Skewe juk...druk mos vas!

by Blogger - Annali Swiegers / Oct 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 68 mense.

Ex nie ‘n boer nie...het ook nog nooit osse ingespan nie maar ek verstaan die beginsel van ‘n juk en dat die osse moet saamtrek, anders is dit ‘n dwarstrekkery!

Of skeeftrekkery!!  Is dit nie mooi nie?  Ons afrikaner taal is vir my so bitter mooi. So elke nou en dan besef ek waar kom ‘n seding eintlik vandaan en dan hou ek partytjie in my kop oor my mooie taal!   

Maar ek wil eintlik skryf van balans...ek het ‘n ding oor dit! 

Nou die dag het ek vir my Heelmaak-kind ‘n mooiding gepost oor wolwe op gesiglose boek, Dis ‘n lang storie, maar die onwaarskynlike effek wat die spul wolwe gehad het op die ekologiese sisteem waar hulle teruggeplaas was, was vir my net ongelooflik goddelik!  Die hele natuur affere het toe geskuif en beter geword. Ja, natuurlik het ‘n paar diertjies opgevreet geraak in die proses maar dis mos alles deel van die balans!  Laat my toe besef dat daar ook goed in jou lewe moet wees soos wolwe wat opvreet wat te veel is, wat terugjaag tot waar dit hoort sodat balans sy plek kan kry.

Dit bring my by die eigenlike ding wat ek besef het!  As elke ou sy ding doen, sy jop, sy kant bring, dan trek die span mos saam en die vrag is lig en gaan vorentoe? En as een te veel doen, se of ontvang, dan is dit ook skeeftrek!  Nodeloos om te se van te min...! Nog erger...as jy dit toelaat dan moet jy weet jou wa gaan sukkel om vorentoe te gaan, jou juk gaan vasdruk en die pad gaan lank en swaar word.

So, toe die vriendin anderdag by my inloop met ‘n lang en seer gesig, begin sy vertel van haar ander vriendin wat so ongeskiktelik kan wees!  Toe vra ek: ‘Wat maak jy as sy so ongeskik is?’ Sy se: ‘Ek bly maar stil, ter wille van die vrede’ En net daar weet ek, dis hoekom mens jou plek moet volstaan, al is dit net om in daardie oomblik jou wenkbrou te lig!  Hoe moet mevrou ongeskik ooit aangemoedig word om op te hou ongeskiktelik wees as almal net sjarrap?  Dis mos hoe boelies gebore word? Ek meen nou maar, as een aanmekaar op jou toon trap en jy se nie eina nie...hoe moet hy weet dis nie oukei nie!  Nie almal van ons is versigtig vir ander se tone nie! Party moet gese worre!

Dit Lewe voel vir my soos puzzle bou, elke blokkie het sy eie unieke plek.  Mens kan soms een in die verkeerde gaatjie insit, hy lyk bietjie af maar hy le reg en jy los hom.  Dan begin jy soek en soek vir ‘n ander gaatjie se blokkie!  Tot jy later agterkom die puzzle prentjie is weird. En daai blokkie wat jy al met agterdog bejeen en nerens leplek kry nie, selfs al begin wonder of hy aan ‘n ander puzzle behoort, is hoeka deel van die prentjie.  Jy moet net die verkeerde ou uithaal en dan die saak regstel. 

Dis die balans van die Lewe!  Elke wolfie op sy plekkie en die twee voorosse vat vas en trek die wa deur die drif!

  • Blogger - Annali Swiegers

    Ek is 56, woon in die Weskaap op ‘n beeldskone plaas. Lang storie...’n bottermaak storie! Baie van wat ek blog/storie gaan oor die laaste 5 jaar se Lewensdans hier op Deo Volente. My skrywery het jare gelede begin as sommer outydse dagboek houery, journal klink soveel mooier. Ek het altyd groot strikke gebind om my skryfboeke want dit was vir eie oë, eie sanity! Later het ek dapper muiserig dit vir hier en daar ‘n mens begin wys en so het ek agtergekom mense lees lekker daaraan. En soos enigiets wat mens met lekkerkry doen, het die skrywery gegroei tot waar ek dapper muis skoene aangetrek het en ‘n blog begin het!

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.