Skep net ‘n bietjie asem

by Blogger - Landie Henn / Oct 10, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 195 mense.

Die donderweer kom aangerol en met groot opwagting wag ek vir die eerste druppels om te val. Dit was ‘n droëe seisoen. Baie droog.

Na die dreuning wat mens so tart steek daardie yskoue windjie op, ‘n lafenis, ‘n hoendervleis-lekkerte want jy weet wat kom volgende. Dan daardie ongelooflike geur van reën sodra die druppels begin neerplof dat die stof so staan. Mens kyk om mens en mens sien hoe was die reën daardie klouende stof af… mens kyk om mens en mens sien alles begin glinster. Dis ongelooflik hoe alles oombliklik groener is sodra die eerste druppels val want alles wil lewe. Alles soek ‘n tweede kans om weer te probeer. Om net ‘n bietjie asem te skep.

Hierdie jaar was lank. En vir sommige van ons was dit ‘n moeilike jaar. Baie moeilik. Jy het dalk iemand verloor sonder wie jy nie wil lewe. Iemand het jou dalk teleurgestel of seergemaak. Jy het jou werk verloor of jou besigheid. Of jy is net moeg. Jou lewe voel droog en vol stof.

Maar tel jou kop op. Luister. Jou donderweer is oppad. Die seisoen draai. Hoor jy dit? Voel hoe God se teenwoordigheid oor jou waai soos daardie koue briesie. Jy is nie alleen. Jy was nooit alleen. Jy het nog ‘n kans. Skep net ‘n bietjie asem.

  • Blogger - Landie Henn

    Landie Henn is nou vir net so ‘n rapsie oor die 10jaar getroud met die liefde van haar lewe, Eduan, en het twee woelwaters, Alyssa 4jaar en Reinhardt 1jaar. As sy nie agter hulle woelwaters aanhol, bedryf sy haar eie web-en bemarkingsmaatskappy.
    Met ‘n Honneurs-graad in Teologie wou sy die wêreld ‘n beter plek maak maar dis nie tot sy haar kinders vir die eerste keer vasgehou het dat sy besef het DIS waaroor die lewe gaan. Lewe word nie gemeet aan hoeveel asemteue mens neem, maar deur die oomblikke wat jou asem wegslaan! Elke oomblik is kosbaar, moet nooit dit as vanselfsprekend aanvaar.
     

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.