Toe word hy wraggies koning!

by Blogger - Lynette Beer / Oct 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 203 mense.

Daar is mense wat alles in die lewe met oorgawe doen en dan is daar ander wat wag dat die lewe moet gebeur.

Ek het baie respek vir mense wat ten spyte van omstandighede steeds die lewe met kreatiwiteit, durf en deursettingsvermoë aandurf.

Laat my altyd dink aan Dawid van die Bybel. Hy kon mos nou nie geweet het hy gaan eendag koning word nie, hy was dan maar net ‘n skaapwagtertjie. Tog, het hy selfs daar in die veld, kennis en ondervinding opgedoen. Ek is seker hy het baie ure geoefen met sy slingervel om klippies presies sekuur te kan gooi. Om nie te praat van die ure wat hy op sy harp moes sit en oefen nie. Sommer so vir homself, en op ‘n goeie dag het hy albei hierdie talente van hom goed gebruik.

Het hy dan nie van Goliat ontslae geraak met sy slingervel en ‘n klip nie? En was hy nie die enigste een wat Koning Saul se humeur kon kalmeer as hy musiek gemaak het nie?

Moet nooit die waarde van self-ontwikkeling onderskat nie. Wat vir jou dalk na sommer net stokperdjies of belangstellings op die oomblik lyk, kan jou dalk nog eendag goed te staan kom. Moet ook nie geleenthede en kanse deur jou vingers laat glip nie. Dawid kon daardie oggend omgedraai het en teruggegaan het na sy skape toe, maar nee, hy het die geleentheid raakgesien om ‘n verskil te maak en die vyand te oorwin.

Hoe maklik sê ons nie “dis nie my werk nie” of “ek het niks daarmee te doen nie” en in die proses laat ons kanse by ons verbygaan om ‘n verskil te maak, selfs om ‘n oplossing te bied.

Ek wil jou vandag aanspoor om wyer te kyk, verder te dink en vir ‘n slag buite die lyne in te kleur. Stap die ekstra myl, raak betrokke en maak ‘n verskil. Jy weet nooit wie sien dit raak en maak die skaapwagter koning nie.

  • Blogger - Lynette Beer

    Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen.
    Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid”
    Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW).
    Besoek haar webwerf: www.seedsofinspiration.co.za.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.