Stap tog op!

by Blogger - Gerjo Ben van der Merwe / Sep 12, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 440 mense.

Ek staan nou die aand by ’n familielid se verjaarsdagvieringe. Ons manne staan eenkant en praat oor hoe goedkoop goeters in die Ooste kos.

Die een man begin sy storie en roep kliphard die Here se Naam uit en gaan opgewonde voort oor al die bargains wat hy daar gekoop het. My mond bly toe.

Selfs na die tweede en derde harde opboontoe-skree, bly my mond stewig toe. Ja, dit pla my dat die man sommer net so God se Naam uitroep. Ek weet dit is verkeerd. Ek weet dat hy my God se Naam deur die modder sleep en tog maak ek die keuse om hom nie aan te spreek nie.

So is daar nog baie voorbeelde waar ons ons rug draai en nie Jesus se dinge in ons lewe doen nie. Ons raak so verstrengel in ons eie lewe dat ons nie meer ons geloof in die onsienbare kan laat lewe nie. Ons hoor nie meer God se roepstem om uit die gewone gang van die lewe te stap en sy anderse dinge te gaan doen nie.

Ons moet tog nie die bus mis nie, want op ’n manier is ons dan die oorsaak dat die wonderwerke hier om ons opraak. God praat hard en duidelik met ons almal. Moenie vaskyk in die gewone goed om ons en dink dat Hy nie meer hier werk nie. Maak jou geloofsoë oop en weet dat die Gans Andere nog steeds hier om ons aan die werk is en dat jy deel is van sy plan.

 

  • Blogger - Gerjo Ben van der Merwe

    Gerjo Ben van der Merwe vertel dat hy ‘n jaar of wat langer op Stellenbosch was, omdat swot nie sy beste vak was nie. ‘n Roeping vir Teologie - dié het hy gehad, maar geen roeping vir predikant-word nie. Hy was daarom eers 'n boer en besigheidsman, maar nou is hy 'n teerstraatpredikant waar hy God se Woord in vandag se woorde bring. Hy en sy vrou, Renata, staan aan die stuur van www.kruispad.com. Sketse by blogs: frans@vespagetti.co.za

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.