Oor skool en oor roetine

by Blogger - Liesl Cronje / Jan 11, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 318 mense.

Die eerste skooldag van 2017. My sussie laat weet gisteraand dat haar maag ʼn bietjie draai oor haar graad-een seuntjie se eerste skooldag en my vriendin, wat ʼn oudste in matriek het, sê toe ek vra hoe dit gaan, dat sy liewers net oor ditjies en datjies wil gesels, niks dieper nie, want vir nou kan sy net oor een dag op ʼn slag dink en voel. 

Ek bekyk dié emosies en belewenisse van ʼn afstand af, want vir die eerste keer in 16 jaar, het ek geen kinders wat skool toe gaan nie.  En ek begin wonder oor my doel in die lewe en oor ʼn nuwe roetine.

My dag roetine is effens (eintlik baie) deurmekaar.  Die blou karretjie ry nie vroegoggend skool toe nie – so ek sukkel om wakker te word en daarom sukkel ek ook om te gaan draf.  Geen kosblikke is nodig om gepak te word nie, en nou raak ek honger omdat daar nie kosblik ‘snacks’ in die huis is nie. Sport of skoolklere wat verlede jaar in tasse vergeet is, hoef nie skielik gewas te word nie, daar is nie knope van baadjies wat alweer kort nie, geen skoene se sole moet vasgeplak word om nog ʼn paar maande te hou nie, haarafsprake vir hare wat oor die vakansie hand uit geruk het, of ‘inspeksie’ oor ekstra oorbelle hoef nie gedoen te word nie.  Op mý vooraand van skool is alles rustig, behalwe vir my gedagtes.  Wat doén ʼn ma nou eintlik, as haar kinders klaar is met skool? 

Ek het nog nie baie ervaring in dié ding nie, maar ek dink ʼn post-skool ma bid vreeslik baie.  Eerstens vir haar man, dat hy nie alleen sal voel omdat hy nie meer kinders moet aflaai nie, en daarom nou op sy eie moet oefen vroegoggend in die gym nie.  Vir haar kinders, dat hulle veilig sal wees, dat hulle die regte keuses sal maak, dat hulle gelukkig sal wees, dat hulle suksesvol sal wees, en dat hulle spesiale met-die-hand-uitgesoekte, huweliksmaats sal kry.  En vir haarself, dat sy weer haarself sal ontdek, wie sy is en waarvan sy regtig hou, dat sy ʼn nuwe roetine sal vind wat net die beste in haar sal uitbring, en dat sy haar passies en drome sal kan afstof en laat groei.

Ek dink ook ʼn ma met groot kinders dink baie.  Sy dink oor groot goed,  soos of sy suksesvol was as ma, of sy haar kinders alles geleer het wat sy kon en of hulle dit sal onthou.  Sy wonder of haar kinders nou te besig gaan raak om met haar te kuier en of hulle eendag sal kom inloer as hulle hul eie gesinne het.  Sy dink ook oor klein goedjies, soos wat die eerste ding is wat sy in die oggend gaan doen en oor wanneer en waar sy aandete inkopies sal kry.  Oor waar sy van nou af petrol sal ingooi en hoeveel en watter tye van die dag die beste sal wees om afsprake te maak met kliënte.  Want roetines is anders, en roetes, en inkopies, en afsprake ook. 

Miskien is skoolmammas oor te veel dinge bekommerd wat vanself uitgesorteer sal raak.  En miskien post-skool mammas ook.  Miskien moet alle ma’s maar net besef dat elke fase uniek en spesiaal is, en dat sy én haar kinders iets daaruit sal leer, sonder dat hulle te hard probeer.  Miskien moet hulle meer vertroue hê dat alles reg sal uitwerk en dat kinders dinge self kan doen. 

Ek dink ek’s reg om ʼn post-skool ma te wees, met  ʼn nuwe doel, en met ʼn nuwe roetine, wat koffie in die bed en sekere laatslaap oggende sal insluit …

Foto:  Everydaypeoplecartoons.com

  • Blogger - Liesl Cronje

    Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het.
    “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel.  Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme.co.za vir meer blogs en Instagram: ThymeforStories.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA