Oor die waarheid

by Blogger - Liesl Cronje / Oct 09, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 308 mense.

Vandag voel ek nie soos die skerpste potlood in die pakkie nie.

Ek woon ‘n werkswinkel by waarvan ek nie alles verstaan nie, toevallig by ‘n plek waar ek wou werk maar nie gekies is as die beste kandidaat nie.   Ek begin ingedagte met ‘n tweede persoon praat terwyl die eerste persoon nog nie klaar is met sy storie aan my nie en mense wat gewoonlik vir mý vrae vra kies nou ander uit vir slimmer antwoorde. In die oefenklas sukkel ek met handstane en ander vreemde onderstebo oefeninge en die ander daar kry alles reg.   Ek vergeet om ‘n gaatjie in my dagboek te los vir ‘n afspraak met my man. My e-posse is agter en my huis deurmekaar.  Ek voel dom en glad nie goed genoeg vir hierdie lewe nie.   Almal is beter as ek, en meer gewild.

Maar toe sê iemand:  God het die hemel en die aarde en alles daarop gemaak en hy het gesê, dit is goed.  Leonard Sweet verduidelik dit so:  Hy sê goed word ook vertaal as skoonheid, goedheid en waarheid.  Met ander woorde, God het nadat Hy alles geskape het gesê:  “Dit is mooi, dit is goed en dit is die waarheid.  Leonard sê verder:  “Stop doing someone else, you are uniquely original, never to be repeated, you”.  En dit beteken mos ek is net ek.  Wat slim is met party dinge en minder met ander.  Wat eerder werk op plekke waar ek perfek pas en wat partykeer beter luister as ander kere.  Wat soms moet raad gee en ander kere nie en wat my bolyf plat op my knieë kan neersit maar nie op my hande kan staan nie.  Wat my man se afspraak in my dagboek vergeet, maar nooit sy plek in my hart nie.  En wat op die ou einde alles doen en alles antwoord, net nie dadelik nie. 

Ons hoef nie die skerpste potlood in die pakkie te wees nie, want party is net skerp en ander het kleur.  Uniek oorspronklik.  Mooi en goed en dit is die waarheid.

Foto van:  excellenceassured.com

  • Blogger - Liesl Cronje

    Liesl is 'n lewens-en besigheids coach vir vrouens en glo dat elke vrou 'n baie spesiale storie het.
    “Ek vertel stories oor die lewe, vanuit 'n ander hoek. My besighede, Thyme2B & Thyme Events is geïnspireer deur my liefde vir kruie en veral Tiemie. Tiemie beteken courage en die oorspronklike betekenis daarvan is, om die storie van wie jy is met jou hele hart te vertel.  Daarom leer ek graag ander vrouens hoe om hulle stories te omvou en met hulle hele hart te vertel.” Liesl is getroud met Pierre en het drie jong volwasse kinders. Kyk ook by www.thyme.co.za vir meer blogs en Instagram: ThymeforStories.

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.