Proe

by Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen / Jul 26, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 341 mense.

Ek en manlief woon die Coffee & Chocolate Expo by in Montecasino saam ‘n paar vriende.

Die kombinasies van geure en smake maak ontploffings teen my verhemelte wat strek tot by my klein toontjie.

Die opsies is legio. Die verskeidenheid nougat is ‘n meesterstuk op sy eie. Fudge en toffee in meesterlike verpakking volg kort op sy hakke. Die verskeidenheid kase, neute en olywe het ons in diep vervoering. Ek voel kompleet soos die Master Chef van Ratatouille faam. As ‘n merkwaardige koffie-snob snuffel ons die bestes onder hulle uit en steek lank genoeg vas om die nuutste koffie masjiene uit te toets. Die cappucino’s in sugarcone kry groot aftrek. Die wynproe gekombineer met ‘n Belgiese chocolatier wat die kuns van sjokolade verstaan is ‘n ewe kompeterende mede-dinger. Ons kanaliseer bekendes en vreemdes terug na die kaas stalletjie toe.

Op ‘n stadium is my verhemelte so soet, dit voel of ‘n Cadbury’s fabriek sopas oopgemaak het. Nou’t ek iets sout nodig. Ek en Anita scout gou vir opsies. Chillies!! Ons smeer van die chillie paste op ‘n koekie en hap vinnig! Genade! My tong ontplof. Ek dink rook kom by my ore uit. Ek’s lus en bel die brandweer. Nee wag, dit gaan te lank vat. Niksvermoedend stap my man op my af met ‘n goeie sterk koppie koffie. Ek dink hy sien die paniek in my oë. Ek vat ‘n groot sluk van sy koffie. Dan nog een. Dan nog een. Stadig stabiliseer my smaak-organe.

My man lyk geamuseerd. Hy sukkel om die lekker-kry van sy bakkies af te vee. ‘Voel jy beter, my skat?’ Ek knik bedeesd my kop. Vir my is dit die mooi van die huwelik. Die lewe laat jou toe om mekaar in allerhande kombinasies van situasies te ervaar. Party soet, party suur, party sout en party brand net die asem uit jou longe. Maar ongeag wat die lewe jou gooi, vind jy dikwels dat jou lewensmaat die doepa is om jou dag beter te maak. God verwys na die Heilige Gees as die Helper, die Bystand, die Vriend. Dis ook dieselfde woord wat Hy gebruik om Eva as lewensmaat vir Adam te beskryf. Ons huwelikke is dan een van die uitdrukkings waarin God Sy liefde, vriendskap en bystand in ons lewens bekend maak. God se liefde word prakties.

Daai koffie het net op die regte tyd gekom na my traumatiese chillie-belewenis. Mag ons baie oomblikke in ons dag herken om ons geliefdes God se liefde te laat proe.

  • Bloggers - Marthinus en Bianca Steffen

    Marthinus en Bianca Steffen is vir die laaste sestien jaar getroud en steeds opgewonde daaroor. Hulle sal onomwonde erken dat hul nie perfek is nie, maar dat hul beter saam is, as apart. Hulle hou van laat-aand geselsies, koffie, lees, draf, saam reis en nuwe plekkies ontdek.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.