Vergifnis bring jou nader aan God

Die Bybel sê as jy nie vergewe nie, sal Hy jou ook nie vergewe nie.

Dit is skokkend om te hoor hoeveel haat en bitterheid sommige Christene koester teenoor mense wat hulle te na gekom het. “Ek sal hom nooit vergewe vir wat hy aan ons gedoen het nie,” merk ’n vrou nou die dag op toe sy vertel van die werknemer wat haar en haar man geldelik ingedoen het. “Hý het bedrog gepleeg, nou sit óns met ’n besigheid wat dreig om bankrot te speel. Hoe kan ek hom vergewe?” Jy voel lus om dit te beaam. Om so ’n vent te vergewe is darem te veel gevra.

God se opdrag in die Bybel is duidelik: Ons moet almal wat verkeerd teen ons optree, vergewe – keer op keer, onvoorwaardelik en ten spyte van wat hulle aan ons gedoen het. As ons dit nie doen nie, bou ons ’n skeidsmuur tussen ons en God wat verhinder dat ons self vergewe word.

Wanneer vergifnis naby aan jou lyf kom

Toe Jenny Viljoen, ’n pastoor van die Vanderbijlpark Christian Centre hoor dat haar man dood geskiet is in sy kar op pad werk toe, het sy nie eers twee keer gedink nie. “Ek het geweet ek moes sy aanvallers vergewe. Ek het net daar en dan die besluit geneem om hulle in Jesus se Naam vry te spreek en God gevra om die pad van rou wat sou volg, saam met my te loop.”

Dis moeilik om te glo dat dit die woorde is van ’n vrou wat dáárdie oggend moes aanhoor dat haar man, Henna, vermoedelik die slagoffer was van ’n bende-inisiasie ritueel. Hy is op kort afstand met ’n 9mm pistool geskiet en niks is gevat nie. Nie sy voertuig, sy selfoon of enige geld nie. Net sy lewe – onnodig en sonder rede.

Tog dink sy vandag steeds nie met bitterheid aan haar man se moordenaars nie. “As jy self nie kan vergewe nie, kan God jou ook nie vergewe nie,” sê sy onomwonde. “Vergifnis is ’n wilsbesluit. Dit het niks met emosie te doen nie. Emosies is onstabiel, maar vergifnis spruit uit geloof, en dit maak dit ’n vaste, fundamentele aksie wat jy in gehoorsaamheid aan God doen. God eer ook hierdie wilsbesluit van jou om te vergewe.”

Ons moet kan vergewe ten spyte van ...

  • die oortreding. Nêrens in die Bybel staan dat ons net sekere oortredinge mag vergewe nie. Met ander woorde, al is die oortreding hóé groot, en al maak dit hóé seer, ons moet steeds vergewe. Deur dit te doen, volg ons die voorbeeld van Jesus wat aan die kruis gesterf het – nie net vir sekere sondes nie, maar vir al ons sondes.
  • ons onvermoë om (dadelik) te vergeet. Om te vergewe, beteken nie noodwendig dat jy onmiddellik sal vergeet nie. Om te vergewe, beteken om doelbewus ’n ander persoon vry te spreek, nooit weer met hom of haar oor die oortreding te praat nie, nooit weer met iemand anders daaroor te praat nie en nooit weer met jouself daaroor te praat nie.
  • wie oortree het. Dikwels is jy die een wat die seerste kry in jou onvermoë om ’n ander te vergewe. Die ander persoon weet nie eers van jou seer nie, en gee ook nie om nie – tog kies jý om die las van sy of haar sonde te dra. Spreek dus vry en word self ook vry!


Hoe kan ek dit regkry om iemand te vergewe?

DEUR VERGEWENSGESIND TE WEES Omdat ons sewentig maal sewe keer moet vergewe, is dit net soveel makliker as ons ’n gesindheid van vergifnis ontwikkel. Dit is ’n bereidheid om nie haatdraend te wees nie, maar elke keer te vergewe sodra daar teen ons verkeerd gedoen word. ’n Vergewensgesindheid is om te vergewe al toon die persoon geen berou nie en al maak dit nie vir hom saak hoe seer jy in die proses gekry het nie. Jóú saak is egter reg met die Here – en dít is wat tel.

DEUR JOU KANT SKOON TE HOU Hoe gemaak as jy die skuldige is wat ’n ander seergemaak het? Jy is opreg jammer en vra dat die persoon jou sal vergewe – tog weier hy of sy? In Lukas 17:3-4 (Die Lewende Bybel) is dit duidelik wat God van so ’n persoon verwag: “As jou broer iets verkeerds aan jou doen, moet jy hom op sy fout wys, en as hy dit erken en daaroor jammer is, moet jy hom vergewe.” Jy het dus jou deel gedoen en staan onskuldig voor God. Die verantwoordelikheid word nou verskuif na die ander persoon om jou te vergewe. As hy of sy dit nie doen, rus die oordeel op hom of haar, nie meer op jou nie.

DEUR JOUSELF TE VERGEWE Soms is dit moeiliker om jouself vry te spreek as iemand anders. Tog begin vergifnis by die vermoë om jou foute te erken en iets daaromtrent te doen. Vergifnis beteken om gewillig te wees om met ’n ander, of jou eie sonde, saam te leef. Seerkry is deel van die lewe en iets waarmee almal te doen kry en moet saamleef. Die keuse is of jy dit in die bitterheid van onvergifnis of die vryheid van vergifnis gaan doen. Wat kies jy?

kommentaar (1)

  • Flip de beer (kommentaar)

    Baie dankie vir die skrewe onse Ruagh Ha Qodesh is besig met my op die pad met vry spreek dit is so waar wat jy se my sus so ver wat ek gaan leer ek ander om dit te doen weereens dankie groete jou broer in Yshua ons Jesus

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test