Voetspore

by Blogger - Annalize van den Heever / Jan 06, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1303 mense.

“Om ‘n ma te wees is darem vrek harde werk.  Ek sit nooit vir ‘n oomblik stil nie.  Dis altyd Mamma, Mamma, Mamma”, kerm ek eergister by my geliefde terwyl ek my honderdste bondel wasgoed opvou.  Hy antwoord taktvol: “Om ‘n goeie Ma te wees is harde werk.’”  Ag ek vreet hom sommer op van liefde.

Die vakansie het sy tol geëis.   Self die beste gewone Ma’s raak, iets wat rym met ‘taktvol’, vir die ewige kosmaak, klere was, rusies opbreek, skottelgoed was en vloere skoonhou.  

Gisteraand laat stop ‘n modderkol, op my pasgewasde roomwit vloer, my in my spore.  Ek voel hoe die ergenis in my opwel en ek begin kyk vir leidrade oor wie se voete dit kon wees.

Dis ‘n perfekte klein voetspoortjie.  Mense wat sê hulle sal nooit vrouens verstaan nie is reg, want hierdie klein modderkolletjie het my op my knïee gebring en my ergelike mond het onmiddelik verslap.  Ek is ook nie skaam om te erken dat ek selfs tranerig geraak het terwyl ek na die perfekte toonmerkies kyk nie.  Ek neem ‘n foto en stuur dit vir my man. 

“Wat is dit?” vra hy. “Lize se voetspoor” antwoord ek.  “Cool” seg hy

Hoekom het hierdie voetspoortjie my so geraak?  Dit het my op daardie oomblik getref dat elke merkie wat my kinders maak, ‘n teken is dat gesonde, vrolike kinders in hierdie huis onder my hart lééf.

Lééf.

Facebook, Maroela Media en die koerante was gedurende hierdie vakansietyd vol tragiese nuus oor kindertjies en grootmense wie se voete vir altyd opgehou spore trap het. Verdrinkings, motorongelukke, kanker het hulle asems stil gemaak.  Niemand kan ooit weer kwaad raak oor ‘n modderkol wat hulle gelos het nie.

My kinders leef.  Elke krummel wat hulle mors, elke glas wat omgestamp word, elke vuil merk getuig daarvan.  Lewe is nie vanselfsprekend nie.  Dit is ‘n Goddelike geskenk wat ons daagliks moet raaksien en waardeer.

Ek het die modderspoor net daar gelos.  Ek het amper van daardie geel tape wat polisie gebruik om ‘n misdaadtoneel aftebaken om dit gespan.  Dit was skielik vir my kosbaar en meer belangrik as skoon vloere.  So as jy by my kom kuier die week, my huis is deurmekaar omdat ek sentimenteel voel en nie omdat ek lui is en ‘n lekker boek het om te lees nie.

 

 

  • Blogger - Annalize van den Heever

    Annalize van den Heever is ma van drie dogters. Sy blog met eerlikheid en geesdrif oor dit wat in haar hart en lewe aangaan. Sy het al vir jare haar eie blog by www.dievervuldevrou.co.za wat sy beskryf as “‘n dagboek vir my (en eendag my dogters), oor my reis na vrede.”

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.