Oor hoop

by Blogger - Liesl Cronje / Oct 13, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 86 mense.

Oktober, die mooiste mooiste maand.  Borskanker bewustheidsmaand.

Rose ontmoet my.  Sy lyk soos haar naam en alles binne die skanderingskamer.  Ek kan ‘n strikkie kies uit verskillende skakerings van pienk.  Ek kies donkerpienk – meer bold – vir dapperheid.

Ek weet ek moet elke jaar kom maar daar val altyd iets voor.  “Familie geskiedenis van borskanker”?  Ek knik, my ma weet hoe dit voel.  My oog vang die Fair Lady langs die stoel, ‘n wit plakker bo-op, Please don’t remove.

Rose is geduldig en sy praat mooi.  Sy sien elke dag onsekerheid en pyn, dalk vrees.  Hoop.  Sy werk sag maar die masjien is hard.  Haar hande is warm, my kaal voete op die vloer is koud.  Draai regs, draai links, haal asem, moenie asemhaal nie. Lê plat.  Please don’t remove.  James Blunt sing:  “You’re beautiful, you’re beautiful, you’re beautiful, it’s true”.

Sy kom sit langs my op die bankie.  “Dokter vra dat jy ASSEBLIEF elke jaar sal kom”.  Ek kyk na die pienk praktyk presentjie op my skoot.  For the girls sê dit voorop, ‘n ‘hoopstrikkie’ langsaan.  ‘n Paar jaar terug het ek ‘n waterbottel gekry.  Daar was niks voorop nie, ek het nie ‘n strikkie gekry nie.

Hoop. 

In Oktober, die mooiste mooiste maand …

 

  • Blogger - Liesl Cronje

    Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het.
    “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel.  Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme.co.za vir meer blogs en Instagram: ThymeforStories.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.