Soene uit die oude doos

by Blogger - Marize Hayes / Jan 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 1203 mense.

Ons deurdink die lewe dikwels op verskeie maniere, ons val oor ons eie gedagtes en dan een keer op 'n blou Maandag verloor ons onsself. Jy breek van binne en hoop tog dat jy weer die moed bymekaar sal kan skraap om weer op te staan. 

Op te staan om te kan lewe, te kan lief hê, op te staan om weer te begin of net om weer te voel hoe dit voel om geliefd te wees, te hoop dat iemand jou iewers sal raak sien en te glo dat God reeds weet...  

Die liefde het jou al so seer gemaak, jy staan naak in jou menslikheid en roep na jou Goddelike held waarvoor jy skaam is, maar tog is dit jou enigste uitweg. 

Dan dink ek terug aan die onsekerheid in jou menswees die dag toe jy besluit het jy wil net iemand wees, wat iewers inpas... Jy met jou bruin oë en mooi woorde, jy wil net soen en aanbeweeg. Dan wil ek amper vra en ek snak na my asem maar..." Is ek steeds vir jou so mooi soos daardie aand..." Dis makliker so neem ek aan, om net te laat gaan, want môre is nog 'n dag. Dit wat jy liefde noem het my al baie geleer van wat liefde nie is nie. Dit het my al baie geleer van jou oppervlakkige menswees... Dit het my al baie geleer van myself...

My menswees val in stukkies as ek sien hoe jy lewe. Ek is niks beter as jy nie, maar wanneer soen jy soos God sou, waarom maak jy liefde so goedkoop en liewe mens, wanneer gaan jy sien dat jy eindelik "okay" is sonder om jouself vir een aand, of verskeie aande, te probeer vind teen die aardsheid van menslike lippe. 

Ek wens ek kon dit makliker stel as wat dit reeds is, dan onthou ek een aand in my bed... Stil, ek hoor die vrede wat binne my leef, dit weergalm teen my kamer mure, ek lê alleen en luister... die weerlig skuur teen die soen van God se liefde, ek wens vir jou 'n storie toe sonder wonder in jouself, sonder twyfel oor jou hart... Ek wens vir jou 'n Goddelike liefde in iemand, 'n opregte soen wat vir ewig sal hou, wat jy vir altyd sal voel en tot in lente van dae sal kan onthou. 

 

 

  • Blogger - Marize Hayes

    Ek is ‘n dagdroom dame, ‘n doodgewone voshaarnooi sonder enige pretensie. Ek waardeer die mooi en die seer in die lewe, want tog is dit waar kosbare oomblikke veilig weg gebêre word. Ek bly in Swellendam, die mooiste dorp in die wêreld. My hart is om liefde te gee, om lewens te verander en God met onvoordelike liefde in verwondering LIEF te hê. My skrywe is doodgewoon geïnspireer deur my Skepper.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA