Skrop skrop na ‘n nuwe vel

by Blogger - Marlene Boonzaaier / Mar 17, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 419 mense.

Hier waar ek vandag sit en skryf besef ek ons staan alweer aan die beginpunt van ʼn nuwe seisoen.

Herfs... en ek kan eenvoudig nie glo hoe vinnig die tyd verbygegaan het nie. Net nou die dag – of so voel dit – het ons Nuwejaar gevier, en is my klein engeltjie vir die eerste keer skool toe.  Nou kan sy al lees en skryf.  Met dit daar gelaat, ʼn nuwe seisoen bring nuwe moontlikhede en vernuwing vir liggaam, siel en gees...

Hoe begin ek om my vel te vernuwe? 

Velvernuwing begin by afskilfering en gelukkig is dit nie so erg as wat dit klink nie dames, dis maar net die proses om van die dooie laag vel wat deur die somerseisoen homself so lekker tuis gemaak het ontslae te raak en die nuwe seisoen met ʼn “nuwe” vel te begin. En na ʼn goeie afskilfering kan die produkte wat jy op jou vel gebruik selfs 20 % beter penetreer wat wonderlike nuus is vir al ons vroue wat graag met ʼn gloeiende gelaat wil spog.

Waar begin ek met afskilfering? Kies eerste ʼn afskilfer produk wat by jou leefstyl sal pas. Daar is verskeie op die mark, van die soorte met korreltjies wat jy sommer vinnig in die stort kan gebruik tot die soort wat jy op jou vel verf en vir ʼn ruk moet aanhou voordat jy dit afwas,  dan is daar ook die soort wat jy kan aansit en deur die nag aanlos terwyl dit hul werk amper vanself doen... klink dit nou nie ideaal nie!

Volgende moet jy jou veltipe in ag neem, ʼn persoon met ʼn olierige vel sal meer male moet afskilfer om dieselfde resultate te kry as ʼn persoon wat ʼn droë of sensitiewe vel het.  Baie belangrik om te onthou...  moet dit nie oordoen nie,  balans is weereens die wenresep, die vel vervaardig ʼn natuurlike lagie olie elke dag om homself teen die elemente te beskerm en as jy elke dag daardie natuurlike laag gaan verwyder dan gaan die vel net meer olie vervaardig.  ʼn Goeie balans is ongeveer een tot twee maal per week.

Na die afskilfering kan jy ʼn goeie vogroom aanwend om jou vel nog meer blosend en gesond te laat lyk.

Met al hierdie nuwe inligting, hoop ek dat julle dit gaan geniet om al die “ou” velle af te skrop en die nuwe seisoen met ʼn huppel in jou stap of is dit nou ʼn huppel in jou vel aan te pak. 

LYK MOOI VOEL MOOI GROETE TOT VOLGENDE KEER

  • Blogger - Marlene Boonzaaier

    Marlene Boonzaaier het haar eie skoonheidsalon in Sasolburg. Na skool het sy 'n skoonheidskursus gevolg by die Harrieth Jane Skoonheidsakademie in Potchefstroom. Daarna het sy onder andere vir Steiner Transocean aan boord van die Veendam gewerk, waar  sy waardevolle ondervinding opgedoen in skoonheid sowel as alle spabehandelings en massering.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.