Oor die bose

by Blogger - Gerjo Ben van der Merwe / Feb 14, 2017 / 0 Kommentaar / Gelees deur 880 mense.

Wanneer ’n mens by die onderwerp van die duiwel kom, moet jy versigtig wees. Sonder om hom enige eer te gee, moet ons besef dat hy ’n werklikheid is en vandag nog sy staal probeer wys.

Op universiteit moes ek ’n werkstuk oor die bose inhandig. In die tyd dat ek daaraan gewerk het, het ek gedurig ongemaklik gevoel. Ek het besef dat ek direk by ’n geestelike oorlog betrokke was. Dit was later so erg dat ek wou tou opgooi en ’n ander onderwerp kies. Toe ek die werkstuk ingee, het die vrede weer oor my gedaal.

Die duiwel is oorwin, maar nie uit die weg nie. Hy probeer vandag nog veld wen en sal alles probeer om mense van God af weg te rokkel. Dit is ook moontlik dat ons die duiwel uitnooi om in ons te kom woon, sonder dat ons dit besef. Nou praat ek nie van duiwelsaanbidding nie, nee, ek praat van speletjies waardeur ’n mens die deur van jou lewe vir ’n bose gees kan oopmaak, soos glasie-glasie speel of geeste oproep.

Soos die Engelsman sê: Satan is kicking, alive and well. Vandag nog.

In Jesus se tyd was dit ook so. Mense het na Hom toe gehardloop en op Hom geskree en gevloek, maar Jesus het presies geweet hoe om dit te hanteer. Hy was nie bang nie, want Hy het geweet satan se angel was aan die uitskeur. Lukas 41Wanneer hierdie duiwels die mense verlaat het, het hulle hard geskree: “U is die Seun van God, U is die Seun van God!”

Kom ons dank God dat Hy die bose oorwin het en dat ons aan die wenkant staan. Kom ons maak erns met ons verhouding met God en erken elke oomblik dat Jesus die Seun van God is. Kom ons basuin sy Naam oor die hele wêreld uit. Kom ons maak ’n punt daarvan om nie na programme te kyk of speletjies te speel wat God nie sal goedkeur nie.

 

  • Blogger - Gerjo Ben van der Merwe

    Gerjo Ben van der Merwe vertel dat hy ‘n jaar of wat langer op Stellenbosch was, omdat swot nie sy beste vak was nie. ‘n Roeping vir Teologie - dié het hy gehad, maar geen roeping vir predikant-word nie. Hy was daarom eers 'n boer en besigheidsman, maar nou is hy 'n teerstraatpredikant waar hy God se Woord in vandag se woorde bring. Hy en sy vrou, Renata, staan aan die stuur van www.kruispad.com. Sketse by blogs: frans@vespagetti.co.za

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.