Troeteldier-moles by Dagbreek

by Blogger - Lana Hitge / Oct 12, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 27 mense.

Koffiebeker-teksteverse’ – die tema van die preekreeks wat my beste helfde die pas-afgelope Sondag by die Dagbreek Woordbediening by LIG Kinderbediening se terapiehuis in Danville afgeskop het.

Wanneer manlief die Sondagmiddag ’n preekbeurt het, rangskik Cynthia (LIG se baie bekwame huisma by die terapiehuis), die swart plastiekstoele in netjiese rye voor die musiekstaander wat as preekstoel moet dien.

Die rede vir hierdie spesifieke preekreeks? Manlief het begin bekommerd raak dat lede van sy kudde in Pretoria-Wes se geestelike ervaring dalk neig om te leun op teksverse wat ruimskoots op koffiebekers voorkom of in die kuberruim rondgestuur word vir inspirasie, terwyl die Bybel self dalk ’n bietjie anders voel oor die gegewe tekste. Manlief het heel eerste die baie bekende Jeremia 11:29 aangevat ‘Ek weet wat ek vir jou beplan sê die Here. Voorspoed en nie teenspoed nie, ’n toekoms, ’n verwagting.

Terwyl manlief sy preek inlei met ’n vinnige oorsig van waar Israel hulleself in die geskiedenis bevind het toe Jeremia hierdie baie bekende versie neergepen het, sien ek uit die hoek van my oog hoe Cynthia se dogtertjie en my eie 7-jarige prinses saam doenig is op die sitkamerbank. Niks ongewoon nie, hulle is immers groot maatjies en speel maar gereeld Sondae so saam.

Ek het egter die draad van die preek so bietjie verloor toe ’n ’n baie klein, maar langerige swart en wit snoet die buitewêreld snuif-snuif nuuskierig van onder die kombersie in maatjie se hande begin ondersoek. Muiserige gediertes is op die huidige stadium van my persoonlike geskiedenis van groot belang. Ek was immers self net verlede week skuldig aan poging tot muismoord in my eie huis nadat ek ’n uiters onwelkome nuwe inwoner in my huis ontdek het.

Toe my kinders boonop nog begin onderhandel oor die werkbaarheid van hamsters as troeteldiere, het my reaksie my gewildheid as ma met ’n hele klompie punte laat daal. Die oulike swart en wit puntneus gesiggie in maatjie se hande het egter vir my nogal aanvaarbaar gelyk. Dus, met die gedagte dat ek dit dalk sal oorweeg om my kinders toe te laat om so ’n ou muiserigheidjie aan te hou, bepaal ek weer my aandag by die preek.

Manlief het intussen baie ernstig begin uitbrei oor Israel se sonde as die rede waarom hulle in ballingskap na Babelonië weggevoer is. Die kinders moes iewers besluit het om liewer op die grasperk agter die huis met die muiserigheid te gaan speel.

Manlief begin verduidelik hoe God sonde in alle vorme haat. En toe... ’n allemintige skreeu wat deur murg en been sny. My dogtertjie se stem. Ek vries vir ’n oomblik. Ek is eintlik te bang om te gaan kyk.

Cynthia se man is soos ’n pyl uit ’n boog uit sy stoel, by die voordeur uit en om die huis. Ek besef ek moet dringend ook ’n lyn sny, en maak so. Op die toneel van die groot geskree, wat steeds in volle swang voortgaan, ontdek ek dat die oulike muiserige gedoentetjie baie rats, onverwags en uiters ongepoets by sussie (wat haarself op die grasperk sitgemaak het) se lospassende kniebroekpyp ingeglip het.

Die oulike diertjie, wat toe al die tyd eintlik ’n krimpvarkie was, het in sy eie problematiese situasie alle verdedigingsmeganismis op hoë vlak geaktiveer. Met die krimpvarkie weer veilig deel van die buite-wêreld en die nodige trose getroos, het ons die kinders (sonder die krimpvarkie) op die grasperk agtergelaat om verder te speel terwyl ons na die res van die preek gaan luister het.

Manlief was besig te verduidelik dat hierdie koffiebeker-vers eintlik God se verduideliking aan die Israeliete was vir waarom dit vir hulle nodig was om vir 70 jaar lank in Babelonië in ballingskap te gaan sit en dink oor hulle afvalligheid en sondes. En 70 jaar is ongelooflik lank.

So in my enigheid wonder ek of sussie darem binne die volgende 70 maal 7 jaar sal glo dat so ’n puntneus swart en wit muiserigheid wel ’n ideale troeteldiertjie vir haar kan wees?

  • Blogger - Lana Hitge

    Ek en my man werk die afgelope 9 jaar as evangeliste in Pretoria-Wes. My waarnemings en werk daar het gelei tot ’n evangelisasie/werkskeppings-projek met die naam die Visserman-projek wat in samewerking met LIG Kinderbediening daagliks besig is om meer en beter vorm aan te neem. My werk in die omgewing bring my gereeld in aanraking met lekker-lag (met ’n traan) menswees-stories, wat ek graag in blog-vorm met die wêreld deel.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.