TeamsWhoTrainTogetherStayTogether

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Mei 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 606 mense.

Ons moedig spanne al vir die laaste twee maande aan om saam te oefen vir die Warrior Race.

Ons leuse is #TeamsWhoTrainTogetherStayTogether. Spanne begin saam parkruns doen, Warrior Race experts word gekonsulteer en allerhande ander spanbou foefies word beoefen.

Hul besef nie ons gaan die spanne skommel dat hul soos milkshake in ‘n tuimeldroër lyk nie. Die spanne oefen saam, beplan saam, wees kreatief saam, gaan saam deur uitdagings. In die midde van dit sien ons hoe word vriendskappe gesmee. Die maskers kom af. Vertroue word gebou. Drome word gekoester. Yster slyp yster. Dis die mooiste gesig denkbaar.

Daar is ‘n hele familie wat ingeskryf is: pa, seun en dogter. In die titaniese stryd word hul opgedeel in verskillende spanne, maar dis so mooi om te sien hoe hul saam kompeteer, mekaar aanmoedig en deel is van iets groter as hulself. Die pa wen boonop die prys vir die persoon wat die konsep van ‘spanwerk’ beste gedemonstreer het. Ons het hom ‘n kaar peer betrap waar hy ander deur die modder sleep, langs hul kruip tot hul aan die einde van die baan is, hul aanmoedig, in hul plek hardloop wanneer hulle nie kan nie.

Dit laat my nogals baie aan ‘n huwelik dink. Dis iets wat groter as onsself is. Ons kan nie net aan onsself dink nie. Ons word mekaar se beste cheerleaders. Ons sleep, bid en praat mekaar uit die moeilike situasies in die lewe. Ons kies om te lag wanneer dinge nie uitwerk soos ons verwag het dit moes nie. Ons laat niemand agter nie. Ons vergewe vinnig. Ons leer om te dien.

Die reis gaan natuurlik ‘n leeftyd vat om te vervolmaak. Maar ons begin vandag oefen. #TeamsWhoTrainTogetherStayTogether!

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.