So tussen die goetertjies deur

by Blogger - Toortsie / Sep 12, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 106 mense.

In ‘n tyd waar minimalisme seëvier, verkyk ek my aan al die goetertjies in die gastehuis. Dis mooi. Oorvol. Erg.

Die plek is oorversier: Dis oorvol oudhede, dis bakkies en beeldjies en skilderye en borde net waar jy kyk. Dis kristalkandelare in die vergrote trap.

Ek kan nie help om te wonder wie al hierdie goed moet skoonmaak nie. Terselfdertyd dink ek hoe verskriklik mooi dit is.

In vandag se lewe het ons nie meer sulke huise nie. Ons maak minder. Ons stal die minimum uit, want ons wil ons werk verminder. Ons is besig, besig, besig. Ons hardloop rond van die een plek na die ander en kan nie nog tyd aan onnodige huisskoonmaak ook spandeer nie.

Dan wonder ek: Is ons lewens vandag nie maar net ‘n ander manier van oorvol nie? In die ou dae het die mense hulle omring met vriende en goetertjies; vandag maak ons ons dae vol met onbenullighede. Ons jaag na wind, want ons moet alles doen. Ons mag niks mis nie. Ons kinders moet aan elke moontlike sport en ballet en musiek deelneem; hulle moet tot op die uiterste gestimuleer word en ook die heel beste wees in alles. By ons werk mag ons nie foute maak nie, want foute is duur en ook daar moet ons ook die heel beste wees.

Is dit nie maar net ‘n ander vorm van bymekaarmaak as wat die ou mense gedoen het nie? Is dit nie juis omdat ons huise nie meer ‘n veilige hawe is waar ons as gesin saam tyd spandeer nie, dat ons so jaag na alles omdat ons ‘n leegheid in ons siel ervaar nie?

Ek het nie die antwoord nie. Al wat ek weet, is dat, al is die aantal mense in die wêreld soveel meer, eensaamheid en ek-is-nie-goed-genoeg-nie gedagtes hoogty vier.

Dalk moet ons weer ons fokus verskuif?

Toortsie

  • Blogger - Toortsie

    Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man, Kobus Burger, boer in die Overberg. Madelé is betrokke by die administratiewe kant van hul gemengde boerdery.  Sy het ‘n BComm-graad en HOD aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, sowel as diplomas in Christelike Nood- en Traumaberading en Bybel- en Godsdienskunde aan die Hugenote Bybelinstituut, en ‘n sertifikaat in Vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Besoek haar blog: toortsie.com

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.