Sy eie vrou skryf...

by admin / Mei 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 4861 mense.

Oral waar mens draai is daar opskrifte soos “Die ander vrou sê…” of “Die ander vrou vertel…” Letterlik elke tydskryf publiseer sulke artikels.

Op sosiale media is die verdoemende kommentaar op sulke artikels selfs nog erger  – “Once a cheat always a cheat” is ‘n gunsteling.  Hierdie opskrifte ruk die rowe van die harte van derduisende “eie vroue” daarbuite af. Dalk nou tyd vir ‘n ander opskrif?  ‘n Opskrif ter wille van meer balans?   Hierdie weergawe van dieselfde ou storie sal verseker ook oordeel uitlok en afbrekende kommentaar sal volop wees, maar daar is beslis die verstaan-harte wat hierdie sal sien vir presies wat dit is – ‘n ander waarheid ook gebore uit ervaring.

Sy eie vrou is nie die koue, afsydige draak wat in die “ander vrou” se kop en artikels leef nie.  Sy was nog altyd vrygewig met haar lyf en haar respek.  Sy versorg hom en sy kinders met oorgawe.  Sy stel in sy wêreld belang… oefen saam met hom, kamp en kyk tot saam rugby.  Maar sy het ook ‘n “sexy laai” vir die aande wanneer al die kinders voor hom slaap…  Sy versorg haar hare en naels en is altyd stylvol aangetrek.  Sy laat ook nog so af en toe die koppe draai.

Sy het altyd vir hom gesê dat sy hom lief genoeg het om hom enige iets te kan vergewe want dit is inderwaarheid wat liefde is – die vermoë om alles te glo, te hoop en te verdra.  Sy is nie die dreigende, skreeuende tipe nie, nee, sy het haar man lief met ‘n rein hart.

Wat is die waarheid oor sy “eie vrou” na sy ontrouheid?   Dit verpletter haar.  Sy verstaan dit nie. Dit breek haar op meer maniere as wat ‘n mens ooit  in woorde kan beskryf.  Dit dwing haar plat op die vloer… Sy soek oor en oor die kraak, die fout wat sy gemaak het.  Sy soek  haar leeg van haarself…  Dit vul haar met ‘n ondraaglike skaamte irrelevant tot skuld.  Sy ontdek die krag van “He is close to the brokenhearted.  He rescues those whose spirits are crushed.” 

Haar pad word een van ontdekking – ‘n pad van herstel, herbou, herskep.  Dit gee haar die geleentheid om genade te bewys op een van die egste maniere denkbaar.  En dan na maande van loutere smart een oggend,besef sy dat die wond nie meer rou is nie.  Sy kry minder skaam.  Die vernedering word minder intens.  Sy kan eindelik haar kinders by die skool oplaai sonder ‘n sonbril waaragter haar trane vrylik loop. Sy is nou sterker,  mooier en beter as ooit.  Hoekom mooier?  Want smart kweek ‘n skoonheid wat jy nooit andersins kan bekom nie.

En haar huwelik?  Sy vergewe want SY is nie ontrou nie.  Sy werk hard aan haarself en sit stukkie vir stukkie van haarself en haar huwelik weer aanmekaar.  Dis soos ‘n been wat gebreek het – as jy dit mooi versorg en kans gee om te herstel, word dit sterker as wat dit eens was.  Sterker as wat dit ooit sonder die breek sou kon wees.  Haar nuwe skoonheid bekoor haar man…  Sy is soos die koffieboon.  In die moeilikste tyd van haar lewe; letterlik in die kookwater het sy haar eie geur laat uitbreek en het sy haar kookwater,  haar huwelik, verander in die heerlikste aroma wat oral om haar versprei en deur ander bewonder word.

Vir die ander vrou wil sy sê…

“Jy was baie slinks.  Jy het gekom soos die dief in die nag.  Jy het kom steel… Jy het haar verwoes.     As dit vir haar ook dag was en sy was op haar beste  – soos jy – sou jy nie ‘n kans gestaan het nie.  Jy het soos ‘n roofdier toegeslaan op ‘n tyd van vrees en onsekerheid.  Sy was besig om vir haar lewe te veg teen die groot K en jy het vir haar man geveg.  Sy was in ‘n oorlog om haar vrouwees met soveel grasie as moontlik te verloor en jy het joune as wapen gebruik.

MAAR…  Jy is nie die sterkste vrou onder die vroue nie; verseker nie die wysste nie.  Jou beeld en dit wat jy dink jy reggekry het – al jou redes en motiverings, jou raad en mening is ongevraagd;  jou opskrifte op elke tweede voorblad is totaal onvanpas.

Miskien sal jy eendag die omvang van die skade wat jy veroorsaak het besef.  Dalk sal die onbeperkte aard van die vergifnis en genade wat sy eie vrou aan jou bewys het, die herstel waarin jy vir die res van jou lewe sal moet vaskyk, die afwesigheid van bitterheid en vyandskap, jou oortuig.

Mag jy eendag die voorreg en verantwoordelikheid van só liefde ervaar – ‘n liefde wat glo, hoop en vertrou.  Mag dit waarlik jou deel wees.”

Vir haar man wil sy sê: “Ek het jou steeds lief, want die liefde bedek alles.”

Groete

Sy eie vrou

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.