Saam met skoonma op vakansie

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Apr 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 2473 mense.

Toe ek daai vliegtuigkaartjie boek, besef ek hierdie kan of in ‘n fairytale of ‘n horror movie ontaard. Daar is geen waarborge nie! Ek hoop vir die eerste alternatief.

My pa is verlede jaar aan longkanker oorlede. My ma moes al intussen ‘n paar eerstes ontbeer. Haar eerste Kersfees sonder hom, sy eerste verjaarsdag sonder hom, en... en… en. Dis geen piekniek hierdie nie! Ons spandeer so paar dae in die Kaap en wil graag saam mamma gaan vakansie hou. Aan die anderkant is ek en manlief gewoond om alleen vakansie te hou. Nie omdat ons asosiaal is nie. Vanweë ons beroep sien ons gereeld grosse mense en herlaai op ons beste in die natuur, op die lang pad en met ons neuse in die boeke.

Ek weet wat julle dink! Julle kan nie wag vir die vonke om te begin spat nie. Ek wonder hoe my ma dit gaan vat? Ons gesels nie die heeltyd nie en ons is heel gemaklik daarmee. Ek wonder hoe my man dit gaan vat? Gaan hy gemaklik in sy eie vel voel? Jy weet mens kan nou nie sommer in jou pajamas rondloop nie. Ek wonder hoe ek dit gaan vat? Gaan ek almal gelukkig probeer hou, niks rus nie en iewers langs die pad ontplof soos die atoombom in Hirosjima? Die reperkussies van hierdie besluit staar my vierkantig in die oë.

Ons is almal verras. Niemand moor vir niemand uit nie. Niemand se gevoelens voel seergemaak nie. Ek verlang so bietjie om my man net vir myself te hê. Maar intussen, het ek die geleentheid om my man deur my ma se oë te sien. Hy verras ons met koffie in die bed. Hy bestel haar kos in die restaurant. Hy dra haar inkopie pakkies. Hy dink interessante goed uit om te doen. Hy kom haal ons met die kar as my ma se bene moeg geloop is. Hy lag vir ons simpel grappies. Sy dink hy is amazing! Deur vars oë besef ek, ek het die wonderlikste manlike spesie van sy soort getrou!

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.