Skeepswrakke op die vasteland

by Blogger - Christel Coetzee / Jun 15, 2017 / 2 Kommentaar / Gelees deur 633 mense.

Hierdie Saterdag lyk nie soos elke ander een nie! Vandag gaan ons op ‘n “Treasure Hunt” na die parkies regoor ons mooi Jakaranda stad.

Ek glo dat dit die dissipelskap is waarvoor Jesus ons elkeen geroep het – om stukkende mense lief te hê en hoop te bring in ‘n gebroke wêreld.

Ons maak kennis met Jacob! Hy glimlag verleë toe ons vra of ons saam met hom kan bid. Jacob se antwoord vang my onkant “Dagga” Hy vra dat ons tog saam met hom sal bid sodat hy kan los breek van die kettings van verslawing.

Daar lê ‘n jong man onder ‘n boom. Hy sit dadelik regop toe ons nader stap. Daar hang ‘n onsekerheid in die lug – hy vertrou ons nie. Toe ons vra waarvoor ons kan bid kom die antwoord weer “Dagga”

Daar is geen pretensies in hierdie parkie in die hartjie van ons stad nie en ek is diep aangeraak deur die noodkreet vanuit hul binneste. “Help my!” Dit is so opreg.

Nog ‘n man kruis ons pad. Sy klere is vuil en met moeite beur hy sy uitgeteerde liggaam vorentoe. Hy vra vir kos, net kos.

My vriendin se hart word so aangeraak dat sy besluit om vir hom ‘n toasted ham & cheese te gaan koop by die Dros. Die polistirine bakkie lyk skielik so belaglik. Sy gee ook vir iemand ‘n bybel en ek sien hoe sy stukkies van haar hart saam met haar liefdes-offers weggee.

Ek dink baie aan Jacob en al die ander skatte wat daardie parkie “huis” noem.

Daar is skeepswrak-harte in ons stad, hopelose hawes van seerkry. Agter elke flou glimlag is daar ‘n storie.

Jacob, vandag wil ek sê dat ek jammer is vir elke keer wat ek net verby gestap het, omdat ek nie die moed gehad het om te kyk nie. As jy kyk moet jy mos doen! Jacob, jy is nie ‘n naamlose skeepswrak op die vasteland nie. Jy is ‘n waardevolle skat en daar is geen einde aan sy liefde vir jou nie.

Mag die gety van God se liefde deur my en jou inkom vir elkeen wat daarna smag. Hoop vir ‘n gebroke wêreld – ‘n veranderde stad!

  • Blogger - Christel Coetzee

    Christel Coetzee geniet die ligter sy van die lewe, maar haar hart vind ook anker in dinge wat werklik saak maak! Sy streef ewig daarna om die perfekte balans te vind tussen vrou-wees, Ma-wees vir haar pragtige drie seuns, ‘n huweliksmaat vir haar man, Braam en haar dinamiese rol in die korporatiewe wêreld. Sy droom daarvan om regoor die wêreld te reis en om haar deel te doen om ‘n veranderde wêreld te sien.

kommentaar (2)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.