omdat Antoinette haar doel uitleef, maak dit haar ’n gelukkige mens.” En gelukkige mense is mooi mense. Hanna sien dit elke dag. “Dis asof die mense wat ons help, tien jaar later tien jaar jonger lyk.”

Sy vertel van die vroue wat jaarliks aan een van Pretoria se bekendste vrouewedlope deelneem. “Jy moet hulle sien!” sê sy opgewonde. “Dis almal vroue wat voorheen gevoel het hulle sit op die ashoop. Hulle is so trots om saam as ’n span te stap. Om saam met ‘gewone mense’ iets te kan doen en om soos almal om hulle te lyk.” Daardie wedloop is die hoogtepunt van hulle jaar.

Vir Hanna is sulke oomblikke ’n bevestiging dat sy op die regte spoor is. “Dat ons meermale ons instink moet vertrou.” Dit maak dikwels nuwe deure oop.

Sy hou nie daarvan om oor haarself te praat nie, maar Hanna sê tog dat in haar persoonlike lewe dit die gewone, eenvoudige dinge is wat haar bekoor. “Weet jy hoe baie vreugde vind ek in alledaagse goed? Regtig.

Dit klink seker belaglik, maar soos ek ouer word, begin ek al hoe meer vreugde in gewone dinge ervaar. Soos om in die tuin te stap en ’n mooi blom te bewonder. Of om te swem. Om lekker koffie te drink. Of om hierdie verruklike stuk kaaskoek te eet,” sê sy en vat nog ’n hap.

Haar lekkerste geselsies is met gewone mense oor doodgewone dinge. “Dis vir my verskriklik interessant om met iemand te praat oor hulle liefde vir tuinmaak. Of oor hulle stokperdjies. Of om te hoor waar hulle vandaan kom en wat hulle voel en glo.” Vergeet van flitsende kameras en uithangplekke saam met ander glansmense. “Gewone dinge is vir my opwindend.”

Hanna se familie hou haar voete op die aarde en sy kuier graag saam met haar suster en ouers as sy die kans kry. Sy is ook gek oor kosmaak, “veral as ek iets nuuts probeer en dit werk.” En sy kan vir ure aaneen brei en hekel. “Die reënboogkombers waarmee ek besig is, vat baie lank. Elke ry is ’n ander kleur, maar dit maak my baie gelukkig.” Dis ontspantyd. Dinktyd.

Reis is ’n ander plesier. Mosambiek, met sy tropiese strande en klimaat, is ’n gunsteling. “Die hele vibe van die plek bekoor my.” In teenstelling daarmee lê Europa se kunsmuseums (skilder is haar kunste-passie) en lande soos Holland en Italië, haar ook na aan die hart. “Seker omdat Holland my herinner aan my herkoms. En Italië, omdat die mense so joviaal is. Hulle weet hoe om te lag en te kuier en die lewe te geniet.”

Om te lag is vir Hanna net so belangrik. “Van my beste vriende in die vermaaklikheidsbedryf is mense wat uitstekende komediante is. Ek het ’n goeie humorsin, en in die werk wat ons doen, is dit nodig. Ons lag baie. Te midde van soveel pyn en swaarkry moet jy die ligte oomblikke kan raaksien en waardeer.”

Sy dink aan oom Tamatie, wat vir almal vertel dat hy ’n multimiljoenêr is wat hulle sake vir hulle in die hof kan wen. “Hy is brandarm en het niks, maar is so oortuigend dat almal hom glo.” Of die vrou wat na drank ruik en sê dis haar Red Door-parfuum. Daar is ook die tannie wat nes ’n budjie lyk, en wat glo budjies kom na haar toe sodat sy met hulle kan kommunikeer... soos ’n budjie-fluisteraar.”

Hanna kry elke dag te doen met die mooiste, snaaksste en swaarste oomblikke van die lewe, en dis hierin waar sy haar geluk gevind het.

Om gelukkig te wees, weet sy, is niks anders as ’n keuse nie. “Dis ’n ingesteldheid waarvoor ek en jy self verantwoordelik is.”

 

 

 

kommentaar (4)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test